in

Staal jouself met Kvernelandstaal uit die Jupidex-stal

This post is also available in: Afrikaans

Daar kom nou nie meer Vikings uit Noorweë om die wêreld te verower nie, maar gelukkig kan jy steeds jou boerdery bewapen met die beste Kverneland-staal uit dié Noorderland. Ole Gabriel Kverneland, wat die landbou-onderneming in 1879 gestig het, het die landboumasjineriewêreld met ’n hele paar skeppende oplossings ryker gelaat.

Die oplossings is gebore uit die noodsaak om werktuie te bou wat suksesvol in die yskoue, klipperige Noorweegse grond kan werk. Hy was die eerste om ’n tand aan ’n bladveer te monteer wat kan wegspring en terugkeer om voort te gaan met die werk en hy het ’n proses gevind om staal so te verhard dat dit feitlik onbreekbaar sterk is, maar steeds soepel bly.

Die bladveer is nou al deur baie ander maatskappye nageaap, maar die Kverneland-verhardingsproses bly uniek. Piet Vorster, bemarkingsbestuurder, Jupidex, het op ’n boeredag by Schweizer-Reneke verduidelik dat een van die redes waarom die induksieverhardingsproses uniek bly, te danke is aan Noorweë se goedkoop hidrokrag.

Elke stukkie staal wat verhard word, moet vir 24 uur deur die hoogoondproses gaan. Die verhardingsfabriek se kragverbruik is omtrent gelykstaande aan die van ’n stad soos groot soos Kaapstad!

Piet het die boere daarop gewys dat enigeen ’n werktuig mooi kan verf, maar die geheim lê onder die verf. Dit is ’n paar van hierdie geheime en nog ’n hele klomp ander skeppende oplossings wat Jupidex aan boere bied, wat by die boeredag aandag getrek het.

Jupidex se produkte is landwyd beskikbaar deur n netwerk van koöperasies en private handelaars. Besoek gerus www.jupidex.co.za vir meer inligting. 

Jupidex
Almal boer groter en wyer en die trekkers raak al hoe kragtiger,
maar jy hoef nie ontslae te raak van jou 4 meter-werktuie nie. Met Jupidex se nuwe Tool Carrier kan jy hulle langs mekaar haak en in een groot masjien verander wat selfs kan opvou om deur die hek te ry. As die groot trekker met ander belangrike werk besig is, kan jy net voortgaan om soos altyd die smaller werktuig op sy eie te gebruik.
jupidex
Kombinasiewerktuie is die antwoord vir beter en vinniger produksie. Met die Kverneland Qualidisc kan jy teen ’n werkspoed van 15 km/u baie meer hektare per dag kafdraf as met ’n ou gewone “offset”. Die skottels is teen ’n aggressiewe hoek gestel om stoppels fyn te sny. Daarna hark hy die grond gelyk en die rollers maak ’n lekker saadbed.
jupidex
Met een van Kverneland se CTC-masjiene kan jy sny, skeurploeg tot op 350 mm, gelyk maak en vasrol in een beweging. Dit is ideaal vir ’n stelsel van minimumbewerking en werk uitstekend ook in die Weste se sandgrond. Die werkspoed wissel van 8 tot 12 km/u. As jy ’n growwer saadbed wil hê, werk jy stadiger. Met Kverneland se bladveer het jy op 640 kg ’n wegbreekaksie en met Knockon kan die tand ook 20 cm van kant tot kant beweeg. Die raam kom niks oor nie.
Jupidex en Kverneland het nog ’n tree verder gegaan om jou te help om jou grond beter te bestuur met die vestiging van groenbemesting (cover crop) saam met jou eerste stoppelbewerking. Die a-drill het ’n 200- of 500-liter saadbak met 8 uitlate vir eweredige saadverspreiding en dit kan in kombinasie met die CLC PRO-, CTC- en QUALIDISC-bewerkers gebruik word.
jupidex
Die droogte het boere geleer daar is nie so iets soos te veel bale nie. Jupidex is ook die verspreider van die wêreldbekende McHalebalers. Daar is die F5400 wat net optel en baal en die F5500 met sy 16 lemme wat kap en baal, maar dit was veral die slim Fusion-model wat die boere van Schweizer-Reneke se tonge laat klap het. As jy op een dag 300 bale, wat elkeen netjies met plastiek toegedraai is, wil maak, dan koop jy ’n Fusion. Net so ’n paar feite: Hy het ’n 2,1-meter opteller, 25 messe wat die hooi in stukkies van 46 mm sny (halveer jou voermenger se werkstyd), ’n uitvalvloer wat jy vanuit die kajuit kan beheer om maklik van enige aangepakte materiaal ontslae te raak, die digtheid van die bale kan gestel word, binne 18 sekondes kry die baal drie lae plastiek, en terwyl hy die plastiek omdraai kan jy voortgaan om die volgende baal se materiaal op te tel. Die toegedraaide baal word dan netjies op sy plat kant neergesit, sodat hy nêrens heen kan rol nie.
jupidex
Jupidex bied nou ook drie Kverneland-sleepspuitmodelle aan. Die iXtrack B-model is beskikbaar met ’n tenkkeuse van 2 800 of 3 600 liter en ’n staalbalkkeuse van 18 tot 36 meter. Die pype en spuitstukke word binne-in die balk beskerm en met seksiebeheer en presisietegnologie kan jy presies die regte hoeveelheid spuitstof op die regte plekke in die land toedien.
jupidex
a

b. Een van die vervaardigers wat deur Kverneland oorgekoop is, is Vicon. Die maatskappy het besluit om die handelsnaam te behou, want Vicon is wyd bekend vir produkte soos snyers en strooiers. By die boeredag kon boere ook meer uitvind oor die Vicon-skyfsnyer. Hy is 3,2 m wyd, kan teen 15 km/u werk en elke skyf het 3 lemme. Die Vicon-strooier is nommerpas vir presisiewerk en kan seksiebeheer van links tot regs toepas. Met die Rotoflowstelsel bly die draaispoed konstant, maar die werpers kan verstel word om die strooi-afstand te verander. Jupidex het ook strooiers vir kalk en mis.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

mielieman

Mieliemanwedstryd: Monsanto gee terug aan ons land se skole

tata

Tata se Ultra lei die tydperk van winsgewendheid in