in ,

ProAgri 195 – Mei 2016

Taaibekkinders, oom Piet se inkoopram wat weer vanjaar met al die pryse wegloop, die blou afdakkie van die versekeringsverkoper wat heeltyd dreig om om te waai, die gebrul van die 4X4’s wat die mensgemaakte hobbels uitbeur, die rooi stofwolk wat in die lug opkrul van die ploegkompetisie se kant af net agter die helder ry blinkgepoetste veteraantrekkers en die ry by die pannekoektafel wat net nooit korter word nie… Dís mos hoe ’n dorpskou moet lyk. Oor die luidsprekers, waarvan die een al drie jaar gelede so hees klankie gekry het toe Kleinjan agter die knoppies ingeskuif het, klink Sakkie Sakkie Boeredans al vir die derde keer op en êrens verskuil in die speellys lê Elvis en wag vir sy kort stout oomblik van glorie. Tussen die dorpskou en die kerkbasaar en die worsbroodjieverkoping by die skool, het die meeste van ons geslag se kallers geleer as jy iets gedoen wil hê in die dorp, of ’n nuwe pawiljoen by die skool oprig of die kerk se orrel laat regmaak, dan steek jy jou hande uit jou moue uit en jy DOEN iets. Elkeen doen ook net sy deel sodat die saam-doen die groot-doen word.

Daar is nie ’n gewag vir aalmoese of LOTTO-geld of betogings en afbrand van skole en raadskantore nie. Nood het my voorouers nie net leer bid nie, maar ook leer planne maak en positiewe dinge aanpak. Wanneer daar saamgebou word, kan almal saam vorentoe gaan, maar wanneer ’n kultuur van “demand” en venietiging posvat, kan daar geen groei wees nie. Hoe nader ons aan die munisipale verkiesing beweeg, hoe meer voorvalle van geweld en aanhitsing tot geweld kan ons verwag, want plaaslike regering het lankal niks meer met dienslewering te doen nie, maar alles net met mag. Aanvalle op plase kan in hierdie tydgees ook weer in felheid toeneem en dit is noodsaaklik dat boere hulle veiligheidsmaatreëls opskerp en paraat is. Dit is sekerlik ’n stap vorentoe dat die waarnemende polisie-kommissaris beloof het om na aanleiding van Afriforum se volgehoue veldtog plaasaanvalle te prioritiseer, maar ek kan nie help om te wonder of dit die bekamping van plaasaanvalle is wat bo aan die skreepolitici se prioriteitslysie is nie. Maar ja, kom ons hou eers NAMPO en gaan skuur ’n bietjie skouer met mekaar en al die verskaffers wat baie moeite doen en kostes aangaan om te sorg dat die beste en jongste tegnologie tot ons boere se beskikking is.

Boer slim!

Annemarie Bremner >annemarie@proagri.co.za

Laai ProAgri 195 hier af proagri_195_MEI_2016_web

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

ProAgri Zambia – May 2016