in ,

Sjiek Sweed wat die koppe laat draai: 2019 Volvo XC60 D4 AWD R-Design

volvo

This post is also available in: Afrikaans

Deur DIRK GALLOWITZ van Ultimate Drive

Die nuwe Volvo XC60 is onder andere bekroon as 2018 Wêreld Motor van die Jaar en dit op sigself spreek boekdele. Ons het die 2019 model XC60 D4 in die sportiewe R-Design afwerking onlangs vir ‘n week bestuur en was verbaas hoeveel aandag die luukse Sweedse SUV getrek het. Toegerus met groot 21” wiele het die middelgrootte sportnuts sportief en aggressief vertoon.

Die speelveld waarin die XC60 meeding is hoogs mededingend en die XC60 kompeteer ondermeer teen swaargewigte soos die gerekende trio uit Duitsland , Audi Q5, BMW X3 en Mercedes-Benz GLC. Dan is daar ook die veelbekroonde Range Rover Evoque en Jaguar se E-Pace vanuit Elizabeth se koninkryk wat ewehard aan die deur klop met ‘n handvol minder gerekende en ook goedkoper teenstanders van Renault, Peugeot, Ford, Opel, Toyota om maar net ‘n paar te noem.

Die jongste generasie XC60 het reeds in 2018 in Suid-Afrika gedebuteer met verskeie modelle, maar dit is die eerste maal dat ons die D4 weergawe kon toets.

Waar “D” in die modelnaam op dieselaandrywing dui, is die “4” weer ‘n verwysing na die enjin se kraguitset. Volvo gebruik steeds net ‘n 2.0 liter kragbron vir al sy enjins, maar bied verskillende kragleweringsvlakke deur gebruik te maak van slim enjintegnologie en turbo-opsies.

In D4 gewaad lewer die 2.0 liter 4-silinder turbodiesel 140kW en 400Nm wat wakker verrigting en heerlike krag deur die toerestrek lewer vir ‘n uiters aangename bestuurservaring op die pad. Gelaai met 5 volwassenes en ‘n laairuimte vol bagasie het ek die pad Stilbaai toe aangepak vanuit die Weskus en was aangenaam verras met die XC60 se verrigting en brandstofverbruik tydens ons meer as 800 kilometer reis.

Ons kon weliswaar nie Volvo se amptelike brandstofverbruik van 5.2 liter per 100 km ewenaar nie, maar dan weer is dit nooit my doel om brandstofverbruik na te jaag nie. Ek verkies om die dinamika en verrigting van die voertuig te geniet. Aandrywing is na al vier die wiele met behulp van ‘n heerlik gladde 8-spoed outomatiese ratkas.

Kajuit en toerusting 

Soos alle hedendaagse Volvo’s is die XC60 geen uitsondering waar dit die bekende praktiese uitleg, skoon lyne en minimalistiese benadering tot skakelaars en instrumentasie aangaan nie. Volvo stel die standaard waar dit gebruikersvriendelike doelmatigheid van katoeters in die kajuit aangaan. Afgesien van die uiters aantreklike kajuit is die afwerking en materiale in die kajuit van hoogstaande gehalte met ‘n luukse voorkoms en gevoel. Die Sweedse planmatigheid het ook gesorg vir praktiese geriefies soos etlike stoor en bêreplekke, selfs vir klein items.

Die R-Design Premium Pack (R72 250) pakket sluit onder meer in verhitte voorsitplekke, 360˚kamera, parkeerhulp, 21”wiele, en ‘n fenominale Bowers & Wilkins klankstelsel.

Bagasieruimte bied 505 liters en kon vyf van ons se naweekgoedjies gemaklik hanteer. Ons toetsmotor was toegerus met opsionele lugvering (R26 750) wat ook die voordeel bied dat die agterkant met die druk van ‘n skakelaar in die bagasieruim gesak kan word om inlaai te vergemaklik. 

Paddinamika en verrigting


Die R-Design stileringspakket, met veral die pragtige 21” wiele wat die XC60 se sportief aggressiewe voorkoms beklemtoon. Ongelukkig word ritgehalte  benadeel deur die lae profiel bande. Danksy die lugvering was die ritgehalte egter in geheel aangenaam. Ons het egter ‘n band verloor na slegs 4 km op ‘n relatief goeie grondpad wat vir enige SUV in hierdie segment maklik begaanbare gebied behoort te wees.

Op die ooppad was die XC60 D4 in R-Design ‘n fees om te bestuur met goeie greep en stuurgevoel wat gesorg het vir uitstekende hantering en padgedrag. Die 400 Nm wringkrag wat reeds teen lae toere beskikbaar en gemaklik deur die toerestrek kon hardloop, het verbysteek selfs teen opdraendes moeiteloos gemaak.

Slotsom

Vir my persoonlik kies ek die XC60 as ‘n pakket soos getoets, bo sy eweknieë uit Duitsland. Met Inscription afwerking en R-Design pakket is die 2019 XC60 vir my die mooiste SUV in sy segment. Die 2019 Volvo D4 AWD Inscription R-Design met die opsionele lugvering soos getoets, verkoop teen R890 000 (standaard R735 100) wat insluit ‘n onderhoudsplan en waarborg van 5 jaar of 100 000 km. Dienste moet elke 12 maande of 20 000 km gedoen word.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Land Bank

Land Bank: “We support agriculture”

afgri

Hunt & buy farm equipment on AFGRI ‘digital supershop’