in

Ripper Tillage: Gee volhoubaarheid ’n kans met bewaringsbewerking

This post is also available in: Afrikaans

“Daar is ’n verskil tussen Strip-till (strookbewerking) en Rip-till (diepstrookbewerking),” verduidelik Christine Bouwer van Ripper Tillage in Hennenman. “Ons bou strookbewerkingswerktuie wat jou dieselfde saadbed as ’n strip-till op die bogrond gee, en terselfdertyd ’n diepskeurbewerking van 350 mm tot 650 mm onder die grond.

Die hele proses behels die sny van bogrondse materiaal, wegneem van stoppelmateriaal op die plantry, die losmaak van grond deur middel van ’n skeurploegtand (ripper-tand), kunsmistoediening, die toegooi van die tandvoor en die vastrap van grond agter die tand. Die hele proses geskied net in die plantry.

Christine sê hulle werk nou saam met boere om werktuie te bou wat by hulle boerdery-opset inpas.  Hulle het byvoorbeeld gevind dat baie boere reeds skeurploegtande het wat hulle in ’n meer volhoubare bewerkingstelsel wil inspan.  Ripper Tillage kan dan hierdie tande in ’n strookbewerkings- of diepstrookbewerkingswerktuig inbou. Buiten dat dit die boer geld bespaar om sy eie tande te voorsien, is dit ook voordelig om die regte tipe skeurploegtand vir sy grondsoort te gebruik.

Christine Bouwer is in beheer van die bemarking van Ripper Tillage en met haar jare ondervinding in produksie is sy die een wat met die boere werk en op grondvlak nuwe behoeftes in die landbousektor identifiseer. Sy behartig self die demonstrasies en voorleggings op boeredae. Christoff se 18 jaar kennis in die ingenieursbedryf gebruik hy om die fabriek te bestuur en hy werk nou saam met sy pa, Chris, aan die ontwerp van nuwe produkte.

Johan van Huyssteen, Vrystaat Landbou Jongboer van die Jaar, gebruik diepstrookbewerking vir sy mielieboerdery vir die afgelope paar jaar. Om grondvog te bewaar en die organiese inhoud van die grond op te bou, werk hulle op ’n ruslandstelsel met die toerusting wat Ripper Tillage vir hulle gebou het. Die diepstrookbewerkingswerktuig word alreeds in die winter ingespan om vloeibare kunsmis toe te dien 300 mm diep en terselfdertyd ’n opge-erte skoon saadbed voor te berei vir planttyd. Die Van Huyssteens gebruik slegs die Riptill, ’n spuit en planter. Ripper Tillage het sy toerusting gebou en hulle stap ’n pad saam sedert 2014.

Die diepstrookbewerkingswerktuig wat net na strooptyd reeds ingespan kan word, kan kunsmis of gas toedien, sodat die grond gereed is met al die nodige voedingstowwe op die plek waar die mielies se wortels dit kan benut. Die grond wat alreeds voorberei is teen die tyd wat die eerste reën val, is ook voordelig vir ’n vroeër plantdatum.

Ripper Tillage is verder bekend vir hulle gewilde Rolegtandwerktuig wat gebruik word om die grond se kors te kraak na ’n harde bui reën. Die Rolegtand kan veelsydig aangewend word met verskillende rollers soos windkeerrollers wat keer dat kosbare bogrond verpoeier en wegwaai.

Skakel Christine Bouwer by 082-773-9297 of stuur n e-pos na cpbothariptill@gmail.com.

Ripper Tillage
Chris Botha, Christine Bouwer en Christoff Botha is die gedugte span van Ripper Tillage.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Rumax bied puik produkte teen sakpaspryse

Ses verdagtes in hegtenis vir veediefstal in Oos-Vrystaat