in ,

ProAgri 196 – Junie 2016

Die gebruik van elektroniese kommunikasie in beheerstelsels en meer doeltreffende bewerking met minder
brandstof bly vanjaar die neiging in tegnologiese ontwikkelings wat ons by NAMPO gesien het. Masjiene moet al hoe meer verskillende funksies kan verrig soos primêre en sekondêre bewerking en sommer nog saai of plant ook – dieselfde raamwerk word net aangepas met die regte bybehore. Aan die voerkant moet jy kan kuilvoer uithaal en meng in een beweging en by die trokke moet jy passasiers en vrag kan vervoer. Elke beweging van elke masjien kan jy op jou slimfoon dophou en dan kan jy sommer die spilpunt ook aanskakel van Loftus af, as jy wil. Ek sal net regtig graag die dag wil beleef dat ons in Suid-Afrika ons eie tegnologiepryse kan toeken. Dit is goed om ’n Trekker van die Jaar of Masjien van die Jaar wat verlede jaar in Duitsland aangewys is, by NAMPO te sien, maar waar is ons eie plaaslike toekennings?

Hier is soveel skitterende maatskappye wat hulle eie tegnologie ontwikkel of die beste wat oorsese tegnologie bied in hulle eie stelsels inwerk, maar hulle kry geen “amptelike” of minstens objektiewe erkenning nie. ProAgri sal graag wil sien dat instansies soos SALMA, LNR se landbouingenieurs, die organiseerders van NAMPO en plaaslike vervaardigers bymekaar kom en ’n toekenningstelsel van die grond af kry om ons plaaslike ontwikkelaars ’n hupstoot te gee in die mededingende wêreld. As tegnologie-tydskrif wat al langer as 21 jaar die ontwikkelings in die bedryf volg, sal ProAgri ook ’n waardevolle bydrae kan lewer en ons is seker die Landbouskrywers sal so ’n projek ten volle ondersteun. Dit was heerlik om met al die ou bekendes en nuwe kontakte by NAMPO Oesdag te gesels en kennis te maak. Ons is almal in dieselfde bedryf en die moeilike droogtejaar met al sy lelike gevolge het nogtans daarin geslaag om die mooi in mense na vore te bring met hulp, wat steeds dringend nodig is, vanuit ’n verskeidenheid oorde, waaroor ons ook weer in hierdie propvol NAMPO-uitgawe verslag doen.

Raak rustig – hier is baie leeswerk en nog meer prentjies om na te kyk!

Boer slim!
Annemarie Bremner >annemarie@proagri.co.za

Laai ProAgri 196 hier af: proagri_196_junie_2016_web

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Nuwe Mercedes E-Klas: Die Einstein van sy klas

Diesel vs petrol: Hoe om te kies