in ,

Wurms: Hulle beheer moet goed beplan word!

deur dr Faffa Malan

Goeie beheer van interne parasiete sorg vir gesonde skape

This post is also available in: Afrikaans

Het jy al ooit daaraan gedink dat wurms deel van die skepping is? Ek het al baie gewonder of hulle enige nut het. Een ding is seker, en dit is dat as hulle hulle gashere almal sou doodmaak, dan sou hulle saam met hulle gashere uitsterf. Deur die eeue heen het hulle egter só saam met hulle gashere geleef dat dit nie gebeur het nie.

Wat my nog meer oor hierdie onderwerp laat dink het, is toe ek saam met my mentors, professors Reinecke en Horak, in die Nasionale Krugerwildtuin die inwendige en uitwendige parasiete van sebras bestudeer het. Van die diere het tot 124-miljoen wurms in hulle gehad en ten spyte daarvan was hulle spekvet.

Deur eeue se seleksie het die dier en parasiet “ooreengekom” dat hulle saam gaan lewe. Sebras en ander diere in die wildtuin wat wel fisies deur parasiete benadeel en verswak is, word deur roofdiere uit die ekosisteem verwyder. Vanuit hierdie waarneming is die FAMACHA- en Vyfpuntplan ontwikkel – wat deur boere wêreldwyd toegepas word. Die beginsel is dat diere wat meer as hulle eweknieë in ʼn boerderystelsel aangetas word, uit die stelsel verwyder word.

Hoe weet ons dat diere deur inwendige parasiete aangetas word? Alle diere is in ʼn mindere of meerdere mate deur wurms besmet, maar elke dier sal anders aangetas word en dit word bepaal deur hulle genetiese samestelling. Party is hoogs vatbaar, terwyl ander aangepas is om saam met die parasiet te lewe of selfs weerstandig teen besmetting te wees. Aangesien ons slegs een inwendige parasiet met die oog in ʼn lewende dier kan sien (lintwurmsegmente in die mis), moet ons ander metodes gebruik om afleidings te maak dat diere wel deur inwendige parasiete aangetas is.

Die Vyfpuntplan

Omdat skape en jong diere meer vatbaar vir inwendige parasiete is, word die tekens van inwendigeparasietbesmetting, soos wat in skape gesien word, hier bespreek.

  1. Beskou die neusarea van die skaap. Nie net word parasietbesmettings waargeneem nie, maar ook ander toestande, soos neusvlieglarwebesmetting, bloutong, longontsteking, vuilbek en irriterende reuke soos ammoniak in krale en skure.
  2. Die kleur van die oogslymvliese word gemeet aan die hand van ʼn FAMACHA-kaart. Anemie (bloedarmoede) ontstaan as gevolg van ʼn haarwurm-, haakwurm-, grootbekwurm-, lewer- en peervormigeslakwurm-besmetting.
  3. Kwakkeel ontstaan weens ‘n proteïentekort en is veral teenwoordig tydens ՚n haarwurm-, lewer- en peervormigeslakwurm-besmetting.
  4. Kondisietelling of weeg van skape om groei of gewigsverlies te bepaal. Voorbeelde van parasietbesmettings wat gewigsverlies veroorsaak is bruinmaagwurm, bankrotwurm, langnekbankrotwurm, witbankrotwurm, knoppieswurm, grootbekwurm, sambokwurm, peervormige slakwurm en lintwurms.
  5. Diarree word byvoorbeeld deur die volgende inwendige parasiete veroorsaak: bruinmaagwurm, maagbankrotwurm, langnekbankrotwurm, witbankrotwurm, knoppieswurm, grootbekwurm, sambokwurm, peervomige maagslakwurm, lintwurm, asook deur die protosoïese parasiete koksidia en Cryptosporidium.

Nog ʼn manier om vas te stel of inwendige parasiete teenwoordig is, is om miseiertellings van diere te doen. Slegs opgeleide persone sal van die eiertjies onder ʼn mikroskoop kan identifiseer. Deur ʼn miskultuur te maak kan wel vasgestel word watter parasiete teenwoordig is. Daar moet ook in ag geneem word dat sekere wurmsoorte baie eiers lê (byvoorbeeld haarwurmwyfies wat 5 000 eiers per dag kan lê), terwyl ʼn langnekbankrotwurmwyfie ongeveer 50 eiers per dag lê. As daar geen eiers gevind word nie, beteken dit nie dat geen wurms teenwoordig is nie; die wurms mag nog in die onvolwasse stadium wees. ʼn Voorbeeld is dat haarwurm se lewensiklus 21 dae is, met ander woorde dit neem ongeveer 21 dae vanaf die dag van besmetting totdat eiertjies in die mis uitgeskei word. Wurmbeheer moet tot ʼn fyn kuns ontwikkel word!

