in , ,

Voorkom en beheer veldbrande 5: Nalatigheid en aanspreeklikheid

This post is also available in: Afrikaans

Regsaksies voortspruitend uit veld­brande word gegrond op daardie vertakking van die reg bekend as die deliktereg. Vir ՚n grondeienaar (eiser) om skade te verhaal van ՚n ander party (verweerder), moet hy bewys dat die verweerder ՚n delik gepleeg het.

Die elemente van ՚n delik is:

  1. ՚n Handeling (՚n doen/daad of ՚n late/versuim)
  2. Onregmatigheid
  3. Skuld (opset of nalatigheid – die bespreking hieronder sal beperk word tot nalatigheid)
  4. Kousaliteit (oorsaaklikheid)
  5. Skade

Al die bogemelde elemente moet normaalweg deur ՚n eiser bewys word om met ՚n regsaksie te slaag. In die saak, Kruger v Coetzee 1966 (2) (SA) 428 (A), het die Appèlhof, by monde van regter GN Holmes, beslis dat aanspreeklikheid gegrond op nalatig­heid ontstaan indien:

  1. ՚n redelike man in die posisie van die verweerder die redelike moontlikheid sou voorsien het dat sy optrede ՚n ander persoon kan benadeel en skade veroorsaak; en redelike voorsorgmaatreëls sou ge­tref het om daarteen te waak; en
  2. die verweerder nagelaat het om sodanige stappe te doen.

Die verweerder sal van nalatig­heid verwyt word as die redelike man, indien hy in dieselfde omstan­dighede as die verweerder ver­keer het, anders as die verweerder sou opgetree het. Vir die eiser om nalatigheid te bewys aan die kant van die verweerder, sal hy derhalwe die bewyslas dra om aan te toon dat die redelike man in die spesifieke omstan­dighede anders sou gehandel het as die verweerder.

Artikel 34 van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande (No 101 van 1998) skep egter ՚n vermoede van nalatig­heid deur die bewyslas om te keer. Die artikel bepaal:

  1. Indien ՚n persoon wat ՚n siviele geding aanhangig maak, bewys dat hy ՚n verlies gely het as gevolg van ՚n veldbrand wat deur die verweerder veroorsaak is; of begin het op of versprei het van grond wat deur die verweerder besit word, word daar vermoed dat die verweerder nalatig was met betrekking tot die veld­brand totdat die teendeel bewys word, tensy die verweerder ՚n lid is van ՚n brandbeskermingsvereniging in die gebied waar die brand voorgekom het.
  2. Die vermoede in sub-artikel (1) stel die klaer nie vry van die be­wyslas dat enige daad of versuim deur die verweerder onregmatig was nie.

In effek bepaal die artikel dat wanneer ՚n eiser in siviele hofverrigtinge bewys:

  • dat hy skade gely het; en
  • dat sodanige skade die gevolg was van ՚n veldbrand; en
  • dat die betrokke veldbrand veroor­saak is deur die verweerder, of begin het op of versprei het van die verweerder se grond;

word dit vermoed dat die verweerder nalatig was met betrekking tot die veldbrand totdat die teendeel bewys word. Die onus rus dus op die ver­weerder om te bewys dat hy nie nalatig was nie (omgekeerde bewyslas). Die eiser sal egter steeds moet bewys dat die verweerder se handeling onreg­matig was.

Hierdie vermoede van nalatigheid aan die kant van ՚n boer wat in siviele hofverrigtinge geld, geld slegs indien hy nie ՚n lid is van ՚n brandbeskermingsve­reniging in die gebied waar die brand voorgekom het nie. Dit moet egter beklemtoon word dat lidmaatskap van ՚n brandbeskermingsvereniging nie beteken dat ՚n verweerder nie nalatig bevind kan word nie.

՚n Lid van ՚n brandbeskermingsvereniging kan wel nalatig bevind word, maar hy sal nie opgesaal word met die onus om te bewys dat hy nie nalatig was nie. Die eiser sal moet bewys dat hy nalatig was en sal natuurlik ook die ander elemente van die delik moet bewys.

