in

Uithourit is 'n perd van 'n ander kleur

Die Tip of Africa Perde-uithourit is vanjaar veel meer as net ‘n uithourit. By die derde jaarlikse uithourit wat Saterdag, 26 Julie 2014, by MEGAPARK, BREDASDORP gehou word, sal onder meer ‘n verskeidenheid perderasse ten toon gestel word en kundige raad bied oor die verskillende gebruike van die perd en sy algemene versorging.

Die uithourit van internasionale standaard beloof om een van vanjaar se hoogtepunte te wees in die Overberg en Kaap Agulhas-streek. Daar word oor verskillende afstande, wat 40 km, 80 km, 120 km en 160 km insluit, meegeding. Ruiters van oral word hartlik uitgenooi om deel te neem of saam met die publiek hierdie unieke perde-uithourit mee te maak.

Met wêreldklasruiters van so ver as Engeland en Namibië, beloof die rit weer strawwe mededinging en geleentheid aan ervare en nuwe ruiters om hulle passie en avontuurlus uit te leef.

Vanjaar word die uithourit in vennootskap met die WP Unie en Agri Megagroep aangebied, en huisves ook die WP-spanuitdaagkompetisie.

Die 160km-uithourit begin reeds om 03:00 Saterdagoggend, 26 Julie, en elke fase eindig by Megapark, waar perdeliefhebbers en belangstellendes die aksie kan dophou en in die Perdesport Ekspo-pret kan deel.

Besoekers sal ook bederf word met uitstallings oor die perdebedryf, waar perderasse, bekendstellings van diere en produkte en kundiges wat praat oor perde-versorging, -voeding en -gesondheid op die program is. Kosstalletjies, ‘n biertuin, die plaaswerf en perdewaritte sal onder meer meer geniet kan word.

Kom kuier saam en geniet ‘n dag in die geselskap van uitsoekruiters en -perde saam met die gesin by die Tip of Africa Perde-uithourit.

Toegang is gratis. Almal is welkom. Inskrywings: www.xrc.co.za. Navrae: Noami Müller by noami@shabachstud.co.za / 082-783-1802. Esther Möller: 072-705-9150 / 028 424 2890 of esther@agrimega.co.za.
Saamgestel en uitgereik deur Mega Media                              
MEDIANAVRAE: Jan Greyling by 082-556-8778 / media@agrimega.com

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Kyk mooi waar jy volmaak

Pluimveeboere praat saam