in

Vrystaat Landbou se Jongboerkompetisie vier mondigwording

VL beoordelaars

Die 21 ste Vrystaat Landbou (VL) Jongboer van die Jaar sal op 6 April 2017 in samewering met Standard Bank, in Bloemfontein aangekondig word. Op dieselfde dag vier VL se Jongboerkomitee hulle 32 ste bestaansjaar tydens hulle jaarlikse konferensie. Die tema van die 2017-konferensie is: Die Jongboer in die globale mark.

Sprekers tydens die geleentheid sluit in Jaqcues Celliers, HUB van FNB SA en dr Dirk Strydom, bestuurder vir Graan-ekonomie en Bemarking by Graan SA. Myan Subrayan sal as motiveringspreker optree.

Die kompetisie word aangebied om jongboere deur georganiseerde landbou te bemagtig vir volhoubare groei. Dit stel die jongboer in staat om op aspekte in sy boerdery te fokus wat hy voorheen as vanselfsprekend aanvaar het.

’n Span beoordelaars het VL se drie finaliste op 14 en 15 Februarie 2017 besoek. Oranje Toyota Bloemfontein het die voertuie vir die reise geborg.

Die finaliste:

WILLIE STOLS: Ek is ’n boer gebore en grootgemaak

Willie en Wilmien Stols
Willie en Wilmien Stols

Willie en Wilmien Stols boer alleen op die plaas Gelykvlakte in die Vierfontein-omgewing, wat reeds 108 jaar in die Stols se besit is. Onder die leidende hand van sy pa het hy sy eerste oes in 2006 geplant. Die reuk van rooi nat grond, groen mielies, beeste en skape is na byna 11 jaar steeds sy rede om op te staan in die oggend. Stols se toekomsvisie vir die boerdery is om meer op presisieboerdery te let en om ’n meer doeltreffende en winsgewende boerdery te bestuur. Sy pa deel graag sy kundigheid en staan hom nog baie met raad by, veral met ervaring van hulle voorgeslagte. Willie wil meer ag slaan op veranderinge in sy boerdery om moontlike ondergemiddelde reënval beter te kan hanteer.

Volgens Willie is jongboere die kosplanters en -voorsieners van die toekoms. “Om te oorleef gaan ons winste en verdienste moet verhoog om ’n positiewe bydrae tot oorlewing en die ekonomie van ons land te maak.”

Vertakking% bydrae tot boerderyomsetOmvang (ha of GVE)
Wit Mielies40%450 ha
Geel Mielies15%90 ha
Sonneblom25%250 ha
Skape10%800 ha
Beeste10%200 ha

Willie het ’n 50 ha oorlê-stelsel op die plaas begin. Hy pas ook vogbestuur toe, en verminder vee per ha daarvolgens, sodat oorbeweiding voorkom kan word. Die aanplanting van weiding, asook die aanplanting van tef of droë land lusern op ongebruikte wenakkers, is van die belangrikste hulpbronbewaringspraktyke wat toegepas word.

Met die hulp van goeie werkswinkelpersoneel en in samewerking met sy pa word werktuie eerder self gebou, verander en verbeter as om nuwe aankope te doen. Willie is ’n lid van Vrystaat Landbou, Vierfontein Landbouvereniging, Graan SA en die Manna Studiegroep. Hy is ook betrokke by plaaslike plaasveiligheidstrukture en die brandvereniging.

JOHAN VAN HUYSSTEEN: Diversifisering is goed, maar ek kies eerder om te spesialiseer

Juanita en Johan van Huyssteen
Juanita en Johan van Huyssteen

Johan en Juanita van Huyssteen boer op die plaas Bloekom, in die Virginia-distrik.  Hy en sy pa boer saam. Volgens Johan is hy ʼn perfeksionis en beplanner, eienskappe wat hy in al die fasette van sy boerdery probeer toepas. Die beste manier van doen word in alles oordink en beplan. Johan hou egter van eenvoud; hoe makliker, eenvoudiger en vinniger – hoe beter.

