in ,

Suider-Afrika se sitrus smaak nog soet sukses

This post is also available in: Afrikaans

Die sitrusbedryf maak gereed vir nog ՚n seisoen van soet sukses met steeds groeiende uitvoerberamings na die vorige twee rekordjare.

Justin Chadwick, hoofuitvoerende beampte van die Sitruskwekersvereniging van Suider-Afrika (CGA), het aangekondig dat die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf waarskynlik in 2021 alle vorige uitvoerseisoenrekords sal oortref met ՚n verwagte getal van 158,7-miljoen kartonne. As die skatting bereik word, sal dit ‘n derde agtereenvolgende seisoen van rekorduitvoervolumes wees, met 130-miljoen kartonne wat in 2019 uitgevoer is, gevolg deur 146-miljoen kartonne in 2020.

Hy sê: “Ons huidige vooruitskouings vir 2021 dui op ‘n groei van 22% in die uitvoersyfers in net twee jaar.” Eswatini en Zimbabwe gesamentlik het ook hulle uitvoersyfers verhoog van 3,9-miljoen kartonne in 2020 tot ‘n geskatte 4,4-miljoen kartonne in 2021 – ‘n toename van 13% – wat die totale Suider-Afrikaanse volume wat deur Suid-Afrika se hawens uitgevoer moet word, op meer as 163-miljoen kartonne te staan bring.

Nawels en suurlemoene het sedert verlede jaar ‘n klein toename getoon, terwyl Valencia-lemoene (5%) en pomelos (16%) ‘n sterker toename getoon het. Daar word verwag dat sagtesitrusproduserende streke die belangrikste groei sal toon, met ‘n geskatte 30,5-miljoen kartonne wat in 2021 uitgevoer sal word, wat 29% hoër is as verlede jaar. Veral die laat-Mandarynsoorte staan uit in die kategorie sagtesitrus, met ‘n verwagte groei van 42% vanjaar.

Die Sagtesitrusfokusgroep het egter gewaarsku dat hierdie ramings afwaarts aangepas kan word sodra die seisoen aan die gang is, aangesien die voortgesette droogte in die Oos-Kaap en buitengewone nat toestande in die noordelike groeistreke die uitvoervolumes negatief kan beïnvloed.

Oesskattings oor die mediumtermyn dui daarop dat die sitrusbedryf na verwagting gedurende die volgende drie jaar sy uitvoere met nog 300 000 ton sal verhoog. Die groeiprojeksies vir sagtesitrus, suurlemoene en Valencialemoene alleen dui op ‘n verwagte bykomende R6,8-miljard in buitelandse valuta-inkomste en die skep van 22 250 volhoubare werkgeleenthede gedurende die volgende drie jaar.

Mnr Chadwick sê: “Hierdie syfers dui op uitstekende groei in die Suid-Afrikaanse sitrusbedryf en vir die plaaslike ekonomie. Die vraag na onsprodukte in die buiteland is ‘n wonderlike bewys van die gehalte van Suid-Afrika se sitrusvrugte. Daar is geen twyfel dat sitrusprodusente baie belê met die oog op die toekoms nie.”

Meer as R1-miljard aan produsenteheffings gaan oor die volgende vier jaar aangewend word vir navorsing en tegnologie om marktoegang te ondersteun en die regte omgewing skep om die vrugte te bemark.

Hy sê: “Om die potensiaal van die sitrusbedryf as ‘n Suid-Afrikaanse uitvoerproduk ten volle te ontwikkel, sal ons die regering en ander belanghebbendes nodig hê om hulle rol te speel. Ons sal byvoorbeeld sterk staatmaak op die doeltreffendheid van ons hawens om slegs die geskatte bykomende 13-miljoen kartonne vir hierdie jaar suksesvol te versend.”

Figuur 1: Vrugtewaardeketting en sleuteltegnologie

Tegnologie dryf sitrus se groei

Een van die redes waarom die sitrusbedryf so sterk groei en uitstyg bo ander uitvoerprodukte in Suid-Afrika, is die gebruik van tegnologie en die belangrike rol wat die CGA speel om sy lede by te staan met tegniese en wetenskaplike inligting om te voldoen aan die standaarde van die uitvoermark. Dit is een van die bevindings in ՚n studie wat onderneem is by die Universiteit van Johannesburg deur Shingie Chisoro-Dube, Reena das Nair en Namhla Landani.

Hulle het bevind nuwe tegnologie word gebruik vanaf die ontwikkeling van variëriteite, regdeur tot die vervoer en bemarking van produkte.

Produksietegnologie:

Biotegnologie

Gevorderde telingstegnologie word gedryf deur klimaatsverandering, weersomstandighede, siektes en patogene. Baie navorsing word gedoen om vir die plaaslike omgewing variëteite te ontwikkel wat die klimaat kan hanteer en weerstand bied teen siektes en patogene. Vooruitgang in biotegnologie sorg daarvoor dat variëteite geteel kan word met sekere ingeboude eienskappe soos smaak, voorkoms, raklewe, opbrengs, grondsoorte en selfs arbeidsbehoeftes.

Internasionale markvoorkeure moet ook in ag geneem word. Deur die CGA het Suid-Afrika byvoorbeeld daarin geslaag om nuwe plaaslike variëteite van sagtesitrussoorte, byvoorbeeld Mandaryns, soos Tango, en Clementines, soos ClemenGold, te ontwikkel, waarvoor daar internasionaal ՚n groot aanvraag bestaan. Dit neem van 10 tot 16 jaar om ՚n nuwe variëteit te ontwikkel.

