in ,

Syngenta lewer nou onkruiddoders vir Afrika

As jy nie meer kan byhou met die aanvraag na jou produkte nie, moet jy vinnig spring om plan te maak. As jou produkte boonop tegnologies gevorderde gewasbeskerming vir boere bied, is dit voorwaar  ’n bewys dat kommersiële, gesofistikeerde en hoogs gespesialiseerde landbou besig is om fluks te groei in Suider-Afrika.

Syngenta het op 4 November ’n splinternuwe vul- en verpakkingslyn vir onkruiddoder by hulle aanleg op Brits geopen. Net soos die Seedcare Institute wat ook onlangs by die aanleg bekend gestel is, is hierdie R20-miljoen belegging die enigste in sy soort in Afrika. Syngenta kan nou met gemak dié produkte aan al die gretige kosprodusente in Afrika lewer. Die uitbreiding is ’n sleutelkomponent in Syngenta se groeistrategie in Suider-Afrika om plaaslik te vervaardig en plaaslik op te lei. Syngenta beplan om in die afsienbare toekoms ’n gesamentlike belegging van $500 miljoen in Afrika te maak.

Die adjunk-direkteur-generaal van die departement landbou, Mooketsa Ramasodi knip die lint om die verpakkingsaanleg te open. Links van hom staan Paul Claxton, aanleghoof en Andrew Guthrie, die streeksdirekteur: EAME.

 

Die nuwe vul- en verpakkingsaanleg vir Syngenta se onkruiddoders in Brits.

“Ons het 33 000 werknemers in 90 lande en die saak wat ons almal bymekaarbring is om boere met die jongste tegnologie te bemagtig om voedselsekerheid te bevorder en ongelykheid uit die weg te ruim. Hierdie belegging op Brits is een bewys van hierdie gesamentlike fokus,” sê Andrew Guthrie, Syngenta se streeksdirekteur: EAME.

Die aanleg kan twee, vyf en twintig liter houers vul en is heeltemal outomaties met robotte wat houers op die produksieband plaas, bottels volmaak, proppe opskroef, etikette plak en die houers in groepies versamel om dit in bokse toe te maak. Aan die einde van die produksielyn is daar ’n baie slim robot wat die bokse op ’n krat pak en rangskik om dit gereed te maak vir verskeping.

Linda van der Merwe, kliënte- en bemarkingsbestuurder; Paul Claxton, hoof van Brits se meng-, vul- en verpakkingsaanleg; Mooketsa Ramasodi, adjunk-direkteur-generaal van Landbouproduksie, Gesondheid en Voedselveiligheid van die Departement Landbou; Andrew Guthrie, streeksdirekteur: EAME; Antonie Delport, besturende direkteur, Syngenta Suid-Afrika en Tertia Boonzaaier, verskaffingsbestuurder en kliëntediens, voor Syngenta se nuwe onkruiddoderverpakkingsaanleg op Brits.

“Een van die grootse uitdagings in die landbou-ontploffing in Suider-Afrika is die beheer van onkruid en huidige metodes is heeltemal ontoereikend. Grondbewerking het ‘n groot invloed op erosie en is duur in vergelyking met die moderne neiging om gif te gebruik wat ’n lae residu en minimum invloed op die omgewing het en binne die wetlike regulasies is om natuurbewaring te verseker,” sê Paul Claxton, aanleghoof op Brits.

 

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Goeie reënval beteken goeie trekkerverkope

Monsanto se Acceleron dokter jou saad vanaf dag een