in

Plaagdoderreste in vrugte: Syngenta help uitvoerders met oorsese markte

Syngenta
Caroline Willetts, ’n wetenskaplike van Syngenta se grootste navorsing- en ontwikkelingsinrigting in Jealott’s Hill in die Verenigde Koninkryk, het Suid-Afrika toe gekom om haar kennis oor MRL’e tydens ’n padparade met vrugteboere te deel.

Syngenta het onlangs die ekstra myl vir Suid-Afrikaanse boere gestap. Hulle het ’n padparade deur die Oos- en Wes-Kaap gehou om vrugteboere raad te gee oor een van hulle grootste probleme – plaagdoderoorblyfsels in uitvoervrugte.

Die Europese mark is nie ’n man se maat nie. Europeërs is kieskeurige verbruikers en boonop gebruik hulle subtiele proteksionisme om hulle eie boere te beskerm. Nogtans is Europa ’n groot en belangrike mark met ’n lang handelsgeskiedenis met Suid-Afrika.

Teen 2,7-miljoen ton per jaar is Suid-Afrika die grootste varsvrugte-uitvoerder in die Suidelike Halfrond. Ons produkte word in 92 lande regoor die wêreld verkoop, wat wissel van markte net noord van ons grense, tot so ver as die Amerikas, die Midde-Ooste en Sjina.

Om goeie, gesonde vrugte te produseer, steun ons boere swaar op plaagdoders. Daar word beraam dat tussen 30 en 40% van ons kos verlore sal gaan sonder produkte wat opbrengste verhoog en gehalte beskerm. Maar landbouchemikalieë is omstrede weens hulle potensiaal om mense en die omgewing te benadeel.

Lande probeer dus om die gebruik van landbouchemikalieë op vars produkte te reguleer deur onder meer “maksimum residulimiete” (MRL) in te stel. MRL’e is die maksimum hoeveelheid van ’n plaagdoder wat wettiglik in ’n voedsel- of voergewas toegelaat word, en elke land stel gewoonlik sy eie MRL’e vas. Dit veroorsaak egter groot probleme, aangesien voedsel internasionaal bemark word. Groot supermarkkettingwinkels stel boonop dikwels ook hulle eie MRL’e in.

Caroline Willetts, ’n wetenskaplike van Syngenta se grootste navorsing- en ontwikkelingsinrigting in Jealott’s Hill in die Verenigde Koninkryk, was een van die sprekers tydens die padparade. Sy het haar insigte oor MRL-regulasies in die EU met vrugtebooere, pakhuisbestuurders en ander belanghebbendes gedeel.

Caroline het daarop gewys dat die MRL’e ’n goeie aanwyser vir die korrekte gebruik van plaagdoders is. MRL is nie noodwendig ’n veiligheidstandaard nie. Dit is handelstandaarde met die hoofdoel om handel tussen lande te vergemaklik.

“Een van die grootste uitdagings wat vrugte-uitvoerders in die gesig staar, is die feit dat MRL’e nie wêreldwyd ooreenstem nie,” het sy gesê. Redes hiervoor is die feit dat nasionale MRL’e nasionale besorgdheid weerspieël en dat plaagdruk baie wissel van land tot land, wat verskillende vlakke van plaagdodergebruik vereis. Verder, as ’n produk nie in ’n land geregistreer is nie, sal dit geen vaste MRL hê nie.

Om ingewikkelde MRL’s te verstaan is een ding; om dit te hanteer, is ’n ander. Daarom het Caroline praktiese oplossings gebied wat plaaslike spelers in die bedryf kan inspan. Integrasie en ’n holistiese siening is die enigste uitweg, het sy aangeraai.

Caroline het verder die belangrikheid van behoorlike steekproefneming beklemtoon. Sy het daarop gewys dat betroubare resultate afhang van die ontleding van ’n verteenwoordigende steekproef wat opgestel word volgens hoe die gewas verkoop sal word. “As die laboratoriumuitslae nie met jou bestaande rekords ooreenstem nie, vra hulle om hulle resultate te kontroleer of om die ontleding te herhaal. Jy kan selfs ’n tweede mening van ’n ander laboratorium kry,” het sy aanbeveel.

Caroline het haar aanbieding afgesluit deur die teenwoordiges te herinner aan die magdom inligting wat plaaslik en internasionaal binne Syngenta beskikbaar is. “In die meeste gevalle kan ’n Syngenta-agent ’n boer help om oplossings vir MRL-probleme te vind,” sê sy. “As ons ’n plaagdoder verkoop, is ons oortuig dat dit veilig is, daarom word daar deurentyd nuwe inligting beskikbaar gestel om boerderypraktyke te verbeter volgens Syngenta se Smart Farm-filosofie.”

Syngenta
Vrugteboere, pakhuisbestuurders, Syngenta-personeel en ander belanghebbendes het die Syngenta-inligtingsdag op die plaas Idiom-Wyne in Grabouw bygewoon.

syngenta
Carles Rodríguez is ’n landbouingenieur
van Technidex. Hy kon hulle toerusting en chemikalieë, wat verseker dat vrugte, nadat dit die plaas verlaat het, steeds skoon, vars en gesond bly, aan die teenwoordiges bekendstel.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Senter360

Senter360 maak suikerboerdery soet

Pioneer

DuPont Pioneer Weeg en Wen: Wenoes ampertjies daarmee heen