in ,

Fnuik jakkals se kind só, sê kenner

Rooijakkalse wat probleme veroorsaak word snags met die roep-en-skiet metode beheer. Foto: Simon Hurry, unsplash.com

This post is also available in: English

deur Tisha Steyn

Bedreigings kom van alle kante af op die boer afgestorm en roofdierskade is nie die minste van hierdie aansprake op die boer se inkomste nie.

Niël Viljoen het die afgelope dertien jaar landwyd navorsing oor die bestuur van probleemroofdiere gedoen. Sy verslag daaroor is vroeër vanjaar bekendgestel.

Agtergrond

Niël is in die Karoo gebore en getoë en as veeboer weet hy van roofdiere wat nie by ՚n Karoolam sal verbyloop as hulle honger is nie. Hy het reeds in 1991 op sy Karooplaas begin navorsing doen om vas te stel hoe hy deur bestuurstrategieë volhoubaar en winsgewend met vee kan boer ten spyte van die honger ongediertes. Sy uitgangspunt is dat jy moet weet hoe jakkalse en rooikatte se koppe werk voor jy hulle kan bestuur.

Die rooijakkals is uitgeslape en ‘n moeilike kalant om te
beheer, tensy jy ‘n veelvuldige aanslag volg.

Moniteringsplase

In 2008 het Niël, wat toe reeds bekendheid as probleemdierkenner verwerf het, Predation Management SA gestig. Hy het by die Nasionale Wol-kwekersvereniging (NWKV) as “predasiespesialis” (roofdierspesialis) begin werk met die doel om intensief navor-sing te doen oor maniere om veeverliese weens roofdiere te probeer beperk. In 2009 het hy sy navorsing na die res van die land uitgebrei.

Met die ondersteuning van die NWKV het hy 27 plase in verskillende gebiede in ses provinsies geïdentifiseer as platform vir navorsing. Die plase beslaan ՚n gebied van altesaam 136 214 ha en is in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap, Mpumalanga, KwaZulu-Natal en die Vrystaat geleë.

Die doel van die projek is om boere te help om veeverliese te voorkom deur eerstens die kudde ten beste te bestuur om die maksimum aantal lammers groot te kry. As roofdiere steeds ՚n probleem is, word hul getalle met ՚n verskeidenheid metodes bekamp.

 Dramatiese afname

Toe Niël se navorsing op hierdie plase in alle erns begin het, het hy gevind dat veeverliese weens roofdiere in 2008 altesaam 3 320 beloop het. Oor ՚n tydperk van dertien jaar, tot in 2020, het die verliese afgeneem tot 1 133 – ՚n afname van 65,9%. In 2008 is 261 roofdiere wat probleme veroorsaak het, vankant gemaak. Die getal het tot 578 in 2020 toegeneem – ՚n toename van 121,5%.

Dit beteken nie dat jakkalse en rooikatte voor die voet verwyder is nie, maar slegs die wat voortdurend veeverliese veroorsaak het. “Jakkalse is slim en kom gou agter dit is maklik om lammers te vang wat in ՚n klein gebied gehou word. Wanneer hulle in groepe jag, is dit vir hulle ook maklik om byvoorbeeld ՚n Anatoliese herdershond te uitoorlê.”

Niël skryf die afname in veeverliese toe aan die beheer van roofdiergetalle, maar beslis ook die beter bestuur van kuddes. Dit is vir die boer noodsaaklik dat elke lam wat in ՚n aftasting wys, gespeen moet word.

Geïntegreerde bestuurstelsel

Die verandering het nie sommer oor­nag gebeur nie – Niël het letterlik jare lank met ՚n geïntegreerde bestuurstel­sel ge-eksperimenteer.

Daar is veral gefokus op die beveiliging van ooie en lammers in lamtyd met behulp van jakkalswerende en geëlektrifiseerde heinings om die lam­kampe. Terselfdertyd is die roofdiere deur middel van verskillende dodelike en nie-dodelike metodes bestuur.

