in ,

Veesiektes: VROTPOOTJIE

vrotpootjie

Deur Jannie Fourie, NWKV Produksie Adviseur, Caledon, Weskaap

Oorsaak en oordrag:

Vrotpootjie word deur die Dichelobacter nodus bakterie veroorsaak. Dit is hoogs aansteeklik en enige wonde soos bosluis bytplekke, beserings of stukkende plekkies, is moontlike plekke waar kieme die kloue kan binnedring.

Die oopsper van kloutjies as die dier loop, verhoog die voorkoms van vrotpootjie.  Swaarder diere, soos ramme en swaar dragtige ooie, is dus meer vatbaar.  Jong skape is meer vatbaar as gevolg van ʼn swakker immuunstelsel.

In die somermaande na goeie reëns, is vrotpootjie een van die groot oorsake van mankheid by skape.  Die kiem hou van ʼn klam, warm omgewing en kan vir tot 2 weke in die omgewing oorleef en vir maande in die draer bly.  In sekere gebiede kom vrotpootjie dwarsdeur die jaar voor, maar die organisme het ʼn minimum van 10°C en 50 mm reën nodig om te oorleef.

Simptome:

  • Net die kloutjie is geaffekteer.
  • Skape loop mank. Kloutjies is vuil en smetterig met ʼn slegte ruik.  Die kloutjie is warm en pynlik en met hantering trek skaap sy voet terug.  Sommige skape staan op hulle knieë.  Skape vreet minder en verloor kondisie.  Soos vrotpootjie vorder, word die sool en buitenste hoef beskadig.  Die hoef word sag, krummelrig en los.  Wanneer die horingagtige dele oopgesny word, loop daar onwelriekende grysgeel smetterigheid uit.

Behandeling:

vrotpootjie

  • Sonder aangetaste skape af en hou hulle op droë sementvloer.
  • Knip aangetaste dele van die hoef met ʼn hoefskêr weeg. Maak seker alle aangetaste dele is skoon geknip, anders kan die siekte weer begin.
  • Gebruik ʼn voetbad met 10% sinksulfaat- of koper-oplossing en laat skape elke dag daardeur loop totdat die kloutjies droog en gesond lyk. Kontaktyd van 1 tot 2 minute sal voldoende wees.
  • Was die aangetaste dele met ʼn antiseptiese middel of waterstopperoksied en behandel daarna met antibiotiese sproei.
  • Spuit diere binnespiers met oksitetrasiklien.
  • Hou skape wat genees het in aparte kudde, want hulle kan draer diere wees.
  • In erge gevalle kan parafiengaas en verbande gebruik word. Vervang die verbande elke 2 tot 3 dae.
  • As skaap nie op behandeling reageer nie, laat slag die dier.

Voorkoming:

  • Gedurende nat toestande vermy modderige krale, vleierige kampe en nat aangeplante weiding.
  • Sny hoewe gereeld kort.
  • Modderige plekke op plaas soos bv. waterkrippe wat lek en nat krale dien as bron van besmetting en kan met landboukalk behandel word, want die kiem kan nie in ʼn alkaliese omgewing oorleef nie.
  • Hou alle diere vir 4 weke uit besmette kampe.
  • As sink laag is op jou plaas, kan lekaanvullings gebruik word in voermengsels.
  • Hou alle aangetaste skape apart.
  • Met aankoop van skape maak seker dat dit van plaas kom wat vrotpootjie skoon is.
  • Spuit skape 2 keer per jaar Vit A en maak seker van sinkvlakke met behulp van lekke of gebruik van middels op mark wat sink en Vit A aanvul.
  • Dit is goeie praktyk om diere voorkomend een keer per maand deur ʼn 10% sinksulfaat of kopersulfaat voetbad te jaag.
  • Hou deeglik rekords van diere wat behandel is en skot probleemdiere uit.
  • Sorg dat selenium vlakke in diere korrek is, dit help met siekte weerstand.
  • Selekteer streng teen vrotpootjie.

Benodigdhede vir vrotpootjie:

  • Hoefskêr
  • Wond aërosol
  • Antibiotikum (oksitetrasiklien)
  • Ontsmettingsmiddel
  • Spuit en naalde
  • Voetbad met sink of kopersulfaat

Kontak Jannie by 083-564-1105 of stuur vir hom ‘n e-pos by jannie@nwga.co.za vir meer inligting.

What do you think?

-1 points
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 100.000000%

TLU SA

Onrealistiese en roekelose grondhervorming vernietig ekonomiese groei

ProAgri Zambia

ProAgri Zambia 17