in

Van Loveren: Doen alles reg en wen die pryse

Foto: peaceparks.co.za

Van Loveren:

Doen alles reg en wen die pryse

’n Wynplaas wat voorwaar op verskillende gebiede aan die spits is, is die De Goree-wynplaas wat die Van Loveren-handelsmerk se wyn verskaf.  

Van Loveren se Five’s Reserve Pinotage 2013 is onlangs tydens die Michelangelo International Wine & Spirits Awards met die trofee vir die beste Fairtrade-rooiwyn bekroon – een van slegs 15 trofeë waarop meer as 1 500 wyne vanjaar hulle oog gehad het.

Volgens Arianna Baldo, uitvoerende direkteur van Fairtrade SA, word hierdie trofee jaarliks toegeken aan die beste rooiwyn-inskrywing wat ook Fairtrade-geregistreer is en aan al hulle riglyne voldoen. “Hierdie trofee bevestig dat Fairtrade-wyne soos Five’s Reserve Pinotage, tegelyk toegewyd tot etiese en volhoubare praktyke en van wêreldgehalte kan wees.”

Volgens Philip Retief, HUB van Van Loveren, is hierdie trofee ʼn viering van die sukses van hulle werkersbemagtigingsprojek, die De Goree-boerdery. “Al die druiwe wat gebruik word om Five’s Reserve te maak, word by De Goree aangekoop en aangesien gehalte druiwe ʼn voorvereiste is vir die maak van gehalte wyn, is die toekenning ongetwyfeld ʼn klop op die aandeelhouers se skouers.” Van Loveren se Fairtrade-sertifisering bevestig sy toewyding tot die verbetering van die produksie- en handelsomstandighede van sy werkers.

De Goree besit ook ʼn aandeel in die Five’s Reserve-handelsmerk wat hulle toegang gee tot die volle waardeketting. “Die Five’s Reserve-handelsmerk betaal ʼn Fairtrade-premie aan De Goree, wat deur die werkerskomitee aangewend word vir voorkeurbehoeftes,” vertel mnr Retief. “Vanjaar het die fondse byvoorbeeld gate toegestop met betrekking tot ʼn beursfonds vir die kinders van werkers, vir skool- en vervoergeld, skoolsweetpakke, opleiding en Kersfeesgeskenkbewyse vir die gemeenskap.”

Alle voltydse personeel, insluitend diegene wat nie deel is van die aandeelhoudingprojek nie, vind baat by ʼn Five’s Reserve-winspoel. “Vanjaar het die handelsmerk besonder goed gevaar en die poel was vier keer groter as vorige jare,” sê Philip Retief. “Winsdeling het vanjaar vir die negende maal plaasgevind en ʼn bedrag van R1,05 miljoen is tot dusver aan personeel uitbetaal, terwyl sowat R450 000 vir beurse en studiebevordering aangewend is.”

Nege jaar van bemagtigingsukses

Van Loveren en 116 van sy personeellede en pensioenarisse (insluitend 52 vroue) het vroeg in 2006 ’n druiweplaas van 138 hektaar in die Robertson-wynvallei aangekoop. Altesame 52% van die onderneming, genaamd De Goree-boerdery, word deur die werknemerstrust besit en die balans deur die Retief-familie. De Goree-boerdery het ’n langtermyn-druiwevoorsieningskontrak met Van Loveren-Familiekelder gesluit wat die plaas van meet af volhoubaar gemaak het. Gelyklopend hiermee, het Van Loveren die Five’s Reserve-wynreeks geloods bestaande uit ’n witwyn, ’n rosé en twee rooiwyne.

“Ons projek staan nie stil nie,” meen Chrisjan Williams, assistent-bestuurder en trustee van die De Goree-werkertrust. “Ons vorder goed met voortdurende uitbreidings in ooreenstemming met ons visie. So het ons onlangs 30 ha grond bekom en in 2015 en 2016 voorsien ons om die huidige 53 ha wingerde met nog 18 ha per jaar uit te brei.”

Sukses beloon

Die De Goree-boerdery word as ʼn model-bemagtigingsprojek bestempel en erkenning is al in die vorm van aanwysing as die 2008 Nasionale Agri SEB-projek van die Jaar gegee. Voorts is Jonas Cupido, aandeelhouer en wynmaker van die Five’s Reserve wynreeks, in 2009 aangewys as die SA Kelderwerker van die Jaar, en in Julie van dieselfde jaar het die plaas ’n Nasionale LandCare-toekenning ontvang vir sy pogings om indringerplante uit te wis en op ’n volhoubare wyse te boer. Die plaas het ook sy Fairtrade-akkreditasie in Julie 2009 verkry – die eerste plaas in die Robertson-wynvallei wat akkreditasie van hierdie wêreldwye organisasie ontvang het.

Die De Goree-vennootskap is besonder suksesvol en Van Loveren gebruik dit reeds as model vir toekomstige projekte. 

Die 2014 Van Loveren Neil’s Pick Colombard is ook met ʼn goue medalje by Michelangelo beloon, terwyl die 2013 Christina van Loveren Cabernet Sauvignon en 2014 Tangled Tree Moscato Rosé elk ‘n goue medalje by die Veritas-toekennings ontvang het.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Uitstaande vetveeveiling op Randfontein

Slim geboer op Landboukorrels Boeredag