in ,

Seil Safari: So boer ons in die branders

This post is also available in: Afrikaans

Pas aan by verandering, bedink ՚n strategie, moenie stuit teen dinge wat jy nie kan verander nie, gebruik tegnologie tot jou voordeel, maak voorsiening vir slegte tye, aanvaar dat alles in boerdery siklies is, ondersoek alternatiewe, diversifiseer, voeg waarde toe, wees positief, vind jou sterk punte en bou daarop, droom groot…

Dié boodskap het soos ՚n goue golf deur al die aanbiedings op Laeveld Agrochem se Seil Safari op die MSC Musica geloop. Die landbouskou op water het voortgebou op verlede jaar se sukses en ՚n propvol program met gelyklopende sessies het gesorg dat die boere mooi moes kies en soms haastig van die een punt van die reuse skip na die ander moes vorder om na die kundiges te luister.

Met die wegtrekslag het die skip se rolaksie in ՚n ietwat ontstuimige see gesorg dat almal vinnig hulle staan en loop moes kry. In die hysbakke (en daar is vier stelle van hulle op die skip) is daar knaend by mekaar raad gevra oor vloere, sale, restourante en watter kant toe nou eintlik vorentoe of agtertoe is.

Teen Dinsdagoggend het almal geweet waar Vloer 13 is met die 24-uur gratis restourant waar daar die hele dag deur pizza gemaak word. Die Laeveld Agrochem-saal en die Toyota Teater was die volgende ankerpunte en dan het die meeste van die meer as 2 000 reisigers darem redelik gou hulle pad na hulle slaapplekke toe gevind – elke gerieflike kajuit met ՚n uitsig op die see. Die doel van die reis met sy seeuitsig is om aan boere en ander rolspelers in die landbou meer insig te gee in huidige omstandighede, beskikbare tegnologie en moontlikhede vir die toekoms.

Droom en bou ՚n padkaart na die toekoms

Professor Johan Willemse

Professor Johan Willemse, bekende landbou-ekonoom, se aanbieding was baie gewild en mense het elke sitplek gevul en tot op die mat gesit om na sy nugter advies te luister. Hy het boere gemaan om ՚n padkaart na die toekoms te skep en om op te hou vasloop teen drama, detail en probleme. Hy sê: “Oppas waaroor julle praat op die boerevereniging se vergaderings. Dit gaan nie help om ure lank te debatteer oor droogtehulp van die regering af nie. Die regering gaan nie help nie. Punt.”

Hy sê in Australië woon hy ՚n boereverenigingvergadering by en hulle praat oor hoe om wins te maak. Hulle fokus daarop om meer met minder te produseer. Hulle dink skeppend. “Baie keer is die probleem nie die probleem nie – die probleem is in ons koppe!”

Hy sê om mededingend te bly, moet boere skeppend dink en ՚n plan hê om vorentoe te gaan. “Solank as wat daar ՚n mark vir jou produk is, is daar ՚n toekoms vir jou.”

Daar word bereken dat daar reeds 70-miljoen mense in Suid-Afrika is en hulle kos kom van kommersiële boere af. Die vraag na kos gaan groei, maar die prys gaan nie groei nie, en dit is waarom ‘n boer die regte tegnologie moet aangryp om meer met minder te produseer.

“Jy kan nie meer soos Zola Budd kaalvoet in die Olimpiese Spele gaan hardloop nie. Die tekkies is daar, die gereedskap om tegnologies beter te boer is daar – jy moet net die tekkies aantrek.” Die drie grootste risiko’s wat deur die topmense in die internasionale sakewêreld uitgewys is, is ekstreme weersomstandighede, die versuim om by klimaatsverandings aan te pas en natuurrampe.

“En hierdie mense is nie boere nie, hulle is rekenaarmense. As hulle dit sien, dan moet ons dit des te meer sien. Water gaan nog ՚n groot probleem raak in ons tyd.”

Professor Willemse sê hy het onlangs weer by ՚n boerevereniging gehoor hoe die boere kla oor die regering se maatskaplike toelaes van R240-miljard, maar daar is nie geld vir subsidies nie.

“Dink so daaraan. Maatskaplike toelaes IS subsidies aan boere, want die helfte van arm mense se geld word vir kos gebruik.”

Boer met presisietegnologie

Een van die tegnologie-oplossings wat tydens die reis deur Laeveld Agrochem aan boere bekend gestel is, is MyFarm-WebTM wat deur Agri Technovation in samewerking met Mezzanine (Vodacom) ontwikkel is.

MyFarmWebTM bied uiteindelik ՚n onafhanklike oplossing vir die integrering en vertolking van data van verskillende stelsels sodat ՚n boer ingeligte besluite kan neem vir presisieboerdery. Stroperkaarte, watergehalte, damvlakke, blaarontledings, lugkaarte, grondklassifikasies, winsgewendheidsomme en selfs akkurate oesberamings in boorde is deel van die inligting wat deur die platform ontsluit kan word.

Philip Venter

Philip Venter van Laeveld Agrochem sê toegang tot die vlak van tegnologie is een van die hoofredes waarom boere baat vind by ՚n vennootskap met Laeveld Agrochem.

“Ons kultuur is kliëntgefokus, ons verskaf middels en inligting vir gewasbeskerming en plantvoeding, ons bedien boere en skryf nie net elke jaar dieselfde program voor nie.

“Laeveld Agrochem is ՚n sterk handelsnaam, ons het die kritiese massa om goeie toegang tot verskaffers te verseker en ons verskafferslys het meer as ՚n honderd name op,” sê Philip.

