in

NWK en produsente takel honger tydens inperking

mielies

This post is also available in: Afrikaans

NWK is opgewonde oor die verskil wat Agbiz en Graan SA se landbouwaardekettingprojek in behoeftige, honger plattelandse landbougemeenskappe se lewens gaan maak.

As Suid-Afrika se oudste landboumaatskappy, neem NWK met ywer hieraan deel en het die produsente in sy bedieningsgebied aangespoor om ʼn ton of meer van hulle oeste teen ʼn spesiale leweringsrekening te skenk.  Met die verwagting dat die land een van sy grootste mielie-oeste nóg gaan lewer, glo NWK dat sy produsente nié sal huiwer om mildelik tot dié inisiatief by te dra nie.

Suid-Afrika is sedert 26 Maart 2020 in ʼn grendelstaat om die verspreiding van die Covid-19-virus te bekamp.  Dit het egter ʼn verwoestende impak op die ekonomie, met talle individue wat slegs ʼn gedeeltelike of geen inkomste verdien.  Landbou is die spil waarom enige samelewing draai en dit word opnuut tydens hierdie inperking bewys.  Ongerymdhede met die verspreiding van kos aan behoeftiges word egter wyd in die media gedokumenteer en word boonop gekortwiek deurdat die regering dit wil sentraliseer.

Rolspelers in die onderskeie landbouwaardekettings, insluitend landboubesighede soos NWK en produsente, het gevolglik die behoefte aan ʼn gekoördineerde en grootskaalse uitreik na behoeftige mense geopper.

Die landbousakekamer (Agbiz) en Graan SA het gehoor gegee en ʼn landbouwaardekettingprojek van stapel gestuur waarvolgens die mees behoeftige mense in plattelandse landboukundige gemeenskappe voedsel sal ontvang.

Deelname aan die projek is heeltemal vrywillig.  Produsente is gevra om skenkings by NWK se silo’s teen die rekening vir Agri Waardeketting Verligtingsprojek te lewer.  Dit word dan na Botselo Mills naby Delareyville geneem waar dit tot mieliemeel verwerk sal word.

Die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) Noordwes sal die mieliemeel onder behoeftige gemeenskappe in NWK se bedieningsgebied in Noordwes versprei.  NWK gaan self R150 000 vir dié projek beskikbaar stel.

“Hulpverlening in NWK se bedieningsgebied is gebrekkig en gemeenskappe staar toenemende honger in die gesig.  Sou hulle hul tot geweld wend in ʼn poging om kos te bekom, kan bestaande, reeds vervalle infrastruktuur net verder beskadig word en groot skade vir die boerderygemeenskap en sakesektor inhou. Ons probeer om bo-oor die politieke lawaai te kyk, te fokus op medemenslikheid en daadwerklik ʼn verskil te maak. Ons wil alle groeperinge wat swaar trek, met dié uitreik bystaan,” het Theo Rabe, hoof- uitvoerende beampte van NWK, die maatskappy se besluit om by dié inisiatief betrokke te raak, verduidelik.

“Die omgewing waarbinne NWK sake doen lê ons na aan die hart en ons plaas oor die algemeen ʼn groot klem op sosiale verantwoordelikheid.  Dit sluit aan by een van ons kernwaardes – medeverantwoordelikheid in die werksplek en gemeenskap.  NWK kan dit egter nie alleen aanpak nie en ons vennote – onder andere produsente – is onontbeerlik tot die sukses van dié projek. Ons is egter vol vertroue dat hulle nog ons wildste verwagtinge gaan oortref met hul bydraes,” het Rabe afgesluit.

  • Met lewering aan NWK se silo’s, lewer asseblief die skenking teen NWK se rekening vir Agri Waardeketting Verligtingsprojek, met leweringsnommer X980422WND.

Bron: NWK

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Wildboere: Boer vir die toekoms

Corteva Agriscience launches solutions to improve wheat productivity in South Africa