in

Plant-jou-aalwurmprobleme-weg

Daar is geen rede waarom enige groente- en selfs graanboer wat onder besproeiing plant, ooit weer met aalwurm hoef te sukkel nie.
   
“Aalwurms beïnvloed nie meer my produksie nie,” sê Johan van den Bosch, slaaiboer van Tarlton. Hy het vier jaar gelede, op aanbeveling van Jannie Fourie van Javelin Seeds, begin met eksperimentele aanplantings van bladrammenas as ’n rotasiegewas en het nog nooit weer teruggekyk nie. Rammenas is nou ’n volledige deel van sy wisselbouprogram.        

Bladrammenas is ’n groenbemes-tingsradys en die oplossings wat hy bied lê waarlik op al drie vlakke van die woord:
– Dit beheer parasitiese aalwurms
– Dit is ’n groenbemesting
–  Dit is ’n beroker

Met drie persent organiese inhoud in sy grond, het Johan van der Bosch, slaaiboer van Tarlton, rede om so tevrede te lyk

Met rammenas as deel van sy program, spog Johan met drie persent organiese inhoud in sy grond. Vir baie boere klink dit na ’n ydele droom, maar met die regte praktyke en hulp van ’n saadmaatskappy soos Javelin Seeds, is dit wel moontlik.
   
“Daar is nie kitsoplossings in die landbou nie,” waarsku Jannie. Dit is waarom hy as verspreider van Rijk Zwaan-groentesaad en Joordens Zaden in Suid-Afrika moeite doen om ’n pad saam met boere te loop. “Ek verkoop nie saad nie, ek verkoop ’n oes.”
   
Dis ’n groot verantwoordelikheid, want Javelin verskaf ’n groot persentasie van die komkommer-, blaarslaai- en soetrissiesaad in Suid-Afrika.  As deel van die volledige dienspakket werk Jannie, as plantkundige, ook saam met met Carl Bisschoff-Tulleken, wat na sy eie positiewe ondervinding met rammenas, ’n kontrakteursdiens aan boere lewer. Hy toets vir aalwurmgetalle en -tipes, maak aanbevelings en het die regte toerusting om die aanplanting, sny en inwerk van rammenas lag-lag af te handel.
    

Rammenas kan regdeur die jaar aangeplant word, maar vir werklike doeltreffendheid teen aalwurm, moet die grondtemperatuur bo 10 grade Celsius wees, wanneer die aalwurms nog aktief is. Die saadjies kiem na drie tot vier dae en die plante moet verkieslik 60 dae in die grond wees. Rammenas vra nogal baie water (tot so 20 ml per week in die winter). Onder besproeiing lewer dit maklik tussen 140 en 160 ton groen
materiaal per hektaar.
   
Die aanbevole saaidigtheid is 25 kg per hektaar om seker te maak dat die haarwortels ’n ononderbroke netwerk deur die grond vorm.   

Die twee soorte bladrammenas gaan elk op ’n vernuftige manier met die verskillende soorte aalwurms om. Aalwurmmannetjies stel in hulle kort leeftyd meer in voorplanting as kos belang, daarom konsentreer die rammenas se arsenaal op die aalwurmwyfies, wat boere se oesskade veroorsaak.

Terranova verstop die knopwortel-aalwurmwyfie se spysverteringstelsel. Die wortel se selsap verkurk en dis so goed of sy het ’n sakkie sement ingesluk!
  
Doublet is veral doeltreffend teen die sist-aalwurm. Die selsap veroorsaak dat al haar nakomelinge in mannetjies verander… en sonder wyfies sterf die hele spul uit!  
   
Rammenas maak net die parasietiese aalwurms wat op wortels parasiteer dood. Goeie aalwurms is predatories en word nie geraak nie. Prof Driekie Fourie van Noordwes-universiteit bevestig die werking van rammenas. Sy en haar studente het 98% sukses in potproewe behaal!
   
Met die aalwurms uit die weg, kan die plante met die res van hulle werk begin. Op 20 tot 30 persent blom is die metanatriumkonsentrasie in die blare die hoogste. Dis wanneer die plante gesny en in die grond ingewerk moet word.
    
Jannie sê: “Sommige boere het probeer om rammenas net so in te werk, maar dis baie meer doeltreffend as dit eers gesny word. Maar die twee aksies moet feitlik gelyk verloop – die een trekker moet letterlik in die ander een se spore loop!”
   

Jannie Fourie van Javelin Seeds beduie dat die uitgebreide wortelstruktuur van bladrammenas nie net aalwurms beveg nie, maar ook vir goeie dreinering sorg.

Die rede daarvoor is dat die blare geen kans moet kry om uit te droog nie. As groenbemester word stikstof en ander noodsaaklike elemente in die blare vasgevang en gestoor. As die blare eers in die grond is, vind die verrottingsproses baie vinnig plaas – binne twee weke.
   
“Hoe meer hy vrot en hoe lekkerder hy stink, hoe beter werk hy,” lag Johan.
   
Die verrottingsproses gaan nie net oor bemesting nie; dit verlaag ook swamdruk deur die vrystelling van metanatriumgas. Die gas beskadig die selwande van skadelike swamme soos pythium, rhizoktonia en sklerotinia.
    
Groenbemesting kan jaarliks geplant word, maar volgens Jannie maak dit ekonomies sin om elke jaar 30% van jou grond so te behandel. Dit beteken na elke derde oes. Dít is die soort raad en diens wat boere by Javelin Seeds kan verwag, waar suksesvolle geldmaak-oeste verkoop word.

Skakel Jannie Fourie by 082-332-8567 of 082-400-3334, of e-pos: jannie@javelinseeds.co.za. Carl  Bisschoff-Tulleken staan ook reg met sy volledige kontrakteursdiens by 082-450-6154.

What do you think?

1 point
Upvote Downvote

Total votes: 1

Upvotes: 1

Upvotes percentage: 100.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Trekkerverkope-behou-stoom

SA volstruisboere fnuik verbod