ʼn Paar belangrike beginsels word hier onder weergegee.

  • Elke plaas is uniek. Vind dus uit watter soort parasiete kom op die weiding voor, watter tyd van die jaar en waar is die mees besmette kampe op die plaas.
  • Elke parasietsoort het sekere vereistes nodig om uit die eiertjies te broei, tot die besmetlike larwestadium te ontwikkel en op die weiding te oorleef, byvoorbeeld reënval, besproeing en temperatuur.
  • Die kliniese tekens van wurmbesmetting moet uitgeken kan word, soos hierbo uiteengesit.
  • Neem kennis van die verskillende wurmmiddelgroepe om parasiete te beheer. Deur ʼn miseiertellingreduksietoets te doen (METRED) kan vasgestel word of ʼn wurmmiddel die parasietlading beheer. Tellings word voor en na behandeling van ʼn groep gemerkte skape geneem. Bespreek die toets met jou veearts.
  • Evalueer na elke dosering ʼn groep van 10 tot 20 skape om vas te stel of die behandeling effektief was. As die probleem byvoorbeeld haarwurm was, moet die oogslymvliese rooier word, kwakkele moet verdwyn en met bankrotwurms moet die diarree ophou en skape moet gewig optel.

Wurmmiddelgroepe

Op elke kan kom die kodenommer voor.

  • Ingevolge Wet 36 van 1947 word die volgende eise vir ʼn rondewurmmiddel toegeken: “Beheer”: Meer as 90% effektief teen ʼn middelvatbare wurmspesie, tensy effektiwiteit ook teen ʼn spesifieke weerstandige wurmstam bewys is. “Behulpsaam in die beheer van”: 60 tot 89% effektief teen ՚n vatbare wurmspesie, tensy effektiwiteit ook teen ʼn spesifieke weerstandige wurmstam bewys is.
  • Weerstand ontwikkel teen wurmmidddels wanneer middels onoordeelkundig gebruik word, byvoorbeeld wanneer die middel onderdoseer word. Dit gebeur wanneer diere se massas nie korrek bepaal word nie en te min van die middel doseer word. Ongeveer 3% van die wurmlading is in die dier terwyl 97% op die weiding is (eiertjies en vrylewende larwes). Hierdie vrylewende stadia noem ons die refugia. Wanneer doseer word, moet altyd gesorg word dat wurms wat in die dier oorbly (weerstandiges) deur “vatbare” refugia op die weiding verdun kan word. Moet dus nooit behandel en diere na ʼn “skoon” kamp skuif waar geen refugia teenwoordig is nie. Deur middels te gereeld te gebruik, word al die vatbare wurms doodgemaak en sit ons naderhand met ʼn weerstandige wurmbevolking.
  • ʼn Stelsel is ontwikkel wat DSD (Doelgerigte Selektiewe Dosering) of TST (“Target Selected Treatment”) genoem word. Slegs diere wat dit nodig het word met ՚n middel wat op die plaas getoets is gedoseer om wurms te beheer. Hierdie diere word uitgeskot as hulle weer tekens van wurmbesmetting toon.
  • Die middel, STARTECT®, wat derkwantel (groep 10) en abamektien (groep 1) bevat, is die ideale kombinasie om vir DSD te gebruik deurdat die spiroïndoolgroep eers onlangs op die mark verskyn het en die middel nog nie oorgebruik is nie.
  • STARTECT® word ook aanbeveel as ʼn kwarantyndosering wanneer diere aangekoop word. Maak net seker dat skape dan in die mees besmette kamp, waar baie refugia teenwoordig is, geplaas word na dosering.
  • STARTECT® kan ook as ՚n einddosering gebruik word wanneer skape vetgevoer word vir slagting (14 dae vleisontrekkingsperiode).

Werk saam met jou veearts om ʼn plan uit te werk wat vir jou boerdery aangepas is. Onthou dat wurmbeheer dinamies is en wissel na gelang van die seisoen, verskillende plase, ensovoorts. ʼn Nuttige webblad om te besoek is www.wormx.info

Artikel geskryf deur dr Faffa Malan. Dr Malan is ʼn onafhanklike veearts en het geen verbintenis met enige produk of maatskappy wat dalk in hierdie artikel genoem word nie. Startect: Registrasienommer: G3889 (Wet 36/1947) Bevat Derquantel 10mg/ml (1% m/v), abamektien 1 mg/ml (0,1% m/v). Verwysingsnommer: Faffa/worms/8/2017

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Jannie se hark sal hou!

ProAgri 218