in

Skaapbrandsiekte

skaapbrandsiekte

deur Jannie Fourie, produksie-adviseur, NWKV-Weskaap

Brandsiekte is ’n hoogs aansteeklike en verwoestende velsiekte onder skape. Dit is ’n beheerde siekte onder die Wet op Dieresiektes en moet onmiddellik by die naaste staatsveearts of dieregesondheidstegnikus aangemeld word.

Hierdie siekte word veroorsaak deur ’n klein velparasiet, Psoroptes communis ovis.  Die myt is ongeveer 0,8 mm lank en kan skaars met die blote oog gesien word. Hierdie siekte is sedert die 17 de eeu endemies in Suider Afrika. Ten spyte van aggressiewe behandelingstrategieë kon dit nog nooit uitgewis word nie.

Oordrag en verspreiding

Die siekte word versprei deur regstreekse kontak tussen skape. Brandsiekte kan ook deur mense, klere en voertuie van skaap tot skaap oorgedra word. Goeie biosekuriteit is belangrik om jou kudde te beskerm teen moontlike besmetting deur voertuie, skeerders en ander besoekers. Skaapbrandsiekmyte kan tot 17 dae oorleef in ’n kraal waar besmette diere was, daarom moet krale waarin besmette skape was minstens 17 dae leegstaan voordat daar weer skape ingejaag word.

Lewensiklus

Die parasiet kom hoofsaaklik op skape voor en die hele lewensiklus geskied op die skaap. ’n Wyfie lê tussen 40 tot 90 eiers in haar leeftyd van sowat 30 dae. Eiers word op die rande van ’n letsel op die dier se vel gelê.

Nadat larwes uitgebroei het, voed hulle op die veloppervlakte en vervel hulle tot nimfe wat dan weer voed en vervel om volwasse myte te word. In optimale toestande kan die lewensiklus in slegs nege dae voltooi word. Die myte prik die vel met hulle monddele en voed op die limf- en weefselvloeistowwe wat uit wondjies vloei. Die limf en vloei-stowwe meng met dooie weefsel, stof en vuilheid, uitskeidings van die myte en wolvesels en -olie. Daarna droog dit uit om skubbe of skurfte te vorm wat duidelik sigbaar is, vandaar die Engelse naam “scab”.

Simptome

Brandsiekmyte se bytplekke is geweldig irriterend vir die skaap en veroorsaak ontsteking. Liggaamsvog (bloedwei) sypel deur die vel rondom die bytplek. Die bloedwei vorm ’n kors en myte beweeg na die rande van die letsel. Skape byt en krap die letsels, wat dit verder laat uitkring. Wees ook bedag op kolle met gematte wol.

Na ses tot agt weke gaan twee-derdes van wol verlore deurdat die wol uitval of uitpluis wanneer skaap die sensitiewe velgebiede lek, byt, krap of skuur teen voorwerpe of ander skape. Besmette skape eet minder; hulle verkeer voortdurend onder spanning; hulle immuniteit teen siektes en parasie-te verswak; hulle verloor kondisie en; in erge gevalle, vrek hulle.

Harige skape word ook aangetas, maar in ’n mindere mate. In die winter wanneer skape swaarkry weens koue en swakker weidingstoestande, is parasiete meer aktief. Wanneer die temperatuur in die wolvag daal, die intensiteit van sonlig afneem en wolvogtigheid toeneem, floreer die brandsiekmyte eers. Bokke en nie-woldraende skape kan veral in die somer simptoomlose draers van brandsiekte wees.

Diagnose

Brandsiekte word gediagnoseer deur stukkies wol en velskrape rondom letsels te neem en dan onder ’n mikroskoop te bestudeer. Letsels is veral sigbaar op skouers en flanke van skaap. By ramme word die bors- en nekgedeeltes aan-getas, veral as hulle ooie dek.

Onthou dat rooiluis ook skape kan laat krap en jeuk.

Behandeling en beheer

Ondoeltreffende behandeling is meestal die gevolg van verkeerde gebruik van middels. Alle skape en bokke op ’n besmette plaas moet behandel word met ’n middel wat vir skaapbrandsiekte in die spesifieke ras goedgekeur is onder Wet 36 van 1947. Skape kan met geregistreerde dipstof of inspuitbare middels behandel word. Bokke moet altyd gedip word omdat skaapbrandsiekmyte nie op bokke voed nie en daarom werk inspuitbare middels nie op bokke nie. Kontak jou naaste veearts vir raad oor geskikte produkte vir jou omstandighede.

Maak seker dat daar streng by die korrekte dosis en tussenposes van dosering gehou word. Volgens die Dieresiektewet moet besmette diere op kontakplase twee keer behandel word met ’n tussenpose van nie minder as sewe dae en nie meer as tien dae nie. Dit is om te verseker dat nuut-uitgebroeide myte wat nog in eierstaduim was met eerste behandeling, aan ’n voldoende konsentrasie van die middel blootgestel word. Stel ook dadelik jou bure in kennis.

