in ,

Varkboere is gereed vir biogasproduksie

Varkboere sit op ‘n biogas energiegoudmyn en is bereid om dit met die res van Suid-Afrika te deel. Maar dit kan slegs gebeur as die owerheid net ‘n paar werklikhede in ag wil neem en bereid is om te begin om geld op die regte plekke te bestee.

Mnr James Jenkinson, voorsitter van die Suid-Afrikaanse varkprodusenteorganisasie (SAVPO) sê die hoeveelheid varkmis wat op ‘n gemiddelde varkplaas geproduseer word, is genoeg om ‘n noemenswaardige biogasaanleg aan die gang te hou.

Biogas is ‘n uitstekende vorm van volhoubare en hernubare energie en word reeds in Europa, die VSA en Australië gebruik om elektrisiteit op te wek. Boere wek reeds hulle eie krag op, of verkoop dit en verdien hernubare energiekrediete.

SAVPO het sewe jaar gelede hulle gewig agter ’n CDM- (Clean Development Mechanism) -projek ingegooi. CDM’s is tydens die 2007 Kyoto-protokol omskryf om die ontwikkeling van vrylatingverminderingsprojekte te stimuleer wat dan gesertifiseerde vrylatingveminderingseenhede kan skep waarmee handel gedryf kan word. Europese beleggers het aan boord geklim en vier jaar gelede is ‘n loodsaanleg met een turbine gebou wat 56 kW kan opwek. Mnr James Jenkinson, ’n elektroniese ingenieur, was self betrokke by die bou daarvan. Dit somme is deeglik gedoen en as die kapitaal- en loopkoste in ag geneem word, kos dit ‘n varkplaas R1,15 om ‘n kilowattuur op te wek.

Daar is tans 17 varkboere wat belangstel om ook biogas elektrisiteit tot ons wankelende kragnetwerk by te dra en hulle is reeds besig is om die omgewingsimpakstudies daarvoor te doen. Die varkbedryf alleen kan tussen 150 en 200 megawattuur tydens spitstye lewer, wat ‘n reuse bydrae sal lewer om Suid-Afrika se oorspanne kragnetwerk te red.

Maar Nersa is nie bereid om boere tegemoet te kom nie.

Boere kan tans elektrisiteit teen heelwat minder by Eskom aankoop, wat ’n groot stok in die lewensvatbaarheid van hierdie opwindende ontwikkeling se wiel is. Nersa maak dit ook byna onmoontlik vir kleiner kragvoorsieners om te help om hierdie nasionale krisis op te los. Die tegniese vereistes waaraan kragvoorsieners moet voldoen om krag in die netwerk te sit, is net te moeilik vir kleiner eenhede om aan te voldoen. Die burokratiese muur waarteen voornemende kragvoorsieners stuit, maak dit ook net nie die moeite werd nie. Die uitgawes kan tot miljoene rande beloop.

biogas buite

Wanneer ons holisties na die kragkrisis in Suid-Afrika kyk is dit voor die hand liggend dat Nersa eerder die hand van onafhanklike kragvoorsieners moet sterk om volhoubaarheid te verseker.

In teenstelling met baie ander hernubare energie oplossings, kan metaangas gestoor word vir latere gebruik. Dit maak die gebruik van biogas nog meer aantreklik omdat die turbines slegs gevoer kan word wanneer krag gedurende spitstye benodig word. ‘n Turbine het slegs vier minute nodig om “aanlyn” te wees nadat die aktiveringsein gestuur is.

Die hitte wat by die uitlaatstelsel van die turbine vrygestel word kan ook opgevang word om byvoorbeeld water in slagpales warm te maak of na nywerhede rondom die varkplaas te stuur.

Varkmis het baie potensiaal en varkboere is angstig om sulke fasiliteite te bou sodat hulle afvalprobleme ook opgelos kan word. SAVPO het dus ‘n beroep op Nersa gedoen om hulle posisie met betrekking tot die aankoop van krag vanaf onafhanklike produsente te hersien.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Die varkbedryf raak vaartbelyn

Dom Boer se lag vir die dag: