in

Senter360 maak suikerrietboerdery soet

Senter360

Suikerriet word oor die algemeen as ’n maklike kontantgewas beskou wat min insette en moeite verg. Maar suikerriet is hard en taai. Dit benodig baie water en word dan baie hoog en feitlik ondeurdringbaar as oestyd naderkom.

Tradisioneel het boere sleeppype met Floppy- of klapspuite gebruik om die massa water toe te dien, maar dit verg fyn bestuur en baie arbeid wat ’n groterwordende uitdaging word. Drupbesproeiing is gewilder en baie kostedoeltreffend, maar verstoppings en onderhoud bly ’n kopseer omdat ’n mens fisies nie kan sien wat met jou besproeiingstelsel aangaan nie! Na die afgelope drie jaar se droogte het boere ook besef dat suikerriet op droëland kort duskant selfmoord draai.

Senter360 bied ’n hoëprofielspilpunt aan wat baie gewild onder suikerrietboere is. In die onlangse verlede het agt boere in Empangeni, Mkuzi, en Pongola in die Zoeloelandstreek meer as 25 van hulle spilpunte (70 torings) gekoop. Ses van daardie boere vertel hoekom hulle Senter360-boere geword het. Lees in hierdie en die opvolgartikel wat hulle beweegredes was.

Dave Bell hou van plaaslike ondersteuning

Dave Bell van Empangeni het in 2013 sy eerste Senter360-spilpunt gekoop en vandag staan hy op sewe, wat 120 hektaar besproei. Een van hulle is Senter360 se hidrouliese/wateraangedrewe spilpunt. Hy het nog vier bestel wat ’n verdere 31 hektaar moet benat. Quintin van Onselen is Dave Bell se plaasbestuurder.

“Ons het na verskeie ander handelsmerke gekyk, maar die prys en taaiheid van die produk was ’n groot faktor, asook die plaaslike ondersteuning wat Senter360 bied. Ons het baie tonne verloor met ’n vorige verskaffer omdat hulle nie in ons omgewing naverkopediens kan lewer nie. Senter360 is hier,” sê hy.

“Empangeni is naby die kus en jy moet kyk na roes. Senter360 se spilpunte is volversink en die struktuur is sterk. Dit is ’n gebruikersvriendelike en maklike spilpunt om te hanteer en die werking is nie moeilik om te verstaan nie,” sê hy.

“Ons het gemiddeld 68 ton suikerriet per hektaar op droëland geoes. Onder ons spilpunte kan ons nou tussen 105 en 110 ton produseer.”

Diefstal in Empangeni is maar ’n groot probleem en Dave het vir elke spilpunt ’n alarmstelsel wat ’n teksboodskap Of e-pos uitstuur, of ’n oproep maak as daar ’n fout opduik, soos as daar met die stelsel gepeuter word, of as die krag afgaan. Elke oggend kry Quintin ook ’n “health check report” om te bevestig dat elke spilpunt se alarmstelsel aan is en aan die werk is. Hierdie funksie is ook deur Senter360 aangebied en in werking gestel.

Senter360
Johann Breet is die HUB en Marius Appel die streeksverkoopman van Senter360. Quintin van Onselen is Dave Bell se plaasbestuurder en hulle wys hoe lyk die kontrolekas in die veiligheidskamer wat Quintin onder elke spilpunt se sentrale toring moes bou om diefstal en peuter
te verhoed.

John Readman voel nou in beheer

John Readman boer ook buite Empangeni en moes verlede jaar die groot besluit neem na die driejaar-droogte… Hy besluit toe om die groot kans te waag en leen geld om drie spilpunte op te rig. Die suikerrietboere praat onder mekaar en nadat John met Dave Bell gepraat het, het John ook besluit om die Senter360-roete te volg.

“Ek het die eerste spilpunt op 1 November bestel en op 18 November was hy aan die gang. Die tweede en derde spilpunt het in Desember begin loop. Twee jaar gelede het ek 35 ton per hektaar afgehaal en as ek so na die riet kyk, gaan ek vanjaar meer as 80 ton oes. Dit beteken dat ek binne drie jaar my spilpunt sal afbetaal net op die verhoging in tonnemaat,” sê John.

John kon nie uitgepraat raak oor die Senter360-span se flinke diens nie. “Ek gee vir Marius die eer vir die transaksie. Hy was altyd stiptelik en ken sy produk. Ek kan hom vandag nog raad vra oor enige van my ander besproeiingsprobleme. Johan Visagie, wat die oprigtingswerk gedoen het, was uitstekend. Hy was amper tot op die uur betyds met elke gedeelte van die oprigtingskedule. Hy kon herhaaldelik my vrae beantwoord en my touwys maak. Selfs die vervoerkontrakteur wat die spilpunt kom aflaai het, het met lof van Senter360 gepraat.”

