in ,

Toyota se C-HR ‘n heel gawe klein rakker

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

Ek weet nie van wêreldwyd nie, maar in Suid-Afrika verkoop sportsnutsvoertuie soos bier in ‘n sjebeen. Kompakte sportnutse raak by die dag gewilder en dit gaan nie meer lank wees nie dan gaan sedanmotors soos Corolla’s, Jetta’s en 3-reekse so vreemd wees soos kakie safaripakke in Nkandla.

Gevolglik bied al wat ‘n motorvervaardiger deesdae ‘n reeks fô-baai­­-fô modelle wat wissel van kranige veldryers met laestrek tot klein stoftrappertjies wat ten beste net randstene by inkopiesentrums kan klim. Tog is laasgenoemde die segment wat die meeste groeipotensiaal toon onder passassiermotors. In die kompakte SUV segment is daar ook heel bekwame veldryers soos Range Rover se Evoque, maar meeste is maar net mooi ontwerpe met groot wiele onder fris wielboë wat met klein enjins deur die voorwiele trek en ten beste ‘n goeie grondpad op’n sonskyndag kan baasraak.

Toyota het vroeër vanjaar ook hulle klein stoftrapper plaaslik bekendgestel met ‘n vreemde, half uitheemse modelnaam genaamd “C-HR”. Ek was by die bekendstelling in Gauteng en het nou onlangs weer die topmodel in die reeks van drie vir ‘n week se rygenot gehad.

Toyota het sy konserwatiewe benadering met die ontwerp van die C-HR heel oorboord gegooi en die eindproduk is ‘n treffende futuristiese en ultra-moderne stilering met waaghalsige aksentlyne en hoekige oppervlaktes wat onmiddellik aandag trek. Vir my persoonlik is dit die mooiste Toyota tans en vir seker die mooiste kompakte SUV tans plaaslik beskikbaar. Uiteraard sal smaak verskil, maar die oorvloed komplimente en belangstelling van mense, veral jongmense en vroue wanneer hul die C-HR van naby gade geslaan het, het my aangenaam verras. Ek het selde, en ek het die voorreg om gereeld besondere en peperduur voertuie te kan bestuur, soveel belangstelling en positiewe terugvoer vanuit die publiek ontvang.

Toyota C-HR

Terwyl die Nissan Juke hierdie koepee-tipe kompakte SUV-segment met sy waaghalsige ontwerp rondom 2010 herdefinieer het, het daar sedertdien kompeteerders soos ondermeer Honda se HR-V en Mazda se oulike CX-3 die lig gesien. Dit is egter die C-HR wat die prys moet kry vir die mooiste blom in die park.

Nou die naam C-HR is blykbaar ‘n akroniem vir iets soos “Compact High-Rider of Coupé High-Rider, maar dit kon ek nêrens bevestig kry nie.

Die treffende stilering en voorkoms is heel anders as wat tradisioneel van Toyota se konserwatiewe ontwerpfilosofie verwag is. Dit lyk meer soos ‘n konsepstudie vanuit die pen van ‘n jong rekenaarontwerper, maar die konkawe en hoekerige punte jel aangenaam op die oog met sterk vloeiende lyne in ‘n koepee-agtige mengsel tot ‘n treffende dog aangename geheelbeeld. Die groot wiele onder fris wielboë aksentueer die sportiewe en aggressiewe beeld wat deesdae ‘n al groter voorvereiste raak vir kopers van kompakte SUV’s. Dit het bygedra tot die C-HR se grondvryhoogte van 160 mm.

Die neus het ‘n skrefieontwerp vir die sierrrooster en uitstaanhoofligte wat na agter opswiep, terwyl daar twee ronde misligte laag weerskante onder in die groot voorste luginlaat geplaas is. Die agterligte steek ook prominent uit op die hoeke, terwyl dit treffend in die agterklap geïntegreer word. Die agterdeure se handvatsels is hoog bo in die hoeke daarvan geplaas om die koepee-ontwerp visueel te beklemtoon.

Binnekant is die afwerking eweso treffend en modern met sterk aksentlyne. ‘n Groot inligtingskerm middel bo in die voorste paneel is effe na die bestuurder gedraai en komplimenteer die ergonomie van die uitleg. Terwyl die blou agtergrondbeligting van die instrumentasie die ruimteskipbeeld versterk, bring dit ook ‘n effense luukse ambiaans in die kajuit. Die materiale vertoon en voel verbasend luuks vir so ‘n kompakte stoftrappertjie.

Toyota het die C-HR plaaslik in drie opsies beskikbaar gestel, maar al drie kom slegs toegerus met een enjinopsie. Dit is ‘n 1,2 liter turboaangejaagde drie-silinder petrol enjin wat maksimum 85 kW enjinkrag en 185 Nm wringkrag lewer. Aandrywing is by al drie modelle na die voorwiele deur ‘n 6-spoedratkas. Die intree C-HR 1.2T en die C-HR 1.2T Plus middelmodel is slegs beskikbaar met handratkaste, terwyl  die topmodel C-HR 1.2T Plus CVT soos wat ek tot my beskikking gehad het, toegerus word met ‘n poelie of te wel palwissel-outokas.

Toyota C-HR

Tydens die bekendstellingsrit was die CVT my keuse en dit is weereens bevestig tydens my toetsweek. Die ratkas het baie min  van daai aaklige tipiese CVT gekerm by hoë toere en het verbasend baie meer soos ‘n konvensionele klein outomatiese ratkas gevoel. Die CVT  bied ook ‘n opsie vir handratwisseling kompleet met sewe “ratte” .

Paddinamika was verbasend goed met die C-HR wat voordeel trek uit Toyota se nuwe TNGA-platform met ‘n lae swaartepunt. Die gevolg is goeie hantering deur draaie met min bakrol en genoeg greep.

Die nuwe generasie 1.2 turbo petrolenjin het oorgenoeg oemf en ‘n 0-100 kpu lopie van 10,9 sekondes word aangegee. Dit danksy regstreekse inspuiting, ‘n hoë drukverhouding en veranderbare kleptydreëling wat ook bydra tot ‘n baie billike brandstofverbruik wat amptelik aangegee word as 6,4 liter per 100 km.

Ek het die C-HR se onkonvensionele stilering en prettige “karakter” geniet. Met slegs 150 eenhede wat blykbaar maandeliks vir Suid-Afrika beskikbaar gaan wees, vermoed ek  Toyota Suid-Afrika gaan gou-gou ‘n lang lys belangstellende kopers moet paai. Skakel gerus jou plaaslike Toyota handelaar vir die jongste pryse en beskikbaarheid. Die oulike klein rakker gaan baie harte steel.

 

 

 

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

wol

Wolmark daal met 4,0%

Beeste

Bek-en-klouseer in Limpopo gevind