in

Waterbelasting-kan-voedselproduksie-knou

Die Departement van Waterwese het ’n skuldinvorderaar, New Integrated Credit Solutions (NICS), aangestel om “agterstallige” waterskuld by boere te verhaal, sê TLU SA Noordstreek in ‘n verklaring.
 
Hierdie skuld is slegs van toepassing op die CMA (Catchment Management Agency), oftewel Opvangsgebied Bestuursagentskappe, se heffing.  Dit geld alleenlik vir geregistreerde verbruikers, met ander woorde besproeiers, voerkrale, myne en munisipaliteite. Dis ook nie ‘n rekening vir water deur Staatswaterskemas gelewer nie.
 
Gedurende die jaar 2000 moes alle verbruikers hulle wettige gebruik tot en met 1998 registreer met die oog op die inwerkingstelling van die nuwe Waterwet. TLU SA Noord het destyds deelgeneem aan hierdie proses om wettige gebruik van water te bevestig nadat die Departement Waterwese die versekering gegee het dat die proses nie daartoe gaan lei dat boere voortaan sal moet betaal vir water wat hulle uit privaat ontwikkelde bronne onttrek nie. Tydens die registrasieproses het lede ook ‘n dokument ingedien ter bevestiging van hul reg op vrye toegang tot privaat ontwikkelde bronne.

Mnr Dries Joubert, voorsitter: Kommunikasie Noordstreek sê die nuwe Waterwet maak voorsiening vir ’n waterbronbestuursheffing met die voorbehoud dat dit aangewend sal word om die waterbronne te beskerm en te bestuur binne die gebied waar dit gehef word. Hy sê verbruikers is nie onwillig om so ’n heffing te betaal nie, maar wel met sekere voorbehoude.

Daar moet onderhandel word oor dienste waaraan hulle ‘n behoefte het, tariewe en kwaliteitstandaarde moet ooreengekom word en die verhoging in tariefaanpassings moet vooraf binne sekere perke vasgestel word. Sou die reeds uitgereikte rekenings nou betaal word, gee watergebruikers erkenning aan die staat se eensydige onteiening van hulle regte sonder enige vergoeding.

Mnr Joubert sê tot dusver het alle versoeke om inligting ten opsigte van dienste gelewer deur Departement Waterwese te bekom, op dowe ore geval. Die enigste afleiding wat gemaak kan word, is dat daar tot nog toe geen waterbron bestuursdienste gelewer is nie. Bykans geen besoedelingsbeheer word toegepas nie. Byna elke munisipaliteit in die noorde laat rou riool in die omliggende spruite vry en hierdie besmette water beland weer in die bronne waarmee voedselgewasse besproei word. 

Hy sê dis ongelukkig wel waar dat die CMA spandering aan reis, verblyf en etes astronomiese bedrae beloop en dat hulle dit nou van die watergebruikers probeer verhaal.

TLU SA Noord het ’n skrywe aan NICS gerig met die versoek dat alle aksies teen sy lede onmiddellik gestaak word.  Alle lede word aangeraai om die proforma brief te voltooi en dit so spoedig moontlik per e-pos, faks en/of geregistreerde pos aan NICS te stuur.
 
Watergebruikers wat nie lede van TLU SA is nie, kan ook met hulle naaste Distrikslandbou-unie-kantoor skakel vir meer inligting in hierdie verband.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Die-redes-vir-die-rooivleisprys

Droogte knou koringaanplantings in sekere streke