in ,

Shell bied slim smeermiddels wat self kan dink!

shell
Anton Niemann van Shell Lubricants het by NAMPO met Annemarie Bremner van ProAgri gesels oor die maatskappy se slim smeermiddels en dienslewering aan boere.

This post is also available in: Afrikaans

Olie is lank nie meer net ‛n smeermiddel wat goed glad oor mekaar laat gly nie. Shell se Rimula R4 kan al glads vir homself dink en aanpas by die enjin se spesifieke behoeftes. Dit staan bekend as aanpasbare bymiddeltegnologie; die produk pas fisies en chemies by enjins aan om net die beste beskerming teen sure, slytasie en aanpakking te bied, sodat die enjin op sy beste kan presteer.

Boere durf nie die rol wat die regte smeermiddels speel miskyk nie. Anton Niemann, hoofbestuurder van Shell Smeermiddelverkope, sê die koste van smeermiddels is maar ongeveer 3% van ‛n boer se totale operasionele begroting, maar die gebruik van verkeerde smeermiddels in vandag se gevorderde enjins kan enorme skade veroorsaak.

Net so het die gebruik van die regte tegnologies gevorderde middels ‛n groot invloed op brandstofbesparing en verminderde onderhoud. Dit beteken minder staantyd vir die boer en meer produktiwiteit.

Anton het by NAMPO Shell se betrokkenheid by landbou herbevestig en gesê hulle werk tans aan ‛n plan om hulle smeermiddels meer sigbaar te maak by alle verkooppunte in die platteland, soos koöperasies en die netwerk van handelsmerkverskaffers.

Landbou en die geel skulp-embleem loop reeds ‛n lang pad saam, sedert Shell meer as ‛n eeu gelede in Suid-Afrika aangekom het. Van die heel eerste NAMPO af, was Shell by dié groot geleentheid op die landboukalender betrokke.

Anton vertel met sy eerste bestuursvergadering in die Bloemfonteinkantoor in 1989 is die plan vir die Shell-gebou op die NAMPO-terrein goedgekeur. Deel van Shell Lubricants se strategie vorentoe is om ook meer sigbaar betrokke te raak by georganiseerde landbougeleenthede, soos kongresse en boeredae.

Shell werk ook hard daaraan om die mense wat boere moet bedien op te lei en te bemagtig om die regte produkaanbevelings te doen. “Ons het ‛n uitstekende tegniese span in die veld. Hulle kan ‛n boer help om ‛n behoorlike smeermiddelopname van al sy toerusting te doen en ‛n plan uit te werk. Almal is prysgedrewe en ons gee waarde vir geld,” sê Anton.

Hy sê na die lang droogte is daar baie kostedruk op boere en Shell se rol is om deur middel van produktegnologie boere te help om minder geld aan onderhoud en brandstof te bestee.

Nog ‛n nuwe fokuspunt van Shell Lubricants is om digitale tegnologie te gebruik om boere te help met produkkeuse en bestellings. Anton sê daar is nou ontwikkelings soos selfoontoepassings wat boere kan gebruik om die regte smeermiddel vir toerusting te vind, bekend as Shell LubeMatch.

Shell gaan ook meer van digitale bemarking gebruik maak om boere te bereik. Hy sê interessante statistiek dui daarop dat 90% van die wêreld se digitale data in die laaste twee jaar geskep is, en dit is belangrik dat boere en hulle verskaffers op die voorpunt bly van die digitale tegnologiestroom.

Die Suid-Afrikaanse mark geniet die voordeel van ‛n internasionale oliemaatskappy met meer as ‛n miljoen sakekliënte (B2B) in 150 markte en wat vir die 11de agtereenvolgende jaar as die beste oliemaatskappy in die wêreld aangewys is. Onder die kriteria vir hierdie aanwysing is die gehalte van produkte en die herkenbaarheid van die handelsmerk. Veral in die dieselvoertuigmark waar die Rimula-reeks die hoofproduk is, bly Shell jaar na jaar die gewildste handelsmerk. Shell is ook internasionaal aangewys as John Deere se verskaffer van die jaar.

Terug op die plaas kan boere gerus op die uitkyk bly vir spesiale pakkette en aanbiedings deur Shell Lubricants se netwerk van verspreiders. Besoek www.shell.co.za om uit te vind waar jou naaste verspreider is of vind die regte smeermiddel vir jou masjien aanlyn. Vir tegniese hulp, kontak +27(0)11 996 7444 of shelltechnical-za@shell.com

shell

shell

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Bearing International is ernstig oor landbou

gallagher

Gallagher: Beveilig jou plaas