in ,

Wat beteken insekdodergroepkodes?

Ons het al almal gehoor dat landbouchemiese agente praat van produkte met verskillende groepkodes en gewonder waaroor hulle nou eintlik praat. So wat is produkgroepkodes en wat beteken dit?
 
Die groepkodes van insekdoders word gevind op die hoofpaneel van die etiket net na die registrasienommer en basiese aansprake, maar voor die benoeming van die aktiewe bestanddele. Indien ’n produk meer as een aktiewe bestanddeel bevat, word die groepkodes in dieselfde volgorde as die aktiewe bestanddele gelys.
 
Daar is verskillende maniere waarop ’n produk ’n insek kan doodmaak, daarom sal ’n groep insekdoders met verskillende name, maar dieselfde wyse van werking, aan dieselfde groepkode behoort (Tabel1).
 
Tabel 1: Klassifikasie van insekdoders volgens werkswyse. Croplife, IRAC werkgroep
GroepSubgroep Hoofteikengebied van werking 
Chemiese subgroep of
voorbeeld van aktiewe
bestanddeel
1
B
Asetielcholien-esterase-inhibeerdersKarbamate
Organofosfate
2
B
GABA – Gehokte chloriedkanaal- Siklodien organochlorien
3 Natriumkanaal-moduleerdersPiretroïde, Piretrien DDT
4

A
B
C

Nikotiniese asetielcholienreseptor
bestryders/-antagoniste
Neonikotinoïede
Nikotien
Cartap, Bensultap
7A
B
C
JeughormoonnabootsersJeughormoonanaloë
Fenoksikarb
Piriproksifen
 
’n Paar maniere waarop insekdoders werk is byvoorbeeld middels wat die senuweestelsel van ’n insek buite aksie stel (groep 1 hieronder) of middels wat die groeihormoonvlakke beheer sodat die insek nooit volwassenheid bereik nie (groep 7 hieronder) of middels wat met die metaboliese ensieme in die insekliggaam bind en so die insek daarvan weerhou om te voed.
 
Die insekdodergroepkode word saamgestel uit die “Groep” en “Subgroep”. Die subgroepe beteken die produkte is twee verskillende chemiese tipes, byvoorbeeld organofosfate en karbamate, maar maak steeds die insek op dieselfde manier dood.
 
As ons kyk na insekte wat weerstandbiedend geword het teen sekere chemiegroepe, is sitrusrooidopluis sekerlik een van die belangrikstes.
 
Hierdie insek is ‘n groot kommersiële plaag in die sitrusbedryf en sonder doeltreffende beheer van hierdie plaag kan ‘n boer verlaagde opbrengs ervaar, sy vrugte sal nie uitgevoer kan word nie en boomterugsterwing kan ‘n gevolg wees van swaar besmetting.
 
Organofosfate (chemie-groep 1B) is ‘n breëspektrum insekdoder wat vir rooidop rooidopluisbeheer en ook vir die gelyktydige beheer van ander insekplae gespuit is. Boere het dus in die verlede baie staatgemaak op ‘n spuitprogram waar organofosfate herhaaldelik gespuit is.
 
So het dit gebeur dat rooi dopluis kort voor lank bestand geraak het teen organofosfate. Dit het die landbousektor in die moeilikheid gelaat .
 
Die probleem is egter oorkom deur insekgroeihormone soos Piriproksifen (groep 7C) in kombinasie met minerale olie in te span. Juis omdat Piriproksifen in kombinasie met minerale olie (wat ’n smorende effek op dopluis het) gebruik word, is hierdie groeihormoon al 18 jaar lank doeltreffend teen rooidopluis, sonder enige bewerings van weerstand.
 
Dit is belangrik dat ons die insekdodergroepkodes verstaan, sodat dit vir ons makliker is om die opbou van weerstand in insekte te beveg. Dit geld vir alle land landbouplae soos onkruid, swamme en siektes.
 
Die fout wat baie van ons maak is om, onwetend, seisoen na seisoen dieselfde produk te spuit of miskien wissel ons die produkte af, maar met ander produkte wat aan dieselfde groepkode behoort. As daar nooit variasie in groepkodes is nie, is dit ’n groot probleem, omdat insekte dan weerstand kan opbou teen al die produkte wat aan daardie een groep behoort.
 
In elke plaagbevolking is daar sekere enkelinge wat fisiologies beter toegerus is om die werking van ’n sekere produkgroep te kan oorleef. Dit is juis hierdie enkelinge wat sal oorleef en voortplant en dieselfde fisiologiese eienskape aan hulle nageslag oordra. Indien produkte uit dieselfde produkgroep aanhoudend gebruik word, sal insekte dus kort voor lank weerstand teen alle produkte in daardie spesifieke groep van produkte opbou. Dit is dan dat ons praat van kruisweerstand tussen produkte.
 
Daar is ’n baie eenvoudige oplossing om hierdie risiko te verlaag. Ons moet produkte uit verskillende groepkodes saam in ’n spuitprogram gebruik om een spesifieke plaag te bestry. Produkte uit verskillende groepkodes kan ook saam gebruik word in ’n tenkmengsel. Dit is belangrik om nie ’n enkele produk meer as vier keer in ’n seisoen toe te dien nie.
 
Op hierdie manier word die werkswyse- spektrum van die spuitprogram verbreed met die gevolg dat indiwidue uit ’n plaagbevolking op verskeie maniere gedood word. Die uiteindelike gevolg is dus dat die produkte van albei groepkodes vir ’n langer tydperk doeltreffend sal bly.
 
Dit is uiters belangrik dat ons noukeurig oorweeg watter produkte van verskillende groepkodes ons saam in ’n spuitprogram sal spuit om sodoende vir ’n langer tydperk beter beheer te waarborg met die produkte wat tans beskikbaar is.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Pas op! Inkbessie kan jou vee afskryf

Melkkopers-nie-meer-aangekla