in

Sowat 1400 boere en Polisiebeamptes beveg misdaad saam

Tydens die vierde wit/bloulig operasie wat hierdie jaar in die Vrystaat gehou is, het 367 Polisiebeamptes en 1 032 boere die landelike gebiede van die provinsie gepatrolleer as deel van misdaadvoorkoming. Landbouers se patrollies het op 30 Augustus 2016 met behulp van 647 voertuie geskied, terwyl 173 voertuie deur die Polisie gebruik is.

Tommie Esterhuyse, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se Wet en Orde Komitee, bedank beide die Polisie en boere vir hulle proaktiewe optrede en opofferings, veral in brandpuntgebiede soos Welkom, Thabong en Bethlehem. Volgens die VKB/VL Veiligheidslessenaar se statistiek word veral in dié areas met misdaad gesukkel. Veediefstal is ook ’n enorme probleem in die provinsie, met die lessenaar wat die laaste drie maande ’n 20% styging aangeteken het.

Dìt, tesame met probleme soos die beperkte aantal Polisievoertuie wat op die platteland beskikbaar is, word met die Polisie se topstrukture bespreek en daadwerklike aksie word beplan.

Volgens Tommie het die wit/bloulig inisiatief reeds goeie resultate begin oplewer, met misdaad wat in sekere dele van die provinsie begin afneem het. “Hierdie patrollies en samewerking bou ’n belangrike verhouding tussen boere en die Polisie, ook vir die toekoms.” Hy bedank veral Lt Kol Johan Gelderblom, Provinsiale Koördineerder Landelike Veiligheid, wat die operasies reël, vir sy opofferings en steun.

Altesaam 325 boere en 55 Polisiebeamptes het die operasie in die Welkom- en Thabong-gebied gedryf. In die Trompsburg-gebied het 162 boere en 71 Polisiebeamptes deelgeneem, met 131 boere en 23 Polisiebeamptes in die Kroonstad-gebied. In die Bethlehem-distrik het 103 boere en 29 Polisiebeamptes deelgeneem.

Van die suksesse wat die operasie opgelewer het, is arrestasies vir aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer, diefstal, onwettige immigrante en besit van dwelms. Verskeie verkeersoortredings is ook aangeteken.

Beide Tommie en Lt. Kol. Johan sê die volgende operasie word reeds beplan, en hulle hoop om die operasies meer gereeld te kan aanbied.

Bron: VKB/VL Veiligheidslessenaar

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

Crisis point for South African poultry industry