in ,

Ontsluit goeie groei met Inteliseed

Die landbouklas van Hoërskool Erasmus in Bronkhorstspruit het kom leer waaroor goeie groei gaan.

This post is also available in: Afrikaans

Die proses om ՚n plant tot sy volle potensiaal te laat groei, begin by jare se saadontwikkeling, proewe, teling en terugvoering van boere.

Maatskappye wat sukses wil behaal in die uitdagende landboumark in Suid-Afrika, moet die hart en die sak van die boer verstaan, toegang hê tot die wêreld se beste tegnologie en seker maak dit werk in plaaslike omstandighede.

Inteliseed bied die hele pakket as deel van die Intelichem-groep en as alleenverspreider van die top internasionale maatskappy, Syngenta Seeds, se produkte in Suid-Afrika. Groenteboere kon onlangs naby Brits gaan kyk na nuwe en beproefde kultivars en gesels oor hulle probleme, behoeftes en suksesse.

ProAgri het met ՚n paar van die gewaskundiges gesels:

Kom krap in my slaai

Frikkie Janse van Rensburg sê die nuwe slaaivariëteite toon beter blaarmassa, goeie gehalte blare en die koppe het klein kerns en min witrib in die blare. ՚n Neiging by die spesialisslaaie is om te beweeg na ՚n eensnitslaai vir vinnige verpakking of vir die huisvrou om sonder sukkel in die slaaibak te kry.

Vir die Crisphead-tipes toon Icevic ՚n goeie siekteweerstandpakket en ՚n goeie groot kop vir die boksmark. Ice Wave staan ook uit met ՚n kop van tot 600 gram en goeie sonbrandweerstand. Waikiki toon ՚n mooi afgeronde kop met ՚n klein kern wat plat afsny sodat dit mooi vertoon in voorafverpakking.

Kry ՚n wennerbeet!

Boltardy is die beet wat jy wil plant as jy ՚n dieprooi egalige kleur soek in ՚n mooi ronde beet met ՚n eenvormige bolgrootte. Die beet is geskik vir meganiese oes as gevolg van die klein blaaraanhegting. Dit vertoon ook ՚n klein wortelhegting wat bydra tot die mooi, ronder vorm.

So by my kool

In die blomkoolmark is Korlanu ՚n ster vir die varsmark en verwerking. Die mooi groot dekblare beskerm die kop teen sonbrand. Dit is ՚n vinnige groeier met goeie kopvorming.

Spacestar bied betroubare, voorspelbare produksie, ook in die warm streke. Dit is veral gewild by die verwerkers as gevolg van die lang florette in die kop.

By die kopkool is Reball die rooier en mooier een met uitstekende interne gehalte. Die kop kan tot so 1,5 kg weeg en dit werk ook goed as ՚n babakool in ՚n pannetjieverpakking. Boere moet baie mooi let op die planttyd van kool, want as jy ՚n laatwinterkool in die somer wil gaan plant, spel jou naam sukkel.

Klabishi wil van Julie tot September in die grond wees om ’n mooi 4 kg-kop vir die sakmark te vorm. Hy bied goeie weerstand teen kraak en swartvrot. In die winter bly Novoton die staatmaker vir die verwerkingsmark met sy 5 kg plus kop.

Intello het baie goed presteer in die proewe by Brits in uiters moeilike omstandighede met baie reën en dan groot hitte. Hy het ՚n natuurlike weerstand teen swartvrot getoon.

Pampoene op die rak

Tinus Stigling het by die botterskorsies die boere se aandag op Proxxis vir kommersiële produksie vir die varsmark gevestig. Hy voorsien dat Proxxis die kompetisie van die troon kan stoot, want hy groei bietjie vinniger en lewer ՚n baie goeie opbrengs.

Vir die verwerkingsmark is S9080 nog in ՚n toetsfase, maar hy vergelyk goed met sy voorgangers ten opsigte van grootte en opbrengs. Die verwerkers soek die lang, eenvormige gladde nek vir maklike verwerking.

՚n Soetpit vir die soettand

Garrison is die nuwe suikermielie vir voorafverpakking, sê Jurgens Bester. Die mielie het ՚n goeie blaarsiekteweerstandpakket, benodig 79 dae se groeityd en word landswyd vir someraanplanting aanbeveel teen ՚n plantestand van 55 000 tot 60 000 per hektaar. Verwagte opbrengs kan 15 tot 16 t/ha wees, maar jou oesvenster is klein. Jy het 5 tot 10 dae om te oes, anders duik die pitte in as gevolg van die hoë suikerinhoud. In die Bosveldstreek kan jy dalk binne 70 dae stroop.

Moreland is ՚n meerkoppige supersoet variëteit wat so 85 dae in die land nodig het. Hy is geskik vir pannetjieverpakking en verwerking met ՚n kop wat tot 350 g kan ontwikkel. Hy bied ՚n volledige siektepakket en die opbrengs is 17 tot 20 t/ha. Shinerock is ՚n lekker aggressiewe groeier met ՚n kopstand wat ideaal vir meganiese stroop is. Dit is veral geskik vir verwerking en het ՚n groeityd van 85 tot 90 dae vir ՚n kopgrootte van tot 380 g en mooi kopvul. Opbrengs is ongeveer 22 t/ha teen ՚n plantestand van 60 000. Al die suikermielies word onder besproeiing verbou.

Tamaties – hoe rooier hoe mooier

Tienie Joubert sê by die saladette is die rooi ster Sahariana. Sahariana het ՚n uitgebreide siekteweerstandpakket, waarvan witvliegweerstand ՚n baie groot voordeel is. Die tamatie het ՚n onbeperkte groeiwyse en proewe in die oop land toon ՚n opbrengs van gemiddeld 8 tot 12 kg per plant, dit is met ander woorde 80 tot 120 t/ha.

By die ronde tamaties is daar twee nuwe variëteite, Dylla en Ozone, wat uitstaan met hulle weerstand teen fussarium 3, ՚n redelik nuwe probleem wat tamatieboere grief. Hy sê boere moet ook nie die staatmaker, Jimbo, afskryf nie. Hy presteer veral goed in die Brits-omgewing en het ՚n goeie algemene virusweerstand. Dit is ՚n groeikragtige plant met ՚n lang groeisiklus, groot vrugte en ՚n goeie vruggehalte.

Boontjie kry sy loontjie

Barry Erasmus sê boere moet hulle oë oophou vir ՚n groenboonvariëriteit wat goeie belofte toon, naamlik Desperado. Die variëteit gaan goed presteer vir die varsmark.

Momentum word aanbeveel vir die varsmark en verwerking. Syngenta fokus op stamboontjies en nie rankers nie. Een van die redes is dat meganiese oes al hoe gewilder raak. Dit is dus belangrik dat die boontjies gelyk ryp word sodat minstens 70% met die stroper afgehaal kan word. Wanneer met die hand geoes word, word daar ook op arbeid bespaar, want jy het maksimum drie plukke.

Barry Erasmus, besturende direkteur van Inteliseed, en Doeks Rothmann op wie se plaas die proewe geplant word, het lekker gekuier saam met twee buitelandse verteenwoordigers van Syngenta Seed, Leszek Klimczak en John van Brussel.

Besoek ons by NAMPO: Standplaas: Caltexsaal 18

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

NAMPO: Moet ek koop of nie

Seil Safari: So boer ons in die branders