in ,

Sink 'n paal sonder dat die splinters spat

“Ons het in ’n kits ’n 150mm teerpaal 800 mm diep in klipharde wintergrond ingeslaan sonder om ’n hamer te lig,” sê Jannie Myburgh van Myburgh Toerusting in Ermelo. Jannie gee ’n nuwe betekenis aan die boer-maak-’n plan-gesegde met sy oorspronklike idees.

Sy jongste ontwerp is ’n paalslaner wat vir enige boer gemakversekering bied. Die paalslaner word, soos baie van sy vorige ontwerpe, aan ’n doodgewone vurkhyserraam geheg, wat dan aan ’n trekker se driepunt koppel.

Die paalslaner werk so: Op die plek waar die paal moet staan, word daar eers ’n klipbreker oftewel ‘rockspike’ van 80 mm dik en 1,3 meter lank in die grond geslaan sodat enige klip uit die pad gestamp kan word. Die klipbreker word 1 meter diep in die grond geslaan.

Die aandryfaksie bestaan uit ’n gewone hidrouliese silinder wat ’n kabel oor ’n katrolstelsel intrek en laat skiet om ’n ysterblok van 330 kg op ’n buffer te laat val wat die klipbreker stewig vashou.

Sodra die klipbreker sy gat gemaak het, word die hele paalslaner deur die vurkhyserraam opgelig. Die kraag van die klipbreker haak dan aan ’n arm onderaan die paalslaner vas sodat dit uit die grond getrek kan word.

Daarna word die yster- of houtpaal in die gat gesit om met dieselfde prosedure deur die paalslaner in die gat gedryf te word. Daar is dus geen vasstamp van pale, of sement betrokke nie. Pale van tot drie meter lank kan met die nuttige werktuig geplant word.

Die raam van die paalslaner is ’n stewige 3 meter hoë, 200 x 100 mm I-balk om te verseker dat die werktuig vir baie jare sal hou. Die op-en-af-aksie van die silinder en vurkhyser word met hefbome vanuit die trekker se kajuit beheer.

Vir meer inligting, kontak Jannie Myburg by 082-417-0175082-417-0175, mybtoer@gmail.com of besoek sy webwerf, www.mtoer.co.za om sy reeks nuttige produkte te bewonder. Soek ook gerus ‘Myburg Toerusting’ op Youtube om na sy reeks produkvideo’s te kyk.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Suid-Afrika sit met 'n moraliteitsprobleem.

Vangysterkursus gee hoop vir boere in Humansdorp-omgewing