Gesondheid

Dit was nie net plantkundiges wat gepraat het nie. Dr Shaun Morris het gepraat oor die weerstand teen antibiotika en die invloed wat dit op mense se gesondheid het. Hy sê voerkrale sal minder antibiotiese middels nodig hê as boere wat speenkalwers lewer voorkomend inent. Hy sê boere hoef nie meer te wag vir Onderstepoort vir entstof nie; alles word deesdae ook deur private verskaffers voorsien.

Die toekoms

Nick Serfontein

՚n Gewilde spreker wat reguit gesels het oor grondhervorming en hoe boere seker kan maak hulle bly deel van die toekoms van landbou in Suid-Afrika, was Nick Serfontein van Sernick Bonsmara.

Nick het die aandag van president Cyril Ramaphosa getrek toe hy ՚n openhartige brief geskryf het oor die probleme wat boere het en hoe opkomende boere gehelp kan word. Hy het vertel hoe hy sy droom gevolg het om te boer, nadat sy pa hom gestuur het om ingenieurswese te gaan swot, en hoe hy van 30 kommersiële Bonsmaraverse gevorder het tot ՚n uitgebreide onderneming met ՚n

Fase C-bultoetsstasie, ՚n voerfabriek, ՚n voerkraal, ՚n abattoir en kleinhandelsafdeling. Sy raad aan boere is: “Gaan verder as die plaashek.”

Hy het boere ook aangemoedig om betrokke te raak by die opheffing en bemagtiging van opkomende boere en pro-aktief op te tree om te help dat swart boere op hulle eie grond kan boer. Hy sê die regering het nie die kapasiteit om grondhervorming toe te pas nie, maar hy glo sterk dat geen boer produktiewe grond sal verloor as deel van die regering se “onteiening-sondervergoeding”-veldtog nie.

Hy sê: “Die probleem is kunsmatig geskep om die weerlig af te lei van die vrotsigheid van ՚n spul patete wat vir grondhervorming verantwoordelik was.”

Anderkant die Limpopo

Dr Theo de Jager

Nog ՚n gewilde sessie, was die paneelbespreking van Agri All Africa oor landbougeleenthede noord van die Limpopo. Die gesprek is ingelei deur dr Theo de Jager, president van die Wêreldboere-organisasie (World Farmers Organisation) en die vraag wat hy moes beantwoord is of die gras aan die ander kant van die Limpopo groener is.

Dr de Jager het baie interessante inligting oor Afrika en boerdery in Afrika gegee, soos dat die grootste taal in Afrika Arabies is, waarna Swahili en dan Frans volg. Engels lê in die vierde plek en daar is 3 000 ander inheemse tale, waaronder Afrikaans. 15% van die wêreldbevolking woon in Afrika, die kontinent beskik oor 46% van die wêreld se onbewerkte landbougrond en 80% van die wêreld se onbenutte waterbronne en die beste gemiddelde klimaat vir landbou in vergelyking met enige ander kontinent.

Lande in Oos-Afrika presteer die beste met betrekking tot die gebruik van tegnologie en die groei van markte, met Rwanda, Tanzanië en Kenia bo aan die lysie. In Suidelike Afrika is Zambië die snelgroeiendste land.

Volgens die statistiek tot Agri All Africa se beskikking is daar tans 3 000 Suid-Afrikaanse, Zimbabwiese en Namibiese boere wat in 46 lande boer – die meeste in Mosambiek, Zambië, Botswana, Tanzanië, Nigerië, Ethiopië en die DRK. Daar is 110 Suid-Afrikaanse landboumaatskappye, banke en kettingwinkelgroepe in Afrika betrokke.

Die grootste kopwind wat landbouontwikkeling in die res van Afrika stuit is finansiering, want finansiering word gekoppel aan die sekerheidstelling van grondeienaarskap. Die enigste lande waar grondeienaarskap (nog) as sekuriteit aangebied kan word is Suid-Afrika, Namibië en in ՚n kleiner mate Botswana en Zambië. Ander groot probleme is politieke risiko’s en die bilaterale beskerming van kontrakte, infrastruktuur, skakeling met markte, korrupsie en omkopery.

“By Agri All Africa het ons die beleid dat ons nooit omkoopgeld betaal nie. Soms kos dit jou, maar as jy eers begin omkoop gaan jy nooit ophou nie.”

Vir vyf dae het die reuse MSC Musica aan Laeveld Agrochem behoort.

Hy het boere wat noord wil gaan gewaarsku om een belangrike ding te onthou: “Daar is geen ding in Afrika soos vakante grond nie. As jy die grond wil gebruik, trou jy met daardie mense. As hulle van jou hou het jy goeie versekering. As hulle nie van jou hou nie, het jy geen toekoms daar nie.

“Jy kan nie die grond liefhê en die mense verafsku nie – jy begin in Afrika altyd met die mense.”

Stertwinde wat landbou-ontwikkelingbevorder is: “Afrika wil ons regtig daar hê. Die ministers van landbou vry hard na Afrikaanse boere, hulle buig ver agteroor en ook ons eie Buitelandse Sake doen moeite.”

Sy gevolgtrekking is: Die gras anderkant die Limpopo is nie groener nie, dis nie meer voedsaam nie, dis nie goedkoper nie, maar daar is net minder beeste op en daarin lê die potensiaal – daar is meer gras.”

Sprekers soos professor Johan Willemse
het vir volgepakte sale
gesorg. Fotos deur Colin Bremner.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Ontsluit goeie groei met Inteliseed

Mpumalanga skeerkampioenskappe lewer top gehalte skeerders