in ,

Trofeejag verdien R1,98-miljard vir SA

Foto: www.africatrophyhunting.com

‘n Stewige bedraggie van R1,98-miljard – of selfs meer – word elke jaar deur trofeejagters in Suid-Afrika se sak betaal.

Dit het aan die lig gekom in ‘n studie onder leiding van prof Peet van der Merwe van die navorsingseenheid, TREES (Tourism Research in Economic Environs and Society), in samewerking met PHASA (Professional Hunters of South Africa).

362 respondente, meestal oorsese toeriste en jagters, het vraelyste op PHASA se webblad ingevul. Dit het lig gewerp op hulle besteding aan jag gedurende die 2015-/2016-seisoen. Die bevindinge toon dat besteding aan jag in die verlede onderskat is.

Die ondersoek het ook bewys dat jagters nie om die bos gelei kan word nie. Hulle dring aan op die ware jakob – nie fop- of nagemaakte jagervarings nie, maar ‘n egte Afrikajag. Plaaslike jagoperateurs moet dus fyntrap, veral omdat Namibië al hoe meer mededinging in die jagbedryf bied.

Prof Peet van der Merwe

Prof Van der Merwe gee toe dat die Nasionale Departement van Toerisme veel doen om Suid-Afrika as ‘n toerisme- en ekotoerismebestemming te bevorder, maar hy glo die departement kan meer doen om private ondernemers en PHASA te ondersteun in hulle pogings om Suid-Afrika ook as ‘n jagbestemming bekend te stel.

“Jag is ‘n vorm van volhoubare ekotoerisme,” sê prof Van Der Merwe. “Kyk net na die bedrae wat die jagters bestee teenoor dié van ander toeriste. Dit kan ook tot die skepping van meer werkgeleenthede in landelike gebiede bydra. Dit is ‘n lonende nismark wat nie verwaarloos mag word nie. Ons kan meer doen om die jagbedryf se beeld te beskerm.”

As reisgeld na Suid-Afrika en die prys van die wild wat gejag word buite rekening gelaat word, bestee ‘n trofeejagter aan Suid-Afrika gemiddeld R127 276 per jagtog.

Die spesies wat die meeste gejag word, is:

  • Rooibokke
  • Vlakvarke
  • Springbokke
  • Koedoes
  • Blesbokke

Die spesies wat die meeste geld inbring, is:

  • Buffels
  • Leeus
  • Swartwitpense
  • Koedoes
  • Njalas

Die redes wat respondente vir hulle besluit op Suid-Afrika as jagbestemming aandui, is:

  • Bekostigbaarheid
  • Beste waarde vir geld
  • Beskikbaarheid van wild
  • Verskeidenheid wildsoorte

Wat veiligheid in Suid-Afrika betref, het buitelandse jagters die volgende persepsies:

  • 92% voel veilig in die veld op jagplase
  • 50% voel veilig op lughawens
  • 47% voel veilig by besienswaardighede wat besoek word
  • 40% voel veilig terwyl hulle in Suid-Afrika reis
  • 24% voel veilig in die stede wat hulle in Suid-Afrika besoek het

Vir meer inligting, skakel prof Peet van der Merwe by 082-926-9240 of 018-299-1812, of stuur vir hom ‘n e-pos na Peet.VanDerMerwe@nwu.ac.za.

 

 

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

Dom Boer se lag vir die dag: