in

TOYOTA C-HR: DIE HERDEFINISIE VAN DIE NUTSMOTOR

Toyota C-HR

Die klein sportnuts-segment verteenwoordig die vinnigse groeiende ‘groep’ op die Suid-Afrikaanse voertuiglandskap. ’n Unieke eienskap van hierdie segment is die verskeidenheid en veelsydigheid van modelle.

Dit het gelei tot die geboorte van die ‘nutsmotor’ – ’n moderne samevoeging van die luikrug en sportnuts met die beste eienskappe van al twee om ’n voertuig daar te stel wat volmaak by die stadsleefstyl pas.

VAN KONSEPMODEL TOT WERKLIKHEID

Die Toyota C-HR is steeds merkwaardig getrou aan die eienskappe van dié konsepmotor wat soveel openbare belangstelling lok. Toyota teiken in die geval van die C-HR ’n duidelike en enkele klanteprofiel (die sogenaamde millenials). Hierdie klante, wat hoofsaaklik deur emosie beïnvloed word, wil individualtiteit hê, en wil die eerste wees wat nuwe produkte en ervarings op die proef stel. Styl en gehalte is noodsaaklike oorwegings vir enige produk wat hulle aanskaf, en die motor is ’n verlenging van hulle persoonlikheid.

“Ons glo die C-HR met sy treffende tromp-op ontwerp, fyn aandag aan detail en lewendige 1.2ℓ-turbo-enjin bied die perfekte pakket vir beeldbewuste stedelinge. Nog iets wat die C-HR onderskei, is sy rygenot-geaardheid wat in die smaak van die begeesterde bestuurder sal val,” sê Glenn Crompton, visepresident van bemarking by Toyota Suid-Afrika.

’n NUWE ONTWERPBENADERING VIR DIE NUTSMOTOR-SEGMENT

Die C-HR se kombinasie van edelsteenagtige slypvlakvorms met vloeiende oppervlakke en elegant geïntegreerde detail skep uit enige hoek gesien ’n baie fyn balans wat presisie en sensualiteit betref. Die voorkant verteenwoordig ’n verdere ontwikkeling van Toyota se kenmerkende ontwerpidentiteit.

Die C-HR se koepee-agtige stilering word verder deur onderskeidende deurhandvatsels in die C-pilaar en sy vloeiende daklyn beklemtoon. Die duidelike stertlighulsels gee die C-HR se agteraansig ’n ewe indrukwekkende visuele karakter.

GEKUNSTELDE BINNERUIM-ONTWERP MET SKITTERENDE GEVOELSGEHALTE

Die bestuurder-omgewing behels talle vernuwings en instinkmatige bruikbare tegnologie. Al die skakelaars en klankstelsel-vertoonskerm is effens in die rigting van die bestuurder gedraai. ’n Unieke tweevlakkige voorsitplek-ontwerp voeg die slanke, sportiewe boonste gedeelte (wat op die skottelsitplek-ontwerp van toentertyd gegrond is) by ’n stewiger onderste gedeelte wat meer steun bied.

Die diamant-motief word van die buitekant tot in die binneruim verleng en baie binneruim-elemente – wat die deurpanele insluit – span ’n soortgelyke vorm in. Versieringselemente is in hoëgehalte klavierswart afgewerk – met ingelegde metaalvlokkies – en satynsilwer afwerking met koel, blou beligting regdeur.

Toyota C-HR

1.2ℓ-TURBO-ENJIN BIED MOEITELOSE AANDRYWING

Die Toyota C-HR is die eerste plaaslike model wat Toyota se gevorderde nuwe turbo-enjin van 1.2ℓ inspan. Die 1.2T-enjin gebruik gevorderde tegnologie wat die enjin onder swaar lading van die Otto-siklus na die Atkinson-siklus laat oorskakel. Die 1.2T maak ook gebruik van direkte D-4T-brandstofinspuiting, VVTi-W, ’n  hoë drukverhouding sowel as ’n waterverkoelde turbo en hitteruiler.

Die enjin, wat ’n verplasingsinhoud van 1 197cm3 het, lewer 85kW en ’n bestendige wringkragkurwe van 185 Nm tussen 1 500 en 4 000 r/min. Die verpligte versneltyd van 0 tot 100 km/h volg in 10,9 sekondes met ’n topspoed wat op 190 km/h vasgestel is. Dit alles word ten spyte van ’n skerp fokus op brandstofverbruik en koolstof-uitlaatgas behaal – die handrat-weergawe haal 6.3 ℓ/100 km in die gekombineerde siklus, en skei net 141g/km se CO2-uitlaatgas af. Die palwisselmodelle (CVT) se syfers is 6.4 ℓ/100 km en 144 g/km.

GEVORDERDE Transmissiestelses

Twee transmissiestelsels is beskikbaar ­– ’n sesgang-handrat met Toyota se iMT (intelligente handratstelsel), of ’n soepel palwisseltransmissie (CVT).

Toyota se iMT-stelsel pas die enjintoere outomaties vir ’n seepgladde ratwisseling aan wanneer die bestuurder na ’n laer rat terugskakel. ’n Rataanwyser met twee pyltjies in die instrumentehuisie dui die volmaakte ratwisseling in die handrat-modelle aan.

Die palwissel-weergawe gebruik ’n elektroniese brein om te verseker dat die beste ratverhouding op grond van die voertuig- en enjinspoed sowel as die noodsaaklike versnelling ingespan word. Daarbenewens kan die bestuurder sewe voorafgeprogrammeerde ratverhoudings met handratwisseling kies.

PAS DIE MODUS AAN

Die bestuurder kan enige van drie rymodusse kies om die kragbron se eienskappe by die toestande aan te pas – Normal, Eco en Sport.

DINAMIKA WAT VLEI

Die C-HR pronk reg van die begin van die projek af met skitterende dinamika ten einde ’n nuwe rigting vir nutsmotors in te slaan. “Ons wou dieselfde soort verrigting as ’n goeie C-segment-luikrug bewerkstellig,” het Hiroyuki Koba gesê. Die nuwe TNGA-platform met sy lae swaartekragmiddelpunt en dubbelmik-agtervering het die volmaakte wegspringpunt gebied.

Om presisie te verseker, is ’n pasgemaakte MacPhersonstut-vering ontwerp. Dit behels ’n stutlaer-draaias wat verfyn is om stuurwrywing aansienlik te verminder en gladde, akkurate stuurwerk moontlik maak. ’n Dikker rolstaaf wat regstreeks met ’n skakel aan die stut gekoppel is, sorg vir luikrug-agtige rolweerstand.

Al die modelle het sewentiensduimwiele met 215-60R-17 bande. Die PLUS-modelle het lemagtige allooi-weergawes.

PRYSENSWAARDIGE TOERUSTING

Die C-HR het ’n magdom gemak- en geriefseienskappe. Die vertoonskerm (volkleur-TFT vir die PLUS-model) – word deur ’n vierrigting-skakelaar aan die stuurwiel beheer. Dié van die PLUS-modelle bied ook klankstelsel-verstelling.

Iets wat gewis in die smaak van stadsjapies sal val, is die elektroniese parkeerrem (EPB), wat instinktief werk deur outomaties in ooreenstemming met rat- en sleutelposisie te koppel en ontkoppel. Die voertuig het ook handige opdraande-wegtrekhulp met ’n skakelaar wat die bestuur kan druk om die voertuig langer in posisie te hou.

Die PLUS-modelle het ook dubbelsone-klimaatbeheer met eko-werking. ’n Handverstelbare lugversorgingstelsel word in die standaard-model aangetref.

Verdere gerief is die elektries verstelbare buitespieëls en skakelaars wat net een keer gedruk hoef te word om die vensters heeltemal oop of toe te maak. Die binneruim pronk ook met twee gerieflike bekerhouers in die middelkonsole, ’n rakkie vir selfone of mediaspelers en ’n 12V-kragsok.

In die geval van die PLUS-weergawes is die ruitveërs sowel as die kopligte van outomatiese skakelaars voorsien terwyl elektrochromatiese truspieëls wat outomaties verdof, onverhinderde nagvisie help verseker.

Die klankstelsel maak gebruik van raakskerm-tegnologie en stel die insittendes in staat om ’n verskeidenheid mediums deur die voertuig se klankstelsel terug te speel. Wat dít betref, bied die stelsel USB-, iPod-, iPhone- en Bluetooth-sokke sowel as CD/DVD.

Die PLUS-modelle het ook spoedbeheer.

VEILIGHEID

’n Volle pakket aktiewe veiligheidstoerusting is in die C-HR ingebou en behels sluitwerende remme (ABS), noodremhulp (BA), elektroniese remkragverdeling (EBD), opdraande-wegtrekhulp (HAC) en voertuigstabiliteitsbeheer (VSC).

Twee ISOFIX-ankerpunte is beskikbaar. Bestuurder en passasierslugsakke rond die veiligheidspakket af.

Toyota C-HR

MODELGRADERING

1.2 Turbo 6MT1.2 Turbo PLUS
VSC+HAC+ spoedbeheer
Elektries beheerde vensters+ Leerstuurwiel
Volg-my-kopligte+ 17”-allooisierwiele
12V-sok+ Misligte voor en agter
Afstand beheerde sentrale sluiting+ Elektrochromatiese truspieël
Daglig-ryligte (DRL)+ Dubbele klimaatbeheer
USB+ kleur-MID
Lugsakke vir bestuurder en passasier+ Reënsensor-ruitveërs
12V-kragsok 


KIES JOU C-HR

Drie weergawes is beskikbaar, met verskillende toerustinggraderings en keuses vir die transmissie. PLUS-modelle het aanvullende toerusting tot die basis-pakket.

  • Toyota C-HR 1.2T 6-gang-handrat – R 318 500
  • Toyota C-HR 1.2T 6-gang-handrat PLUS – R 345 000
  • Toyota C-HR 1.2T CVT PLUS            – R 356 000

WAARBORG EN DIENSPLAN

Al die C-HR-modelle het ’n omvattende diensplan vir vyf jaar of 90 000 km met versieningsposes elke 15 000 km. ’n Fabriekswaarborg van 3 jaar/100 000 km is deel van die prys.

Bron: Toyota

Toyota C-HR

Toyota C-HR

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

grappe

Dom Boer se lag vir die dag:

wol

Wolmark styg met 2,0%