in

Wat sal ons sonder pekelwaterhoender doen?

Die debat oor hoender wat met gepekelde water gevries word en dan in dié vorm aan die verbruiker verkoop word, het vele kante en die saak is op die spits gedryf met die aanpassing van wetgewing wat op die bedryf van toepassing is.  

Volgens die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging is die onlangse aanpassing van die pluimvee-pekelwetgewing nie net broodnodig nie, maar word oor die algemeen deur hulle verwelkom. In die onlangse voorstel deur die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye (DAFF) blyk daar egter ‘n aantal onbedoelde foute te wees wat moontlike negatiewe gevolge vir die plaaslike verbruikers kan inhou. 

Kevin Lovell, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Pluimveevereniging (SAPV), sê dat die bedryf die standpunt huldig dat die pekelwetgewing omvattend en tegnies korrek moet wees. 

"Ongelukkig voel ons dat die pekelwetgewing soos deur die DAFF voorgestel is, nóg omvattend genoeg, nóg tegnies korrek is, en ons wil saam met die departement werk om die foute so gou as moontlik reg te stel," sê hy. Volgens hom was die tekort aan wetgewing vir die pekel van hoenderporsies ‘n ernstige probleem en die plaaslike pluimveebedryf sien uit na die bekendstelling van regulasies vir snelbevrore snitte (IQF). 

"Ons bly egter bekommerd dat die DAFF nog nie die ekonomiese gevolge van huidige pekelpraktyke gekontekstualiseer het nie, want verbruikers trek eintlik voordeel uit die wyse en vlakke waarop pluimvee, veral snelbevrore snitte, tans gepekel word, "sê hy. "Inderwaarheid is die kleinhandelpryse van gepekelde hoender ver onder dié van vars hoender. Wanneer die pekel, wat meestal uit sout en water bestaan, van die res geskei en die res geweeg word, werk dit baie goedkoper per Rand uit as die vars produk.” 

Een van die redes hiervoor, sê hy, is omdat die hoender, veral vinnig-bevrore hoender, ‘n hoë-aanvraag item is, met pluimvee wat meer as 60% van Suid-Afrikaners se dierlike proteïene uitmaak. 

"Supermarkte en ander voedselkleinhandelaars is deeglik bewus van die markaanvraag, en verkoop dikwels hoender- en pluimvee-produkte teen ‘n lae winsgrens," sê hy. "Die byvoeging van pekel verdun eintlik die produk, wat dit moontlik maak dat produsente die item vir minder aan die handelaar kan verkoop. Op die winkelrak word die produk dan vir baie goedkoop teen mededingende pryse van die hand gesit om verbruikers na die winkel te lok. Dus is die risiko verbonde aan die regulasies soos voorgestel deur die DAFF, dat hoender minder bekostigbaar vir die gemiddelde Suid-Afrikaner sal wees." 

Lovell voeg by dat hy nie glo dat verbruikersaktiviste werklik die mening van die mense wat hulle voorgee om te verteenwoordig, weerspieël nie, veral wanneer daar beskuldigings rongeslinger word dat die sout wat in die pekelmengsel ‘n sogenaamde gevaar vir verbruikers se gesondheid inhou. 

"Sout is ‘n integrale deel van die menslike dieet en is noodsaaklik vir goeie gesondheid. Dit is ook die moeite werd om daarop te let dat as die sout nie by die pekel gevoeg word nie, mense dit in elk geval sal byvoeg terwyl dit gekook word, of by die tafel wanneer dit geëet word." 

Hy voeg by dat terwyl gepekelde hoender uitgesonder word as ‘n moontlike risiko vir die verbruiker se gesondheid, hou supermarkte honderde alledaagse items aan wat pekel of sout bevat, en vinnig-bevrore hoender is in werklikheid ‘n medium-soutproduk. 

"Spek, ingemaakte vis soos tuna, vleis en speserye – die lys is eindeloos," sê hy, en voeg by dat die uiteindelike toets of gepekelde produkte vir verbruikers aanvaarbaar is, in die verkope lê. 

"Gepekelde vinnig-bevrore hoender bly die pluimveeproduk wat die meeste Suid-Afrikaners in volume koop. As hulle nie die smaak of waarde insien nie, sal hulle eenvoudig ophou om dit te koop.” 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Wilde diere hoort in die natuur, sê die DBV

Wydverspreide reën sal help met weiding