in

SA kan groot speler in wêreldmark vir saffraan word

Saffraanblomme

This post is also available in: Afrikaans

Planne vir die ontwikkeling van die plaaslike saffraanmark is reeds goed op dreef en kan daartoe lei dat Suid-Afrika in die komende jare ʼn beduidende produsent en uitvoerder van die produk – by verre die wêreld se duurste spesery – word.

Dit is goeie nuus vir die Suid-Afrikaanse ekonomie aangesien die uitvoer van saffraan ʼn waardevolle bron van buitelandse valuta kan wees en terselfdertyd met die vestiging van opkomende, kleinskaal boere kan help. Voorts bied dit kommersiële boere ʼn alternatiewe, gediversifiseerde bron van inkomste, veral in die lig van immer veranderende weerpatrone en marktendense, asook ander veranderlikes wat inwerk op boere se bestaande bedrywighede.

Bennie Engelbrecht, stigterslid en ʼn direkteur van Saffricon, sê hulle saffraanboerdery tussen Calvinia en Williston in die Noord-Kaap het in die afgelope paar jaar die kuns van saffraanverbouing onder plaaslike omstandighede vervolmaak, en dat hulle nou die volgende fase – vir die oopmaak van die geleentheid aan ander voornemende boere – bereik het.

Dit sal deur middel van ʼn verbouingskontrak-stelsel, gegrond op driejaarkontrakte met boere, gedoen word. “Ons voorsien die saffraanknolle aan boere, wat hulle dan plant en verbou, en die bloedrooi saffraanstempels (jaarliks) oes en weer aan ons terugverkoop. Onder gunstige omstandighede vermeerder die knolle ondergronds gemiddeld omtrent drie keer per jaar. Dit beteken dat as een knol aan die begin van jaar een geplant word, daar gemiddeld drie knolle aan die einde van daardie jaar sal wees, met nege aan die einde van jaar twee en 27 aan die einde van jaar drie.

“Die knolle word ná jaar drie weer aan Saffricon terugverkoop. Dus berus daar sekerheid by boere oor die afset van die produk, en het hulle ʼn dubbele inkomste-potensiaal: uit die jaarlikse saffraanoes, sowel as uit die veelvoudige knolle.”

Saffricon het die verbouingskontrak-stelsel aan voornemende saffraanboere begin bemark, en verwag dat daar teen volgende jaar voldoende knolvoorraad sal wees om momentum aan die projek te gee. “Hierdie jaar is daar ʼn beperkte voorraad bolle beskikbaar, en slegs ʼn paar uitgekose boere sal van die produk voorsien word. Maar teen 2022 sal ons in ʼn posisie wees om heelwat meer boere te help. Dus moet diegene wat belangstel so spoedig moontlik begin om bestellings by Saffricon (www.saffricon.co.za) te plaas om sodoende teleurstelling te vermy. Ons rol ook ook binnekort ‘starter packs’ uit sodat voornemende saffraanboere vanjaar reeds eerstehands kan bepaal of saffraan goed in sy gebied sal aard.”

Geleentheid vir die ontwikkeling van opkomende, kleinskaalboere – Laeveld Agrochem

Corné Liebenberg, die bemarkingsdirekteur van Laeveld Agrochem (LAC), sê as vennoot van Saffricon voorsien hulle ʼn blink toekoms vir saffraanboerdery in Suid-Afrika. Hy meen dit bied ʼn ideale geleentheid – nie net vir bestaande kommersiële boere nie, maar ook vir die ontwikkeling van opkomende kleinskaalboere – en sal as sodanig help om die land se hoë werkloosheid die hoof te bied.

“LAC wil sover moontlik help en ophef, en die saffraanonderneming bied aan baie boere wat tans onder druk verkeer ʼn alternatiewe opsie, terwyl dit terselfdertyd ʼn geleentheid met goeie vooruitsigte vir kleinboere bied.

“Dit is ideaal vir nisboerdery – ʼn groot groeiarea vir die Suid-Afrikaanse ekonomie en iets waaroor LAC baie passievol is. Die aanvanklike kapitaaluitleg is hanteerbaar en relatief min ruimte word benodig (250m² kan 15 000 knolle akkommodeer). Boonop sal Saffricon help met opleiding om nuwe boere op dreef te kry,” sê Liebenberg.

“Die verbouingskontrak-stelsel sal veral landelike gemeenskappe ophef en hulle ʼn manier bied om nie net in hul basiese behoeftes te voorsien nie, maar ook om hul eie besighede met goeie groeimoontlikhede te vestig. Daarmee saam hoef die boer nie baie lank vir sy opbrengs te wag soos wat die geval is met baie ander gewasse nie. Die bogrondse plantgroei en die uiteindelike oes van die blomme vind relatief vinnig plaas nadat die knolle aangeplant is.

