in ,

Onkruiddoders: Wissel af om weerstand te wen

Die hoofrede vir onkruidweerstand teen glifosaatonkruiddoder, soos Roundup®, is die aanhoudende, herhalende gebruik van die produk jaar na jaar sonder afwisseling met ander onkruiddoders insluitende nie-chemiese onkruidbeheerpraktyke. Wissel onkruiddoders af om weerstand hok te slaan, sê prof Chris Preston van Australië. 

Hy is ‘n professor in onkruidbestuur aan die Universiteit van Adelaide en was die geleentheidspreker by ‘n werkswinkel oor onkruidweerstand by die Villa Akademie in Kemptonpark. 

“Daar is ‘n ernstige behoefte om onkruiddoders en nie-onkruiddoderpraktyke te kombineer in ‘n integrale  onkruidbeheerprogram om weerstand te beheer. Boere gebruik glifosaat by herhaling sonder om ander onkruiddoderpraktyke in aanmerking te neem om saadvorming by onkruide te verhoed. Dis ‘n deurslaggewende aspek van onkruidbestuur,” het hy beklemtoon. 

Die vinnige toename wêreldwyd in onkruiddoderweerstand en die gebrek aan nuwe middels, het hy gesê, vereis dat ander praktyke as onkruiddoders ‘n betekenisvolle komponent van enige boerdery se strategiese onkruidbestuur program moet uitmaak. 

Een voorbeeld is om saadvorming by onkruide te bekamp deur lande diep om te ploeg voor plant sodat onkruidsade diep onder die grond begrawe word waar dit nie kan ontkiem nie. Dié praktyk kan elke 10 tot 15 jaar herhaal word. Die afwisseling van onkruiddoders is ‘n ander praktyk wat weerstand doeltreffend beheer. In Australië, volgens prof Preston, is die “dubbele uitklophou”- (Double Knock) -prosedure uiters suksesvol. Dit behels die opvolgende aanwending van verskillende onkruiddoders wat volg op glifosaat. Na die eerste aanwending van glifosaat volg ‘n tweede of derde uitklophou met ‘n ander middel om onkruide wat nie met die eerste toediening gesneuwel het nie, uit te knikker. 

 “Met dié metode behaal ons tot 95% sukses in Australië. Dit is koste-doeltreffend en baie suksesvol,” sê Preston. 

Volgens Preston is glifosaat die waardevolste onkruiddoder in die Australiese landbou. Die eerste weerstand is in 1996 bespeur. Van die 30 onkruidspesies wêreldwyd wat weerstand teen glifosaat ontwikkel het, is ses in Australië, en drie daarvan in Suid-Afrika. 

Prof Charlie Reinhardt, dekaan van die Villa Akademie en buitengewone professor in onkruidwetenskap aan die Universiteit van Pretoria, het by dieselfde geleentheid gesê onkruidweerstand hoef nie as ‘n bedreiging vir die voortgesette gebruik van onkruiddoders beskou te word nie. 

Hy stem saam met prof Preston dat die oormatige, herhalende gebruik van alleenlik glifosaat ‘n kommer tot weerstand is. “Onkruiddoders se chemiese uitwerking op plante veroorsaak nie genetiese afwykings wat vir weerstand verantwoordelik is nie. Onkruidpopulasies sluit indiwidue in wat van nature oor die een of ander meganisme beskik wat maak dat dit nie sensitief teenoor ‘n bepaalde onkruiddoder is nie. Wissel onkruiddoders af. Nie bloot die soort produk nie, maar wel die meganisme van werking. Dit vereis die gebruik van onkruiddoders wat tot verskillende chemiese groeperings behoort wat verskillende meganismes van werking verteenwoordig,” het hy gesê. 

Prof Reinhardt het daarop gewys dat ‘n enkele onkruidplant wat die werking van ‘n onkruiddoder in ‘n bepaalde groeiseisoen ontsnap het, tot 1000 weerstandbiedende plante in die daaropvolgende seisoen kan aanwas. In die derde groeiseisoen kan tot 10 000 weerstandbiedende onkruidplante/ha voorkom. 