Die rooikat is naas die rooijakkals veeboere se grootste roofdierprobleem.

Drie fases

Die bestuurstelsel het in drie fases ontwikkel. Aanvanklik is in die eerste fase sterk gefokus op die verwydering van diere wat probleme veroorsaak, veral met die roep-en-skiet metode, maar daar is bevind dat die metode al­leen nie doeltreffend genoeg is nie.

Tydens die tweede fase is besluit om op kuddebestuur te fokus en met die insette van die boere is besluit om veral tydens lamtyd die ooie en lammers met elektriese heinings te beveilig.

Gedurende die twee jaar waartydens die heinings opgerig is, het die roofdiere steeds koning gekraai. Selfs nadat van die heinings in plek was, het die uitgeslape roofdiere bloot hulle kos gaan haal waar hulle die lammers steeds kon bykom.

Die jakkalse en rooikatte het so astrant geraak dat hulle selfs helder oordag in die omgewing van die skape opgemerk is. ՚n Mens moet in gedagte hou dat landwye droogtes ՚n rol kon gespeel het omdat daar minder natuur­like kos in die veld beskikbaar was.

In fase drie is die fokus teruggeskuif na roofdierbestuur, maar slegs diere wat herhaaldelik skade aanrig, is verwyder. Die afgelope vyf jaar was veeverliese weens roofdiere beperk tot 1,7% en Niël skryf dit toe aan die toewyding van die rolspelers in die bedryf met betrekking tot opleiding en samewerking.

Elektriese omheinings rondom veral lamkampe hou die probleemdiere weg van lammers, mits die heinings gereeld nagegaan word.

Bevrugting versus speenpersentasie

In 2008 was die speenpersentasie 75,3%. Dit het in 2020 tot 91,7% toegeneem. “Die speenpersentasie is nog nie perfek nie, maar in samewer-king met die boere en werkers is beslis goeie vordering gemaak,” sê Niël. Speenpersentasie verwys na die aantal lammers wat grootword sodat hulle kommersieel bemark of as vervangings-ooie gebruik kan word.

In 2016 was die speenpersentasie vir die eerste keer hoër as die bevrugting­syfer, wat dit duidelik gemaak het dat die benadering van die kudde én roofdiere vrugte afwerp. Die tendens duur voort en volgens Niël kan boere nou begin kyk na die verbetering van die kuddes deur onder meer die bevrugtingsyfer verder te verhoog.

Die gemiddelde bevrugtingsyfer vir al 27 plase oor die tydperk van dertien jaar was 89%, wat heeltemal na wense is, veral inaggenome dat kunsmatige en laparoskopiese inseminasie naas natuurlike paring gebruik word.

Die lampersentasie oor dieselfde tydperk was 96%. Die hoër syfer kan toegeskryf word aan die meerlinge (twee- en drielinge) wat gebore is.

Die gemiddelde speenpersentasie van 83%, wat 6% onder die bevrug-tingsyfer is, is egter steeds nie na wense nie. Dit kan aan verskillende faktore toegeskryf word. Jakkalse en rooikatte is kieskeurig en verkies om lammers te vang (87%), eerder as ooie (13%). Ander faktore sluit droogte, vloede, koue, brand en veediefstal in.

Die dramatiese verbetering in speenpersentasie kan toegeskryf word aan die groter getal probleemjakkalse en -rooikatte wat uitgeskakel is.

In 2008 is 261 skadeveroorsakende roofdiere verwyder en in 2020 578, wat ՚n toename van 122% is. Die aantal het sedertdien op sowat 520 per jaar gestabiliseer. Die toename in speen­persentasie het vanselfsprekend met koste gepaard gegaan, maar die hei-nings en halsbande kan as ՚n belegging vir die toekoms beskou word.

