in ,

So kies jy 'n spuit vir boorde en wingerde

Net so belangrik as wat die spuit vir die saaiboer is, so belangrik – of dalk selfs belangriker – is dit vir die vrugte- en wingerdboer. Ook hierdie boere is die prooi van ’n hele leërskare peste en plae, en sonder ’n doeltreffende spuit om homself te verdedig, is die vrugteboer gedoem tot gevoelige winsverlies.
 
Net een plant wat met donsskimmel besmet is kan ’n hele wingerd aansteek, sê die kenners. Dan is daar nog witroes en blaaspootjie en ook by die produksie van ander vrugte en sitrus ’n verdere swetterjoel bedreigings wat die boer met sy spuit moet troef as hy enigsins ’n sukses van sy boerdery wil maak.
 
Regdeur die plante se groei- en produksiesiklus moet die boer gereeld met sy spuit inspring om peste en plae tot verantwoording te roep. Maar daar eindig die spuit se rol in die wingerd en boord nie. Die strakke ekonomiese werklikheid wat ’n boer in die gesig staar, is dat hy die maksimum produksievolume van die hoogste gehalte moet lewer as hy wil oorleef. Hierdie mikpunte is nie haalbaar sonder blaarvoeding en groeireguleerders wat deur die spuit toegedien moet word nie.
 
Dit alles beteken dat die boer nie kan bekostig om enigiets minder as ’n bul van ’n spuit as produksiebondgenoot te betrek nie. Boord- en wingerdspuite werk almal min of meer op dieselfde beginsel: Fyn druppeltjies spuitstof word binne-in ’n sterk windstroom vrygelaat om die hele ruimte rondom die plante wat bespuit word met ’n warrelende newel van spuitstof te omring. Dit verseker dat daar spuitstof op elke deeltjie van die plant beland om peste doeltreffend te bestry. Die spuit is so ontwerp dat die windstroom ook die plante se blare warrel om te verseker dat plae soos blaaspootjie, wat aan albei kante van die blaar wegkruip, deeglik met die spuitstof kennis maak.
 
’n Boord- of wingerdspuit bestaan dus basies uit ’n spuitstoftenk, ’n flink waaier wat ’n sterk windstroom opwek en ’n pomp wat die spuitstof deur sproeiers in die lugstroom plaas.
 
Op hierdie basiese patroon is daar byna eindelose variasies soos verskillende soorte pompe, verskillende soorte en groottes waaiers wat boonop verstel kan word om meer of minder te blaas, verskillende soorte sproeiers vir verskillende toepassings en ’n groot verskeiden-heid skramkappe en hulse waarmee die lugstroom op verskillende maniere na die bome of wingerd gevoer kan word om die spuitstof presies volgens elkeen se aard en behoefte toe te dien. Daar is abbamodelle wat aan die trekker se driepunthyser monteer vir kleiner boorde of wingerde en sleepmodelle van verskillende groottes; sommiges met verstelbare galgbalke wat toedieningsbuise met sproeiers in die bek tot bo-oor wingerdrye lig om etlike rye op ’n slag te bespuit.
 
Die eerste vereiste wanneer ’n boer ’n boord- of wingerspuit aanskaf, is dus om ’n kundige handelaar te vind wat nie net alles van spuite weet nie, maar ook van die gewasse wat bespuit moet word. Kyk ook watter soort spuite die meeste boere in die omgewing gebruik. ’n Sekere soort spuit sal nie sonder rede die topverkoper in ’n sekere gebied wees nie, en vir die spuit wat die meeste in jou gebied gebruik word sal onderdele en diens waarskynlik ook geredeliker beskikbaar wees.
 
Praat ook met medeboere – ’n boer se raad is altyd prakties en op dure ervaring geskoei en boere is gewoonlik nie suinig met betroubare en bruikbare inligting nie.
Algemene vereistes waaraan ’n boordof wingerdspuit behoort te voldoen, is die volgende:
 
• Omdat tydigheid so ’n belangrike vereiste vir spuitwerk is, moet die spuit betroubaar wees en vinnig en maklik werk.
 
