in

Opgekikkerde 2016 Isuzu KB bekendgestel

GM Suid-Afrika het die 6 de generasie van hulle gewilde Isuzu KB bakkiereeks met die poeierkwas bygekom om ‘n varser en meer moderne voorkoms aan die 2016-model te gee.

Afgesien van die voorkant, is die laaibak se klap ook verander terwyl die agterste veerstelsel verfyn is vir verbeterde ritgehalte en padinamika. Binnekant is daar ‘n nuwe ontwerp vir die instrumentehuls agter die stuurwiel en die elektroniese megêftertjies is vermeerder.

Ons het die mediabekendstelling in die duine van Namibië se Namibwoestyn gaan bywoon en het na dese groter respek vir die Isuzu se viertrek- en veral sandryvermoëns. Die Isuzu bakkie is omtrent so deel van die Suid-Afrikaanse landbougemeenskap soos potjiekos en biltong en is reeds vir ongeveer 30 jaar ‘n bekende en geliefde toevoeging ook tot ons plaasrygoed.

Geskiedenis

Isuzu kom met ‘n geskiedenis wat terugdateer na 1893. Die “Tokyo Ishikawajima Shipbuilding & Engineering Co. Ltd” het toe ontstaan, maar is in 1916 gediversifiseer om in vennootskap saam met die Britse motormaatskappy “Wolseley Motor Ltd” passasiermotors te bou.

In 1922 het “Tokyo Ishikawajima Shipbuilding & Engineering” daarin geslaag om die eerste passasiermotor ooit, naamlik die Wolseley A9, in Japan te bou. Dit is in 1924 opgevolg met die eerste amptelike Japanese militêre trokkie ,die “Wolseley CP” met ‘n vragdra vermoë van 1,5 ton.  In 1927 het Tokyo Ishikawajima Shipbuilding & Engineering sy vennootskap met Wolseley beëindig en in 1929 is die “Sumida” motor bekendgestel. Gedurende  dieselfde jaar het die motorvervaardigings afdeling weggebreek van Tokyo Ishikawajima Shipbuilding & Engineering en is ‘n onafhanklike maatskappy genaamd  “Ishikawa Automotive Works Co. Ltd” gestig. In 1933 het Ishikawa Automotive Works die “Isuzu” bekendgestel, ‘n motortjie wat uiteindelik sy naam sal verleen aan die maatskappy wat ons vandag as Isuzu ken, afgelei van die bekende Isuzu-rivier in Japan.

In 1971 het Isuzu met General Motors ‘n ooreenkoms aangegaan waar GM in beheer geplaas is van hul kommersiële voertuie. General Motors het die Chev Luv in die sewentiger jare in Suid-Afrika bekendgestel wat ‘n paar jaar later as die Isuzu KB bekend sou raak. Isuzu was ook die eerste 1-ton bakkie in Suid-Afrika wat in 1980 met vierwielaandrywing beskikbaar was.

In 2007 is die nuwe generasie Isuzu bakkies plaaslik bekendgestel met ‘n reeks enkel-, dubbel- en vergrote-kajuit modelle wat verskeie petrol- en dieselenjin opsies aan voornemende kopers bied.

2016-model

Die verbeterde 2016-modelle se voorkant is subtiel maar slim gestilleer om ‘n slanker dog meer agressiewe voorkoms uit te dra. Nuut-ontwerpte sierrooster, enjinkap en misligte tref visueel,  maar dit is die nuwe hoofligte wat myns insiens grootliks bydra tot ‘n varser voorkant. LED-dagryligte is ingebou in die lighulse van die modelle met die luukser “LX” afwerking.

Agter is die laaibakdeksel herontwerp en is die tru-kamera op die luukser “LX”-modelle nou in die oopmaakknip/handvatsel ingebou. ‘n Sleepstang, rolstaaf,  dakrelings en nuutontwerpte 18”-wiele is ook standaard by die 3.0L dubbelkajuit “LX”-modelle.

Die ander modelle kry nuwe 16”-wiel en daar is “4×4”-plakkers weerskante op die laaibak vir al die viertrekmodelle in die reeks.  Die nuwe ontwerp van die allooiwiele op die die 2016-model is myns insiens ‘n wenner en laat die bakkie, veralmet die groter 18” wiele fors en sportief vertoon.

Binnekant is veranderings minimaal. Die instrumentehuls is herontwerp en bied nou beter funksionaliteit. Vir beide die handrat en outomatiese modelle (wanneer “manual-modus” op die outokas gekies is) word daar nou aangedui in watter rat jy ry en wannneer jy moet oorskakel.

Die 3-liter 4×4 LX Dubbelkajuit se voorste sitplekke kan elektries verstel word. Daar is ook die genot van ‘n verbeterde klankstelsel. Die LX weergawes kom standaard met ‘n 6,5” hoë-definisie TFT-raakskerm wat die klank-, inligting- en kommunikasiestelsels beheer. Daar is satelietnavigasie, WiFi, slimfoonskakeling en jy kan selfs die internet daarop  “swerf”!

