in

Van-skeepswrak-tot-volkskat

Uithouvermoë, goeie temperament, intelligensie; dis alles woorde wat sinoniem is met die Suid-Afrikaanse Boerperd. Die perde is so deel van ons land se geskiedenis as die grond waarop ons loop. Hulle het saam met eerste Europese inwoners die Kaap platgeloop, die Voortrekkers oor die Drakensberge gehelp en ons boerehelde tydens altwee Vryheids-oorloë gedra. 

‘n Boerperd het uitstekende uithouvermoë, hy kan heeldag beweeg sonder om die ruiter uit te put. En hy is ‘n mooi dier, ‘n breë voorkop met prominente oë met ‘n goed gevormde nek. Sy borskas is goed ontwikkel met sterk, gespierde bene. Hulle vertoon baie goed in skoue, op die sportveld, by springgeleenthede en uithouritte. Dan is die Boerperd ook liefdevol, betroubaar met ‘n goeie temperament wat hulle geskik maak vir kinders. Op die plaas is die perd ‘n wenner, hy het die stamina en krag om uitdagende take oor rowwe terrein in uiterste klimaat te voltooi.


Calela Laventel, Traditional Senior and Grand Champion Mare, Calela Stud – Jacobsz Family (Foto: Habitat Photo Lab, Deon Harris)

Die geskiedenis van die SA Boerperd kan teruggevoer word na die dae van Jan van Riebeeck toe die eerste diere vanaf Java ingevoer is. Hierdie was Berber-Arabiese ponies en teen 1665 was daar genoeg perde in die Kaap vir die burgers om te koop.

‘n Skip met 14 Arabiese perde aan boord, die beste in die Sjah van Persië se stoet, het gestrand geraak aan die Kaap se kus. Die perde het land toe geswem en deel geword van ons eie Boerperd se bloedlyn. Bykans ‘n eeu later word die bloedlyn verder versterk deur die byvoeging van Andalusian- en Isabella-perde en vorm dit die basis vir die Kaapperd.

Die Kaapperd was bekend vir sy goeie temperament, braafheid, intelligensie, uithouvermoë, gehardheid en sy vaste voete. En vir die 150 jaar tussen Simon van der Stel en Lord Charles Somerset is volbloedperde ingevoer om die ras te versterk. Hulle invloed was egter skraal aangesien die perdebevolking in die Kaap nagenoeg 225 000 was. In 1719 tref ‘n tragedie die land se perde met die uitbreek van Afrika-perdesiekte. Duisende perde sterf in die tyd en so word die bevolking uitgedun tot net die sterkte diere oorbly.

Keeversfontein Gunston, Universeel Junior Kampioen Hings, Keeversfontein Stoet – Martin Campher (Foto: Habitat Photo Lab, Deon Harris)

Vanaf die Groot Trek tot die Anglo-Boere Oorlog word die ras verder uitgebrei met Flaamse hingste van Nederland, Hackeys, Norfolk Trotters en Cleveland Bays om uiteindelik die SA Boerperd te skep. Tydens die Tweede Anglo-Boere Oorlog word die perde se stamina en behendigheid deeglik getoets en help hulle die Boere om die Britse magte vir jare te stuit. Na die oorlog is daar ‘n beweging om die Boerperd te bewaar, maar teen 1918 loop dit dood.

Danelle Theron, Beste Junior Ruiter 19 Jaar en Onder, Perd: Jurust Brenda, Jurust Stoet – Koos Uys (Foto: Habitat Photo Lab, Deon Harris)

In 1973 kom die Boerperd Telersgenootskap van Suid-Afrika tot stand en ‘n standaard vir Boerperde word opgestel. Sedert 1999 is die bloedlyn gesluit en mag geen ander ras of bloedlyn in die geregistreerde perde gebruik mag word nie. Daar is tans 650 geregistreerde diere in die land. 

Vir meer inligting, kontak vir Elize Prinsloo by die Boerperd Telersgenootskap van Suid-Afrika by 051-410-0952 of besoek die webwerf op www.saboerperd.com

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Oesskatting: Opbrengs is minder as verwag

Raai-raai-Riepa