Globaal beskou, het hy bygevoeg, is daar tans 400 onkruidsoorte wat weerstandbiedend is teenoor ‘n groot verskeidenheid onkruiddoders wat tot die nege mees belangrike chemiese groeperings behoort. 

Onkruidweerstand teen die wêreld se onkruiddoder-markleier, glifosaat, is by 30 onkruidspesies bewys. Drie is in die Wes-Kaap in Suid-Afrika, naamlik vaalskraalhans (Conyza bonariensis), raaigras (Lolium-kompleks) en smalweëblaar (Plantago lanceolata). Geen weerstand is nog in die somersaaigebied bewys  nie, maar daar word al hoe meer berig ontvang van onkruidsoorte wat moeiliker as voorheen beheer word. 

Reinhardt het vyf goue reëls beklemtoon vir effektiewe weerstandbestuur. 

         Verminder onkruidgetalle op die land.

Dit verminder die kans dat “een in ‘n miljoen” plante oor natuurlike weerstand kan beskik en oor tyd kan vermeerder. Volg aanbevelings nougeset wat op produketikette verskyn. 

         Voorkom onkruidsaadvorming.

One year’s seeding is seven years’ weeding.” Baie van die belangrike onkruidsoorte se sade kan vir dekades lewenskragtig in grond se sogenaamde “saadbank” oorleef. Daarom is die onkruidsaailing wat vandag bo die grond verskyn het dalk ouer as die boer indien die ouderdom van saad in ag geneem word. 

         Verhoog die kompetisievermoë van die gewas teenoor dié van onkruid.

  Vestig die gewas in die gleuf van die groeiseisoen waartydens toestande ongunstig is vir die ontkieming van onkruid.

  Plant  gewasse in smal rye wat minder lig na die grondoppervlak deurlaat.

  Verhoog gewasplantgetalle/ha. Kies ‘n kultivar wat vinnig ontwikkel en vinnig ‘n digte blaredak vorm.

  Dekgewasse kan ingespan word om onkruid te onderdruk. 

         Wissel onkruiddoder met verskillende werkings af, soos bo beskryf.

Behalwe vir afwisseling van meganismes van werking deur opeenvolgende toediening van verskillende produkte, kan tenkmengsels van produkte met verskillende meganismes van werking ook ingespan word. 

         Onkruidweerstand.

Maak seker of dit ware weerstand is en of daar nie dalk ‘n probleem met toediening was nie. Die verskil tussen “ware” en “oënskynlike” weerstand kan alleenlik onder gekontroleerde toestande op wetenskaplike wyse bepaal word. 

Jou hulp gevra!

Prof Reinhardt is die projekleier van die South African Herbicide Resistance Initiative (SAHRI) aan die Universiteit van Pretoria. Die fokus is tans op weerstand teen glifosaat. Die navorsingspan wil graag hoor van gevalle waar onkruide wat voorheen maklik beheer is, deesdae moeiliker beheer word. 

Vir meer besonderhede kontak prof Reinhardt  by 083-442-3427 of stuur ‘n epos na dr.charlie.reinhardt@gmail.com.

 

By die werkswinkel oor onkruiddoderweerstand is van links: Kobus Steenekamp, besigheidsbestuurder, Monsanto; pro
f Charlie Reinhardt, dekaan van die Villa Akademie; T. Nepfumbada, DAFF;  dr Chris Preston, professor in onkruidbestuur, Universiteit van Adelaide, Australië; Corné Louw, senior ekonoom, bedryfsdienste, Graan SA en Elbe Hugo, LNR Instituut vir Graangewasse, Potchefstroom.  Foto: Hans Lombard.

 

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

'n Oplossing moet vinnig gevind word of…

Elke LEMKEN onderdeel is ‘n meesterstuk