Senter360 se ondersteuningstruktuur word van ronde staalpyp in plaas van hoekyster gemaak, wat keer dat dit kan omwaai, omdat dit ligter is en minder windweerstand bied. John was ook baie beïndruk met die sweiswerk en die dikte van die staal waarvan die spilpunte gemaak is. Die aluminiumkragkabel was ook vir hom ’n groot trekpleister omdat dit geen herverkoopwaarde vir diewe het nie. Die eenvormigheid van die sprinkelaars en die gemak om dit uit te klik en om te ruil was ’n verdere aansporing om Senter360 te kies. Volgens John is die panele van die kontrolekaste baie eenvoudig en prakties, dit wil së verbruikersvriendelik.

“Ek kan nou op ’n Sondagoggend, wanneer die elektrisiteit goedkoper is, my spilpunte self gaan aanskakel en die gevoel dat ek man-alleen 100 hektaar kan besproei is onbeskryflik. Met die draai van ’n knoppie op die wisselbare aandrywing (VSD) kan ek die water presies volgens my behoeftes plaas. Ek voel dat die boerdery nou werklik myne is,” sê hy. Sou iets skeefloop, sal sy foon hom waarsku, soos op Dave Bell se plaas.

Senter360
Johann Breet, Marius Appel en John Readman by die suikerriet wat volgens John tot drie keer hoër groei met besproeiing. Hy sê met die spilpunt kan jy ook presies sien wat aangaan, anders as met
drupbesproeiing.

Jono Saville wil oral spilpunte opsit

Jono Saville boer buite Pongola en Dave Bell het hom ook met Marius in aanraking gebring. Hy het reeds twee Senter360-spilpunte in die werk gesteek. Jono se plaas het klipperige grond en twee-en-’n-half jaar gelede het hulle grondmonsters geneem om die grond se waterdrakrag te meet.

“Ons het uitgevind dat die grond baie vlak is en nie meer as 20 mm tot 25 mm op ’n slag kan absorbeer nie. Ons verdamping beloop ongeveer 7 mm per dag en omdat Senter360 se hidrouliese/wateraangedrewe spilpunt 20 mm in 16 uur plaas, pas dit ons uitstekend, want ons moet minder water meer gereeld toedien. Ek het Brasiliaanse gras onder die spilpunt geplant en dit het amper soos suikerriet gelyk! Toe ons dit gesny het was dit skouerhoogte,” sê Jono.

Die tweede spilpunt is nou in Junie vir Jono se 7,5 ha land opgesit. Tans dien hy 8 mm water in 24 uur toe, maar hy kan dit verander na 20 mm sodat hy Eskom “Ruralflex” se goedkoper elektrisiteitsure kan benut.

“Ons moet ons grondopppervlakte mooi benut en ek wil oor die volgende vier jaar soveel spilpunte as moontlik oprig om my sleeppype te vervang. Volgens die plaas se kaarte is daar plek vir nog agt spilpunte. Ek het op wateraangedrewe spilpunte besluit sodat ek nie elektrisiteit hoef aan te lê nie. Ek glo ons sal 20 ton per ha meer op daardie lande kan produseer.

“Baie boere dink dat die R35 000 tot R40 000 wat jy per hektaar vir ’n kleiner spilpunt moet uithaal, baie duur is, maar as jy die gerief, doeltreffendheid en verhoging in opbrengs in ag neem, is dit nie ’n moeilike som om te maak nie. ’n Mens kan ’n spilpunt ook finansier, so dit maak absoluut sakesin om daarin te belê. Ek behoort myne binne drie tot vier jaar af te betaal,” sê Jono.

Die suikerrietboere in Noord-Natal kon soos een man saamstem dat Senter360 ’n reuse invloed op hulle boerderye het. Buiten dat Senter360 se spilpunte gehalte en gebruikersvriendelikheid uitstraal, is hulle bekostigbaar en betaal hulle hulleself in ’n kort tydjie terug. Daarbenewens maak ’n Senter360 sakesin met die indrukwekkende opbrengs wat hulle bied.

Senter360
Jono Saville se wateraangedrewe spilpunt is die eerste een in Pongola en het die Brasiliaanse gras skouerhoogte laat groei voor dit gesny is.

Sien die nuwe Senter360-webblad vir kontakbesonderhede: www.senter360.co.za/about-us/ contact-us/project-team

Senter360
John Readman is baie ingenome met die nuwe Komet-sproeier wat deur Senter360 verskaf word.

Senter360
Johann Breet en Marius Appel staan weerskante van Jono Saville by die splinternuwe spilpunt wat Senter360 in Junie geïnstalleer het.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 2

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 50.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 50.000000%

Kubota

Rooiberg raak ’n oranje sukses

LEMKEN

LEMKEN grawe homself in in die suikerrewolusie