• Die spuit moet daartoe in staat wees om spuitstof egalig en akkuraat, sonder onnodige vermorsing, op die gewas wat jy wil bespuit te plaas: digte blare, hoë bome, verskillende rywydtes, verskillende toedieningsvoorskrifte moet alles in ag geneem word.
 
• Die spuit moet robuust wees, veral waar wingerde of boorde op moeilik begaanbare terrein aangelê is.
 
• Die spuit moet slank genoeg wees om maklik tussen rye te beweeg, sy lyf moet glad en gelyk wees sodat takke en blare nie beskadig word nie en sy werkende dele moet weggesteek wees sodat dit nie beskadig kan word nie. Die waaier moet so beskerm word dat dit nie beskadig kan raak nie, maar ook dat dit nie hande, vingers of enigiets anders kan seermaak nie.
 
• Die spuit se haakstelsel en disselboom moet so ontwerp wees dat daar skerp gekrink kan word om by een ry uit en die ander in te draai sonder ’n heen-en-weerstotery.
 
• Die spuit wat jy koop moet by die beskikbare trekker en by die grootte van jou boerdery pas.
 
• ’n Spuit behoort pypkoppelpunte te hê vir handbespuiting.
 
• Banke sproeiers behoort afsonderlik oop- of toegemaak te kan word vir gevalle waar net een kant van ’n ry bespuit word.
 
• Sproeiers en die lugstroom moet verstelbaar wees om voorsiening te maak vir die bespuiting van plante van verskillende groottes sonder vermorsing.
 
• Dit moet maklik wees om die spuit te vul, spuitstof te vermeng en te kalibreer sonder om met emmers en roerspane om die spuit rond te kloek.
 
• Die tenk moet skok- en korrosiebe-stand wees en die raam en masjinerie van die spuit moet teen roes en chemiese wegvreting beskerm wees.
 
• Daar moet ’n doeltreffende roerstelsel wees om die spuitstofmengsel deurgaans homogeen te hou.
 
• As die spuit vir verskillende gewasse gebruik word en ook vir die bespuiting van verskillende soorte plae op plante in verskillende groei- en produksiestadia, is dit nuttig as die sproeiers en sproeikoppe omgeruil kan word, as die waaierblaaie verstel kan word en as die waaierratkas teen meer as een spoed gestel kan word en ook ’n neutraalstand het sodat die waaier nie tydens handbespuiting loop nie.
 
• Die spuit se ratkas moet sterk en goed ontwerp wees om uiterste toestande te hanteer, veral op ongelyke terrein waar konstante enjinomwentelinge nie gehandhaaf kan word nie.
 
• Dit is wel duurder, maar hoe meer van die spuit se funksies vanuit die trekkerkajuit gesien en beheer kan word, hoe doeltreffender en vinniger – en veiliger – kan jy spuit.
 
• Die spuit moet ’n doeltreffende filtreerstelsel hê om
sproeierverstopping uit te skakel en die filtreerders moet maklik bereik en skoongemaak kan word.
 
• Dit is baie geriefliker en veiliger vir die boer as die pomp himself kan voorvoer (prime) en as dit so ontwerp is dat dit nie deur droogloop beskadig kan word nie.
 
• Dit moet maklik wees om die spuit te dreineer en skoon te maak.
 
Soos met enige ander werktuig wat die boer aanskaf, is een van die belangrikste oorwegings in die aankoop van ’n spuit die handelaar: Is die handelaar betroubaar en standvastig, verstaan hy die boer se behoeftes, het hy die nodige kundigheid, vaardigheid, tegnici en onderdele om ’n ononderbroke diens te waarborg, staan hy by sy produkte, hou hy produkte met ’n betroubare naam aan en sal dit aangenaam wees om met hom saam te werk?

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Ryding nodig vir die plaas? Jou kitsgids vir bakkiekeuses

Sorg so vir jou skape in die somer