in

Voedingstrategieë vir suiwelbeeste in ’n minder winsgewende omgewing

voeding

deur dr Hinner Köster (Pr. Sci. Nat.): Direkteur – Barnlab Pty Ltd

Die meeste grondstowwe word deesdae al hoe duurder. Dit plaas baie meer klem op die belangrikheid van voedingsbestuur en die maatstawwe van ekonomiese, doeltreffende voerbenutting op plase.

Duur grondstowwe beïnvloed winsgewendheid aansienlik en dit is dus belangriker as ooit om die totale voeding- en bestuursprogram baie deeglik en krities te evalueer.

 ’n Paar van die belangrike strategieë wat gevolg kan word om hoë voerkoste te beperk:

  1. Produksie van kostedoeltreffende plaasgeproduseerde voer soos kuilvoer en lusern. Terselfdertyd moet  daar vir hoog produserende, hoë gehalte basters en variëteite geselekteer word.
  2. Instandhouding van die waarde van gewasse gedurende oes en berging.
  3. Toepassing van waardetoevoegende verwerkingsmetodes om die voedingswaarde van kommersiële grondstowwe te verbeter.
  4. Leer en verstaan die werklike waarde van intydse grondstowwe en voedingstowwe.
  5. Doeltreffende vervanging van duurder grondstowwe terwyl optimale prestasie steeds bereik word.
  6. Mik na optimale voerdoeltreffendheid vanaf goed gebalanseerde diëte deur ordentlike meting van wat werklik gevoer en uiteindelik geproduseer word.
  7. Verseker ekonomiese mededingendheid van voerprogramme deur inkomste bo voerkoste te bereken en teen bestaande bedryfsnorme te vergelyk.
  8. Aankope van die regte voere/grondstowwe deur gedurig die werklike ekonomiese waarde van die huidige aangekoopte voere/grondstowwe te beraam.
  9. Vergelyking van die ekonomie van tuismeng (of gedeeltelike tuismeng) teenoor die aankoop van die volledige  kragvoer.

Dit is belangrik dat ’n dieet goed gebalanseerd moet wees sodat diere se prestasie aan die verwagting voldoen. Dit beteken dat die omskakeling van die voer na die produk moet plaasvind teen ’n doeltreffendheid wat voorspelbaar is.

Indien die verhouding tussen inkomste en voerkoste aansienlik van die bedryfsnorm afwyk, moet die vraag gevra word of die regte voere geproduseer of aangekoop word.

Ander vrae wat gevra moet word, is of ’n mens mededingend aankoop en die korrekte dieet saamstel? Watter droë materiaal- (DM) -inname gebruik ’n mens op die voerkaart en wat word werklik ingeneem? Word voer doeltreffend omgeskakel na produk soos werklik verwag word (met ander woorde, is die voeromsetdoeltreffendheid naby aan sy teiken)? Wie betaal vir voerweiering en krimping/vermorsing (shrinkage)?

Watter koste word gebruik en word plaasgeproduseerde grondstowwe en ruvoere  se prys  gegrond op hulle totale produksiekoste (insluitend berging) of slegs op veranderlike kostes? Selfs met hoë graanpryse is dit onwaarskynlik dat graan in aansienlike hoeveelhede uit diëte verwyder sal word, aangesien hulle styselinhoud toelaat dat energiedigte rantsoene geformuleer kan word, wat belangrik is vir hedendaagse diere met ’n hoë genetiese meriete vir produksie.

Koolhidraatvoeding van suiwelbeeste

Om die werklike waarde van graan soos mielies te verstaan, is dit belangrik om ’n goeie begrip te hê van die oorhoofse koolhidraatvoeding in verhouding tot melkproduksie. Koolhidrate word al baie lank erken as die enkele grootste komponent (60 tot 70%) van ’n suiwelkoei se dieet en die primêre bron van netto energie om onderhoud en melkproduksie te ondersteun. Dit is die hoofbron van energie vir die rumenmikro-organismes en beïnvloed ook die samestelling van melk as voorlopers van laktose, vet en proteïen. Die optimale styselinhoud van lakterende koeie se diëte is nie goed omskryf nie, maar 24 tot 26% stysel (DM-basis) word tipies aanbeveel.

Proteïenvoeding van suiwelbeeste

Die grondliggende doel van herkouerproteïenvoeding in suiweldiëte is om die doeltreffendheid van die benutting van stikstof (N; N x 6,25 = proteïen) te optimaliseer en daardeur uiteindelik maksimum melkproduksie te bereik. Dit vereis die verfyning van proteïenvoeding op twee maniere.

Eerstens vereis dit die voeding van die regte soorte en hoeveelhede rumendegradeerbare proteïen (RDP) wat die behoeftes vir N deur rumenmikrobes sal bevredig maar nie oorskry nie, en bepaal word deur die tipes en hoeveelhede rumenfermenteerbare koolhidrate in die dieet. Hoe beter die fermentasie, hoe meer mikrobiese proteïen word geproduseer. Optimale rumenfermentasie word hoofsaaklik bereik deur ’n goeie balans tussen sowel die hoeveelhede as die tipes koolhidrate en proteïen. Voedingstrategieë wat tot maksimale mikrobiese groei lei, bevorder ook verhoogde DM-inname en gesonde rumentoestande (minder suurpens).

Tweedens, om die oorhoofse doel van optimale melkproduksie te bereik, benodig dit ook die voer van rumen-nie-degradeerbare proteïen (RNDP) met ’n aminosuurbalans wat die rumengeproduseerde mikrobiese proteïen aanvul in hoeveelhede wat, indien gekombineer met mikrobiese proteïen, die verlangde proteïen- tot energieverhouding in opgeneemde voedingstowwe gee.

voeding

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Rovic leers

Rovic Leers wys hulle staal by Balfour se Hooidag

John Deere

John Deere se RX loop suutjies tussen die plantrye