Kennis is mag

“Roofdierbestuur gaan nie daaroor dat alle roofdiere voor die voet vankant ge­maak word nie,” beklemtoon Niël. “Dit gaan oor die bestuur en beheer van hierdie diere, eerstens deur kuddebestuur. As dit nie anders kan nie, moet balhorige jakkalse en rooikatte bestuur word.”

Vir ՚n suksesvolle lamseisoen moet die heinings in plek wees en daagliks nagegaan word. Die bevindings moet opgeteken word sodat die bestuurstel­sel geëvalueer kan word. Suksesvolle roofdierbeheer sluit kennis in van die probleemdier se biologie, habitat, vang- en vreetgewoontes, asook voorkomende maatreëls en ver­wyderingsmetodes.

Voortgesette evaluering van die stelsel is ook belangrik.

Boere moet voldoende ken­nis van alle moontlike beheer- en bestuursmetodes inwin en eks­perimenteer met die verskillende metodes om die diere te beheer ten einde uit te vind wat die beste vir elkeen se omstandighede werk. Hou in gedagte dat die roofdiere aanpas en ‘slim’ raak, sodat ՚n herhalende bestuursmetode dalk maklik omseil gaan word. Dit help dus om elke nou en dan ՚n ander benadering te volg.

Niël meen die sukses van ՚n kon­trolemetode hang af van die boer se bestuursvermoë en aanpasbaarheid. Hy moet verstaan dat dit wat van­dag werk, dalk môre nie meer van toepassing is nie, want die roofdiere se aanpasbaarheid by veranderende omstandighede is die sleutel tot hulle oorlewing.

Drielinglammers: Die ideaal is dat elke ooi meerlinge in die lewe
bring, want dit verhoog die winsgewendheid van die veeboerdery. Foto: Annemarie Carsten, Laastedrif Boerdery.

Bestuursmetodes

Voorkoming is die beste, maar dit moet saam met bestuursmetodes gebruik word. Nie-dodelike metodes bestaan uit kraagbande wat die jakkals afskrik, asook geïnstalleerde ligte, klokke of sirenes. Sommige halsbande beskerm die skaap se keel teen roofdier se slagtande. Naas ՚n menslike skaapwagter, word honde, donkies en alpakkas wat saam met die kuddes loop, ingespan om die roofdiere weg te hou. Jakkalswerende en elektriese heinings en ՚n kraal hou die skape veilig binne.

Dodelike metodes sluit giftige hals­bande en jag met die roep-en-skiet metode, honde en vanuit helikopters in. Sagte slagysters en vanghokke wat daagliks nageloop word, kan ook gebruik word.

Opleiding en navorsing

Volgehoue opleiding van boere en hulle werkers is noodsaaklik, nie net om die probleemdiere te identifiseer en te bestuur nie, maar ook ter wille van biodiversiteit.

Die plase is ՚n forum vir voortgesette navorsing. Boere moet veral voort­durend op hoogte gehou word van gedragsveranderings van die jakkalse sodat die bestuursprogram aangepas kan word.

Wye belangstelling

Volgens Niël het die sukses van die monitorplase nou ook interna­sionaal aandag getrek. Naas die NWKA, word sy werk onder­skryf deur die Suid-Afrikaanse Sybokhaarkwekersvereniging (SASKV), die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO), die Predation Management Forum (PMSA) en Wildlife Ranching South Africa (WRSA).

Niël het meer as 10 000 mense regoor Suid-Afrika opgelei en hy tree as konsultant op in onder meer Argentinië, die VSA en Australië. Hy tree ook op as adviseur en lektor vir plaaslike boerderygemeenskappe, land­bouskole, universiteite en ander organisasies wat hulp soek met vee- en roofdierbestuur.

Kontak Niël Viljoen by nielvil­joen@gmail.com of 082-381-8227, of besoek sy webtuiste by https://nielviljoen.co.za.

Verwysing

https://www.pmfsa.co.za/imag­es/newsletters/Niel_Viljoen.pdf

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Finaliste in die Santam Landbou Nasionale Kuilvoerkompetisie 2021

MPO: Voorspoed vorentoe