Pes- en siektebeheer

Nuwe variëteite is een manier om weerstand teen siektes en peste te kry, maar daar is ook nou sagteware beskikbaar om boere vroegtydig te waarsku dat sekere weerstoestande spesifieke probleme tot gevolg kan hê. Slimfoontoepassings word ook gebruik om onmiddellik enige insekte of verskynsels te identifiseer en die beste behandeling te vind wat aan alle uitvoerregulasies voldoen met betrekking tot fitosanitêre maatreëls. Die CGA speel ook hier ՚n groot rol om seker te maak boere geniet toegang tot die jongste tegnologie en handelsvennote bly tevrede.

Presisieboerdery en besproeiingstegnologie

Waterskaarste en weersveranderings het bygedra tot die soeke na tegnologie wat help om elke druppel water ten beste te benut. Satellietbeelde en hoë-resolusie optiese sensors word saam met hommeltuie gebruik om behoeftes in boorde te bepaal en presies die regte hoeveelheid water en kunsmis op presies die regte plek by elke boom te plaas. Netbedekkings word ook toenemend gebruik om boorde teen skadelike elemente te beskerm.

Pakhuistegnologie

Outomatiese sortering en gradering

Nuwe outomatiese sorteertegnologie is meer akkuraat en vinniger as sortering met die hand. Optiese sensors sorteer die vrugte volgens kleur, grootte, vorm en gewig. Nuwe kamerategnologie is nou al beskikbaar wat vrugte volgens hulle smaak kan sorteer! Hoë-resolusiekameras met slim ligtegnologie (iFA – Intelligent Flavour Analyser) sorteer vrugte volgens hulle suikerinhoud en gehalte. Algoritmes word gebruik om vrugte te klas volgens eksterne eienskappe soos merkies of vlekke en kleur, en interne eienskappe soos suikerinhoud en enige gehalteprobleme binne die vrug, sonder om dit oop te sny.

Outomatiese sortering is al algemeen, maar een van die dae sal robotarms ook die verpakking hanteer om seker te maak die gemiddelde gewig van alle vrugte in ՚n sekere houer is so na as moontlik of net hoër as die verwagte gemiddelde gewig.

Verkoeling- en verpakkingstegnologie

Die behoefte om die raklewe van vrugte te verleng en gehalte tot by die eindverbruiker te behou, asook om elektrisiteit te bespaar, het al tot vele tegnologiese ontwikkelings in die pakhuisbedryf gelei. Suid-Afrika was vroeër ՚n voorloper in dinamiese verkoelingstegnologie, maar gebrek aan regeringsbefondsing vir navorsing het gemaak dat plaaslike boere nou na die buiteland moet kyk vir nuwe ontwikkelings.

Van die ontwikkelings sluit in modulêre eenhede wat van ligte, uitdybare materiaal gemaak word. Temperatuur en voggehalte kan elektronies van enige plek af beheer word, met sensors wat alles meet.

Met betrekking tot verpakking is daar toenemende wêrelddruk om gebruik te maak van materiaal wat gehersirkuleer kan word of in die natuur kan afbreek (biodegradable). Nuwe materiale wat gebruik word bevat tot 50% natuurlike grasvesel.

Vrag- en vervoertegnologie

Een van die grootste uitdagings vir die uitvoer van vrugte is vertragings in die hawe. Dit is nie vreemd vir ՚n besending vrugte om tot agt weke in die hawe deur te bring voordat dit gelaai en gestuur word nie. Die tegnologie om sitrus so lank te berg en vars te hou is ontwikkel, maar dit bly noodsaaklik dat die proses om vrugte te ontvang en te versend verbeter moet word.

Maersk, ՚n internasionale verskepingsmaatskappy, het tegnologie ontwikkel wat die proses van die plaas se pakhuis af, op die vragmotor, tot in elke vragruim kan beplan, kan reël en alle faktore soos temperatuur deurgaans kan moniteer. Plaaslik het die Sondagsriviersitrusmaatskappy ook ՚n stelsel ontwikkel wat elke vrag kan volg, maar kapasiteit- en ander probleme in die hawens maak die bestuur van enige proses moeilik.

Digitale platforms

Dwarsdeur die totale waardeketting raak die beskikbaarheid van inligting, sentrale datastelsels en die Internet van Dinge (IoT) al hoe belangriker. Veral met betrekking tot internasionale SPS (sanitêre en fitosanitêre) reëls moet elke vrug en alles wat in sy leeftyd met hom gebeur het, nagespeur kan word.

In hierdie stadium speel bedryfsorganisasies soos die CGA en Fruit SA (FSA) die grootste rol om boere te help om aan die standaarde te voldoen. FSA het byvoorbeeld die Departement van Landbou betrek by ՚n projek om ՚n elektroniese stelsel te ontwikkel vir sertifisering ingevolge SPS-reëls – dit staan bekend as Phytclean en help dat boere nie regeringskantore hoef te gaan besoek om klarings te bekom nie.

Die nuwe term in die bedryf is blokkettingtegnologie (Block Chain Technology) wat gaan oor die elektroniese spoor van die saad wat gebruik word tot die produk op die verbruiker se bord.

Verwysing: Shingie Chisoro-Dube, Reena das Nair and Namhla Landani, Technological developments in South Africa’s fruit industry and implications for market access & participation, March 2019, University of Johannesburg.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Stroop skoner met die splinternuwe Fendt Ideal

FieldNET and Zimmatic: a winning combination for Namibian farmer