Alvorens die vermoede van toepassing is, moet die eiser bewys dat sy skade veroorsaak is as gevolg van ՚n veldbrand. In die saak Gouda Boerdery BK v Transnet 2005 (5) SA 490 (HHA), het ՚n brand ontstaan in ՚n spoor­wegreserwe en vandaar versprei na aanliggende eiendom waar dit skade aangerig het. Die eiser het gesteun op die vermoede van nalatigheid. Die Hoogste Hof van Appèl, by monde van regter DG Scott, het bevind dat, vir die vermoede om te geld, die brand wat begin het op of versprei het van die verweerder se eiendom op daardie stadium ՚n veldbrand moes wees en nie ՚n ander soort vuur nie. Met ander woorde, die vermoede geld nie indien die vuur wat begin op of versprei het van ՚n verweerder se eiendom nie ՚n veldbrand is op die verweerder se eiendom nie.

Ten einde te bepaal wat ՚n veldbrand is moes die Hof eers bepaal wat “veld” is. Na oorweging van vyf gesagheb­bende woordeboeke se definisie van die woord “veld”, asook twee vorige hofuitsprake, het die Hof tot die gevolgtrekking gekom dat ՚n spoorwegreserwe nie kwalifiseer as “veld” nie en dat die brand wat daar ontstaan het nie ՚n veldbrand was nie. Gevolglik was die verweerder nie getref deur Artikel 34 se vermoede van nalatigheid nie.

Na ons mening, is die effek van hierdie hofuitspraak dat ՚n brand wat ontstaan op ՚n plaaswerf, langs ՚n gebou (hetsy residensieel of industrieel) of op bewerkte grond (byvoorbeeld aange­plante landerye, boorde, wingerde, ensovoorts), nie ՚n veldbrand is vir doeleindes van Artikel 34 nie. Indien ՚n brand in sodanige area ontstaan en van daar af versprei na ՚n ander persoon se eiendom, sal die eienaar daarvan gevolglik nie deur die vermoede van nalatigheid getref word nie.

Die vraag wat gewoonlik by ‘n boer ontstaan is: “Hoe kan ek myself beskerm teen potensiële reg­saanspreeklikheid weens ՚n veldbrand wat op my grond ontstaan of van my grond versprei?”

Die meeste versekeringsmaatskappye wat boere verseker, verskaf dekking vir regsaanspreeklikheid wat voortvloei uit veldbrande. Hierdie dekking is normaal­weg onderworpe aan die voorwaarde dat die boer moet voldoen aan al die vereistes van die wet.

Sou ՚n veldbrand op ՚n boer se plaas ontstaan of van daar versprei, is dit belangrik, gesien vanuit die oogpunt van die grondeienaar se versekeraar en ook vanuit ՚n regsoogpunt, dat die versekeraar so gou moontlik van die brand verwittig moet word. Sodoende sal dit aan die versekeraar die geleentheid bied om so gou moontlik die omstandighede van die brand te ondersoek.

Versekeraars maak dikwels gebruik van branddeskundiges om die oor­sprong van ՚n brand te ondersoek en as die oorsprong van die brand bepaal is, gee dit dikwels ook ՚n aanduiding van hoe dit begin het. Hoe gouer ՚n brand­deskundige op ՚n brandtoneel kom, hoe makliker is dit vir hom om die oor­sprong te bepaal.

Gevolglik is ons raad aan enige boer of grondeienaar wat ՚n brand op sy grond ondervind, om sy versekeraar so spoedig moontlik daarvan te verwittig. Indien hy nie oor versekeringsdekking vir regsaanspreeklikheid beskik nie, sal dit raadsaam wees om so gou moontlik regsadvies in te win.

Artikel verskaf deur Christo Potgieter en John Smit, direkteure, Versekeringsreg en Regsaanspreek­likheid, BDP Prokureurs, Kaapstad. Hierdie artikel het ten doel om inligting te verskaf en nie regsad­vies nie. Kontak u regsadviseur vir regsadvies.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Yolk sac utilisation in the broiler chick: a matter of importance

Rotary tillers are simple but effective Part 8: This is how you get the best results