Dip

  1. Erg aangetaste skape met lang wol moet geskeer word voordat hulle gedip word.
  2. Skape moet minstens twee minute lank in diptenk bly en hulle koppe moet minstens twee keer ondergedompel word.
  3. Merk alle diere wat behandel is met merkink en gebruik verskillende kleure vir elke behandeling.
  4. Spuitdip is nie so doeltreffend vir brandsiekte nie, omdat daar nie behoorlike indringing van dipstof is nie.

Eienaar se verantwoordelikheid

  1. Die eienaar van eiendom in kwarantyn is verantwoordelik vir die verskaf-fing van akkurate skaapgetalle, soos opgeteken na eerste en tweede behandeling. (Indien enige diere oorgeslaan is met behandeling, word dit nie as behandeling beskou nie).
  2. Binne twee weke na die laaste behandeling moet ’n verklaring aan staatsveeartskantoor verskaf word met volgende inligting:
  • Naam van die produk en die dosis toegedien.
  • Afskrif van bewys van betaling met vervaldatum en groepnommer van die produk.
  • Datum van eerste behandeling en aantal diere behandel.
  • Datum van tweede behandeling en aantal diere behandel.
  • Verduidelik indien getalle van mekaar verskil, soos nuwe lammers gebore.

Brandsiekskape kan net geslag word as ’n Rooikruispermit daarvoor bekom word. Die vragmotor wat die skape verwyder sal op die plaas geseël word en die diere sal na ’n goedgekeurde slagpale vervoer word. Skape sal drie weke na tweede behandeling weer geïnspekteer word en indien hulle skoon van brandsiek is, sal die kwarantyn opgehef word. Indien daar ’n positiewe toets is, moet die hele proses herhaal word.

Voorkoming

  • Hou grensdrade in goeie toestand.
  • Behandel alle ingekoopte diere teen brandsiekte en hou hulle vir veertien dae in kwarantyn.
  • As jou diere by skoue in aanraking was met ander diere, behandel hulle en hou hulle apart van jou ander diere totdat seker gemaak is dat hulle skoon is.
  • Moet nooit ramme of ooie vir teeldoeleindes uitleen sonder om hulle voorkomend te behandel nie.
  • Meld alle diere in jou omgewing wat jeuk en krap dadelik by jou naaste staatveearts kantoor aan.
  • Behandel een keer per jaar jou kudde met middels wat ook brandsiekte bekamp.
  • Onthou dat indirekte oordraging deur mense, voertuie en krale kan plaasvind.
  • Skeerspanne wat van plaas tot plaas trek, kan ook indirekte besmetting veroorsaak. Voorsien skeerders van skoon oorpakke en ontsmet skeertoerusting.
  • Krale wat deur verskillende eienaars gebruik word, kan ook maklik besmetting veroorsaak.
  • Skape wat te voet van plaas tot plaas aangejaag word, kan besmetting veroorsaak.
  • Skaaptrokke, bakkies en sleepwaens moet altyd met ’n doeltreffende dipmiddel teen brandsiekte behandel word.
  • Veeartspraktyke, skoue, veilings, voerkrale en spekulasie met skape kan ook maklik die siekte versprei.
  • Dit kan ook gebeur dat plase langs hoofpaaie besmet kan raak deur stukkies wol of mis wat van vragmotors met besmette diere waai.

Wenke

  • Behandel altyd skape volgens die swaarste skaap se gewig.
  • Kalibreer die spuit deeglik en toets vir akkuraatheid voor behandeling.
  • Maak seker dat die naald nie dwarsdeur die vel gedruk word nie.
  • Indien moontlik, verskuif skape na ’n skoon kamp waar vir 21 dae nie skape geloop het nie.

Verwysings:

Skaapbrandsiektevoorkoming deur Biosekuriteit, Dr EA Nel (BVSc), Staatsveearts Upington;

Skaapbrandsiekte – behandeling en beheer, Dr A Victor, adjunk-direkteur, Veterinêre Publieke Gesondheid, Noord-Kaap;

Skaapbrandsiekte, dr Brand van Sittert, MSD Animal Health; Skaapbrandsiekte, Elsenburg-inligtingstukke, J du Plessis;

Sheep-scab, Department of  Agriculture, JA Turton; Farmers’ Handbook, Bayer Animal Health; Sheep and goat diseases, Proff G Bath and J de Wet.

Skakel Jannie Fourie by 083-564-1105 of e-pos hom by jannie@overbergwireless.co.za vir meer inligting oor skaapbrandsiek.

 

skaapbrandsiekte
So lyk die Psoroptes communis ovisparasiet
onder die mikroskoop.
skaapbrandsiekte
Brandsiektebytplekke droog uit om skubbe of skurfte te vorm wat duidelik sigbaar is, vandaar die Engelse naam “scab”.

skape

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

vleisbeeste

Hanteer jou vleisbeeste só – Deel 1: Ken jou diere

hoewe

Laat trap jou beeste in hulle spoor 3: Duiftonigheid is niks om oor te koer nie