in

Vrystaat Landbou baie bekommerd oor droogte

Ernstige kommer heers binne Vrystaat Landbou oor die uitwerking van die droogte wat tans groot dele van die provinsie teister. Volgens terugvoer vanuit die distrikte het die droogte die grootste invloed op die noordelike, westelike en suidelike dele van die provinsie. 

Henk Vermeulen, hoofuitvoerende beampte VL, sê: “Ons het spesifiek gehoor van groot skade in die omgewings van Bothaville, Viljoenskroon, Heilbron, Tweeling en Villiers. Die totale omvang van die skade kan egter nog nie bepaal word nie. Kenners meen dat as noemenswaardige reën binne die volgende week val, van die mielies en ander gewasse wat deur droogte geraak word, gedeeltelik kan herstel.” 

Hy sê die werklike impak van die droogte sal egter eers gesien kan word wanneer landbouers begin stroop. Hierdie droogte is in talle gevalle nie die eerste een wat sommige landbouers tref nie, wat verdere kommer laat ontstaan oor landbouers se voortbestaan en gevolglik werksgeleenthede en koopkrag in die platteland. 

Daan Toerien en Johan Wessels van die SME Observatory het in 2013 statistiek bekendgestel oor die ekonomie op plattelandse dorpe in die Vrystaat. Daarvolgens is sowat 15,5% van Bothaville se ekonomie landbougedrewe. Die dorp vorm deel van die Nala plaaslike munisipale distrik waar sowat 60% van werksgeleenthede deur landbou en die huishoudelike sektor beskikbaar gestel word. 

Sowat 10,7% van Heilbron se ekonomie word deur landbouprodukte en -dienste gedryf. Die dorp val in die Ngwathe plaaslike munisipale distrik, waar sowat 48% van werksgeleenthede deur landbou en huishoudelike sektore geskep word. Altesaam 19,1% van Viljoenskroon se ekonomie berus op landbouprodukte en verwante dienste, en sowat 50% van die Moqhaka plaaslike munisipale distrik se werkers is afhanklik van landbou, huishoudelike sektore en openbare administrasie. 

“Die belangrike rol wat die landbouers in ons provinsie en binne hulle gemeenskappe op soveel verskillende vlakke vervul, kan duidelik sigbaar word uit die statistiek,” sê mnr Vermeulen. 

Sou talle landbouers nie met hul werksaamhede kan voortgaan nie, beteken dit nie net verminderde werksgeleenthede op plase nie. Daardie landbouers en hul werkers se koopkrag binne hulle gemeenskappe en dorpe sal ook verlore gaan, wat weer ander ondernemings negatief sal beïnvloed. Die netto effek kan dus ’n toename in werkloosheid en misdaad op die platteland wees. 

Die Nasionale Landboubemarkingsraad het aan VL gesê hulle hou die situasie fyn dop en hulle is baie bekommerd: “As 20% van die witmielie-oes verlore gaan, gaan die land groot uitdagings ervaar ten opsigte van hoër kostes vir invoere. Dit sal ook ’n regstreekse invloed op voedselpryse op winkelrakke en dus die huisvrou se koopkrag hê.” 

“Ons hou ons landbouers naby aan ons harte, en spreek die hoop uit dat hulle met reën geseën sal word in hierdie kritieke tyd,” sê hy.

 

Die foto is deur Riaan en Karin Odendaal geneem. Hulle boer naby Villiers.

LH Claassen van die LHC Group wat naby Sasolburg boer het die foto gestuur van mielies wat vir kuilvoer gesny word in ‘n poging om iets van die oes terug te kry.

Die lugfoto’s is geneem deur Jannie Bothma, ‘n boer van Viljoenskroon/Bothaville

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Kubota verryk Ritchie Farm Equipment se kliente

Dow AgroSciences troef witluise met splinternuwe tegnologie