Saffraanboerdery is ook ideaal geskik vir die Suid-Afrikaanse klimaat wat die afgelope paar jare aan ʼn strawwe droogte onderhewig was, aangesien dit baie minder water verg vergeleke met verskeie van die groot tradisionele gewasse in Suid-Afrika,” voeg Liebenberg by.

Waar Suid-Afrika se vernaamste eenjarige gewasse ongeveer 500-800mm besproeiing per seisoen vereis, benodig saffraan – ʼn wintergewas wat van Maart tot Oktober verbou word – tussen 250mm en 300mm per seisoen.

Liebenberg vervolg: “Saffraan kan in byna enige omgewing verbou word, selfs in toestande wat tradisioneel nie geskik of ideaal is vir meeste ander gewasse nie – soos die Noord-Kaap, wat by uitstek geskik is vir die verbouing van saffraan. Dus maak dit voorsiening vir die lewering van ʼn winsgewende oes uit onwinsgewende grond.

Voorts is die saffraanplant nie net rypbestand nie, maar omdat die knolle onder die grond is, word dit vir ʼn groot deel van die jaar beskut teen ongunstige weersomstandighede soos hael. Laasgenoemde, en die feit dat die knolle nie eetbaar is nie, sal dit hopelik ook beskerm teen kleinskaalse misdadigers wat op soek is na kos.”

In Suid-Afrika verkoop saffraan (soms na verwys as “rooi goud”) vir soveel as R250/g (of R250 000/kg). Dié stewige prys word aan arbeidsintensiewe oesmetodes toegeskryf – van die pluk van die blomme tot die verwydering van die stempels – wat alles met die hand gedoen word. Volgens Engelbrecht is 150 000 blomme nodig vir die lewering van 1kg saffraan. “En daar is drie stempels per blom, wat beteken dat 450 000 (gedroogde) stempels nodig is vir 1 kg saffraan. Die opbrengs per hektaar in jaar drie, wanneer die produksie ʼn hoogtepunt bereik, kan tussen 1kg en 5kg wissel.”

Stewige groeiverwagtinge vir wêreldmark

Plaaslike saffraanboere kan verwag om tot R200 000/kg vir hul produk van Saffricon te ontvang, afhangend van die gehalte van die saffraan wat gelewer word. Engelbrecht sê  vergeleke met meeste van die ingevoerde produk wat bykans geen reuk het nie en smaakloos is, het die plaaslike saffraan ʼn kenmerkende geur en aroma, wat ʼn bewys is van die gehalte wat hulle bereik het.

Engelbrecht voorsien goeie groeivooruitsigte vir die internasionale saffraanmark, hoofsaaklik omdat die wêreldvraag die aanbod ver oorskry.

Gegrond op ʼn verslag van Grand View Research, is die wêreld-saffraanmark in 2019 op VS$ 881,7 miljoen (ongeveer R13,4 miljard) gewaardeer, met ʼn verwagte saamgestelde jaarlikse groeikoers van 7,3%, tot ʼn uiteindelike markgrootte van VS$1,6 miljard (ongeveer R22,4 miljard) in 2027. Grand View Research se bevindinge is gegrond op ʼn groeiende voedselbedryf, verbeterde lewenstandaarde en verbruikers se toenemende besteebare inkomste.

Saffraan word hoofsaaklik gebruik om geur en kleur aan kos te gee, maar word ook gebruik in die vervaardiging van natuurlike skoonheidsmiddels en natuurlike medisyne, en as ʼn kleurmiddel in die tekstielbedryf.

“Die ‘wonderplant’ het geen afval nie. Die knolle is die bates, terwyl die saffraanstempels baie gewild as ʼn spesery is. Die blomme het medisinale eienskappe en word gebruik vir parfuum en ander skoonheidsmiddels,” sê Liebenberg.

Iran is die grootste vervaardiger van saffraan en beslaan sowat 90% van die wêreldmark. Meeste van hul produk word uitgevoer. Ander lande waar die produk verbou word, sluit in Kasjmir, Afghanistan, Griekeland, Spanje, Marokko, Indië, en nou ook Suid-Afrika.

“Willem Eigenhuis van Laeveld Agrochem se vennoot, Agri Technovation, is ʼn kenner op saffraan en staan Iranse boere op ʼn deurlopende grondslag daarmee by. Ons het dus toegang tot die kundigheid hier op ons eie stoep,” meen Liebenberg.

Suid-Afrika se toetrede tot die saffraanmark sal in die sesde seisoen van LAC se bekroonde Nisboere TV-program, wat in April op VIA, DStv-kanaal 147, uitgesaai word, onder die soeklig geplaas word.

Bron: Saffricon

What do you think?

2 points
Upvote Downvote

Total votes: 4

Upvotes: 3

Upvotes percentage: 75.000000%

Downvotes: 1

Downvotes percentage: 25.000000%

ProAgri

ProAgri SA 252

TLU SA dankbaar oor goeie reën in Suid-Afrika