in

Sakeliga KragDag Ekspo 2021

DCIM100MEDIADJI_0455.JPG

This post is also available in: Afrikaans

Die eerste groot ekspo aangebied na 19 maande se grendelstaat beperkings

Die Sakeliga KragDag ekspo, ‘n selfstandigheid-ekspo is die afgelope naweek van 14-16 Oktober suksesvol 20km oos van Pretoria aangebied. ‘n Rekord getal van 488 ondernemings het by die ekspo uitgestal en dit is weer deur 21 000 mense oor drie dae bygewoon, wat dit waarskynlik die grootste ekspo vanjaar in die land maak.

Die ekspo is primêr ‘n alternatiewe energie en selfstandigheid-ekspo en met die leuse Doen jou eie ding! dien dit as uitstalvenster vir talle ondernemings om hulle selfstandigheidsoplossings, op ‘n verskeidenheid lewensterreine, ten toon te stel, asook om besoekers die geleentheid te gee om hulleself toe te rus vir ’n vryheidslewe in antwoord op die uitdagings waarmee hulle daagliks in Suid-Afrika gekonfronteer word.

Teen die agtergrond van die komende munisipale verkiesing en politieke partye wat met mekaar kompeteer met beloftes van wat hulle alles vir die publiek gaan gee en doen met dit wat hulle met belasting van die produktiewe publiek afneem, was die tema vir vanjaar se ekspo “Ek kan self, dankie!”.

By die ekspo kon besoekers selfstandigheidsoplossings besigtig vir alternatiewe energie, water veiligheid, opvoedkunde, tegnologie, voedselproduksie, gesondheid, konstruksie, ontspanning, vervoer, finansies, Doen-dit-self planne, elektronika, 3D-drukkers, die Internet van Dinge, nuwe patente en hommeltuie en toerusting vind vir entrepreneurskap en lewensbeskoulike filosofie.

Ingesluit by die ekspo was ook die grootste landbou-ekspo (in samewerking met TLU-SA) wat vanjaar in die land gehou is met sowat 95 uitstallers en verskeie items en demonstrasies in die Inyati Arena en veerastentoonstellings.

In die Sakeliga Plein Raadsaal het verskeie hoë profiel sprekers, waaronder Dawie Roodt, Dr. Herman Edeling en die PANDA aktuaris Nick Hudson, insiggewende en aktuele aanbiedings gelewer. Opnames van hierdie gesprekke is ook lewendig uitgesaai op sosiale media.

Die KRAGkidz Junior Entrepreneurskompetisie is vanjaar in samewerking met Fergusmor, Bepicon en Solidariteit Helpende Hand aangebied. Jongmense word aangemoedig om hulle entrepreneursvaardighede op te skerp en hulle produkte en dienste te bemark op die ekspo. Die wenner van die Doelgerig afdeling was Fire Buddies met ‘n kontantprys van R10 000 asook besigheidsafrigting by Fergusmor.

Met die motivering dat die redelike mens nie net gelate kan aanvaar, toekyk en toelaat dat mense geforseer word om te krepeer en hulle lewens prys te gee nie, onder die voorwendsel deur politici en burokrate dat dit in die mense se beste belang is, het die organiseerders ‘n paar maande gelede besluit om met die ekspo voort te gaan desnieteenstaande enige foutiewe en irrasionele beperkings waarmee die owerhede sou poog om die hou van die ekspo mee aan bande te lê, soos wat in 2020 deur Tshwane gedoen is en wat maar net nog ‘n wyse is waarop mense se lewens “onteien” word.

Dit was uiteindelik, met groot dankbaarheid teenoor die Here, wat die ekspo afskop het, nadat die burgemeester van Tshwane, mnr Randal Williams, in sy openingsrede by die ekspo sy ondersteuning van die ekspo en die waarde daarvan vir die gemeenskap uitgespreek het. Hy het ook klem gelê op die falende staat en Eskom monopolie.

In die moeilike besluit oor die leiding neem en deurdruk met die hou van die ekspo moes die organiseerders worstel met die vrae Indien nie nou nie, wanneer? en Indien nie ons nie, wie? Dit is die organiseerders se wens dat die voorbeeld wat die ekspo gestel het, die weg sal baan vir ander ekspo’s en feeste om ook weer te hervat en is dit KragDag se bydrae tot voordeel en vryheid van almal.

In ‘n tyd wat mense vasgevang is in vrees en talle groetwoorde afsluit met “Wees veilig!”, word met die ekspo eerder gepoog om mense aan te moedig om kreatief te wees en avontuurlik te leef.

Navrae kan gerig word aan HP Steyn by hp@kragdag.co.za of 082-466-2341.

Bron: KragDag

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Jag op privaateiendom ruk handuit

John Deere machinery touches African soil for the first time