Die vernaamste verandering wat hy in die boerdery teweeggebring het is aanplantingsvoorbereiding met presisietoerusting. Topbemesting word nie meer toegepas nie, wat bydra tot beter wortelontwikkeling.

Vertakking% bydrae tot boerderyomsetOmvang (ha of GVE)
Mielies100%2c500 ha
Bees0% bou nog kudde125

Die toekomsvisie vir die boerdery is om volhoubaar te groei, risiko’s te bestuur en om meer effektief te boer. Johan wil ook in die toekoms tegnologie beter benut. Van die vernaamste risiko’s wat hy moet bestuur is droogte en die prys van produkte. Die 50% oorlê-sisteem wat gebruik word, dra by tot goeie opbrengste en werk droogtetoestande teë. Wat prysbestuur betref, word stappe saam met maatskappye wat inligting verskaf, gevolg. “Met goeie inligting kan goeie besluite geneem word wat so risiko’s beperk.”

Johan is ’n aktiewe lid van die gemeenskap en landbouvereniging. Hy is iemand wat leiding kan neem en mense inspireer. Hy is tans voorsitter van Virginia Landbou asook die Brandvereniging. Hy was ook lid van Vrystaat Landbou se Jongboer Komitee.

HERMAN ARCHER: Gaan jy dit doen … of doen ek dit self?

Herman Archer
Herman Archer

Herman Archer boer die afgelope vyf jaar saam met sy pa op die plaas Settlement in die Trompsburg-omgewing. Hy beskou homself as ʼn sterk leier wat perfeksionisme nastreef en op sy voete kan dink. Hy neem vinnig besluite en hou daarby. Take word vinnig en doeltreffend afgehandel en hy dink ‘buite die boks’ om probleme op te los. Herman is ingestel daarop om ‘n verskil in sy gemeenskap en die landbou te maak en om eerder met oplossings vorendag te kom in plaas daarvan om net te kla oor probleme.

Herman se toekomsvisie is om topgehalte wol te produseer, lammers van ’n hoë gehalte te lewer en reproduksie te verbeter. Hy sal graag sy boerdery wil uitbrei deur byvoorbeeld ’n hamelboerdery te inkorporeer.

Die mees vername risiko’s van Herman se boerdery sluit roofdierbestuur, die voorkoms van veldbrande en weerstoestande in.

Vertakking% bydrae tot boerderyomsetOmvang (ha of GVE)
Merino Skape100%1 720 ha

Herman streef daarna om toe te sien dat sy plaas optimaal benut word deur die natuur en weer te volg, asook toe te sien dat diere optimaal bestuur word om onder andere oorbeweiding te voorkom. Waar water op sy plaas beskikbaar is, probeer hy lande optimaal besproei om waarde tot die boerdery toe te voeg.

Volgens Herman vervul jongboere ’n baie belangrike rol in die ekonomie van Suid-Afrika. “Jongboere benader die landbou en ekonomie met ’n ander perspektief, en hulle dink buite die boks, wat belangrik is om landbou te bevorder.”
Herman is die voorsitter van Trompsburg Landbou, ondervoorsitter van die NWKV in die Vrystaat en onderoorsitter van die Rooivleisprodusente-organisasie in Vrystaat (VSRPO). Hy dien op die dagbestuur van die Suid-Afrikaanse Skeerfederasie (SASSF) en is ook ’n beoordelaar van skeer- en wolhantering tot op nasionale vlak.

Bron: Vrystaat Landbou

Hooffoto: Die span beoordelaars is: Stefan Hanekom, Johann van Graan, Janus Henning, prof. Pieter Fourie, prof. Erhard du Toit, Boet Wilken en dr. Cobus le Roux.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

John Deere

John Deere se RX loop suutjies tussen die plantrye

Scania

Scania verstaan boere se behoeftes