2016-isuzu-kb-300-lx-4x4-auto

Dit vertoon ook die beelde van die tru-kamera as jy na trurat oorskakel en die stelsel kan boonop DVD’s speel. Die LX modelle kom ook met sleutelose toegang en sluit funksie. Met die sleutel in jou sak kan jy nou jou nuwe Isuzu aan-/afskakel deur bloot die START/STOP- skakelaarknop op die voorpaneel langs die stuur te druk.  Al die 4×4 modelle kom standaard met leerbekleedsel wat  opsioneel ekstra by die ander modelle beskikbaar is.

Die opgekikkerde 2016-model word egter steeds aangedryf deur die bestaande 2.5 en 3.0 liter dieselenjins. Die 3.0 liter DTEQ turboaangejaagde diesel bied 130kW en 380Nm se piekverrigting in die topmodelle en lewer ‘n amptelike brandstofverbruik in ‘n gekombineerde siklus van 7,9 l/100 km vir die dubbelkajuit en vergrote kajuit 4×4 modelle, terwyl die 4×2 weergawes effe minder drink en amptelik 7,7 liter vir elke 100 km gebruik.

By die enkelkajuitmodelle word die amptelike verbruik in die 4×2 weergawes ook as 7,7 l/100 km aangegee met die 4×4 enkelkajuit model se verbruiksyfer wat aangegee word as  8 liter per 100 km.

Die 2.5 liter DTEQ turbodiesel wat verlede jaar op die Isuzu modelle bekendgestel is, is ook in die 2016-modelle beskikbaar. Die enjin lewer 100 kW se piekkrag met 320 Nm wringkrag wat, soos met die 3.0 liter enjin, reeds vanaf 1200 rpm beskikbaar is.

Twee sogenaamde werkesel-modelle is ook in die 2016-modelreeks beskikbaar. Die 250 Basismodel enkelkajuit en 250 Fleetside enkelkajuit modelle kom beide toegerus met die viersilinder 2.5 dieselenjin. Hierdie enjin met direkte inspuiting lewer 58 kW en 170 Nm en bied ‘n amptelike gekombineerde dieselverbruik van 7,9 l/100 km.

Isuzu se plaaslike witjasse het meer as 100 000 kilometers afgelê in die nuwe model oor alle verskillende padoppervlaktes ten einde die agterste veerstelsel te verfyn om ‘n aangenamer ritgehalte te verkry. Die Hi-Rider 4X2 modelle is met nuwe voor en agterste skokbrekers toegerus, terwyl die 4×4 modelle  se skokbrekers aangepas is vir beter skokabsorbsie van die suiers tydens lae en hoë impakspoed. Die resultaat is ‘n sagter rit met minder padvibrasie en ‘n stiller kajuit.

Tydens die bekendstelling in die duinesand van die Namib was ons beїndruk met hoe gemaklik die 3.0 liter diesel 4×4 modelle die uitdagings van dik sand en hoë duine hanteer het.

Uiteraard is tegniek belangrik maar die 380 Nm wringkrag het nooit te min gevoel nie en daar waar vasgeval is, was dit te wyte aan ‘n gebrek aan tegniek en ervaring van die bestuurders, eerder as die bakkie se onvermoë. Ons het ook heelwat grond- en teerpad kilometers afgelê en selfs ‘n stofstorm getrotseer. Selfs teen hoër as normale spoed op die grondpad was daar ‘n merkbare verbetering in ritgehalte en paddinamika.

isuzukb3

Al die nuwe Isuzu bakkies kom met ‘n omvattende program vir klientebystand en sluit onder meer in:

Alle roetine onderhoud, gereelde dienste en padbystanddiens. Nuwe voertuig waarborg en padbystanddiens is standaard 5 jaar/120 000 km.

Daar is ook ‘n standaard 5 jaar/onbeperkte kilometer anti-roes waarborg en ‘n 5 jaar/90 000 km diensplan. Diensintervalle is 15 000km of 12 maande vir alle modelle in die reeks.

Pryse en modelreeks

Model Prys
Enkel kajuitKB 250 BASE R 235 000
 KB 250 FLEETSIDE R 258 800
 KB 250 FLEETSIDE (SAFETY)R 285 600
 KB 250 LER 334 500
 KB 250 4X4 LER 386 800
 KB 300 4X4 LXR442 800
   
   
Vergrote kajuitKB 250 HI-RIDERR 337 400
 KB 300 LXR 414 000
 KB 300 LX (OUTO)R 427 900
 KB 300 4X4 LXR 474 400
   
Dubbel kajuitKB 250 HI-RIDERR 351 300
 KB 250 LER 435 200
 KB 250 LER 457 400
 KB 300 LXR 384 200
 KB 300 LX (Materiaal)R 486 900
 KB 300 LX (Outo) (Materiaal)R 501 200
 KB 300 4×4 LXR 549 800
 KB 300 4×4 LX (Outo)R 563 500

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

ultimate-drive

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

wol

Wolmark daal

Besoedeling en foute in die Suid-Afrikaanse skeersel