in

Nuwe NAMPO-rekord laat vorige syfer in stof byt

NAMPO

Die huidige uitstekende seisoen vir somersaaigewasse het bygedra tot ‘n nuwe rekordgetal van 78 648 besoekers tydens Graan SA se afgelope NAMPO Oesdag. Besoekers se positiwiteit was inspirerend en heelwat van die meer as 700 uitstallers rapporteer dat hulle goeie besigheid gedoen het.

“Laasjaar hierdie tyd het produsente midde-in die ergste droogte in dekades mekaar tydens die NAMPO Oesdag moed ingepraat en planne uitgeruil. Hierdie jaar deel ons in mekaar se vreugde met die belowende oes wat op hande is,” het Jannie de Villiers, uitvoerende hoofbestuurder van Graan SA, gesê.

“Die publiek geniet die hartlike atmosfeer en hulle is honger vir inligting oor hoe die landboubedryf die toekoms help ontsluit. Lede van ‘n Europese handelsending na die Oesdag het selfs verwys na die familiegees en geborgenheid wat hulle tussen oesdaggangers ervaar het.”

NAMPO se hoofdoel is om boere en verskaffers by mekaar uit te bring, maar die belangrikheid van netwerking en die vorming van vennootskappe en betrekkinge is ‘n sleutelfaktor waarsonder die landboubedryf nie kan oorleef nie. Verskeie besoekersgroepe uit Afrika, buurlande asook plaaslike politici is tydens die Oesdag deur Graan SA ontvang en te woord gestaan. Buitelandse besoekers wat op die uitkyk is vir plaaslike vennootskappe en verspreidingsgeleenthede is ook ‘n algemene gesig by die Oesdag.

Die doelwit om verstedelikte verbruikers nader aan landbou te bring, is aktief bevorder toe aanbieders van die besigheidskanale 702 en Power FM vanaf die Oesdag uitgesaai het. Dié uitsaaiers het hulle by ander gewaardeerde radiostasies en gedrukte media aangesluit wat al behoorlik in die landbou-familie ingeburger is. Vanjaar se Nasie in Gesprek-paneelbesprekings het tot ‘n belangrike slotsom gekom deur die titelaktes wat steeds in die hande van die staat is as knelpunt vir vordering met grondhervorming uit te wys.

Volgens De Villiers het die nuwe Oesdag-bestuurspan goed gevaar en selfs ‘n paar nuwe dinge aangepak. Hieronder tel die volgende:

Vroueprogram

Na ‘n afwesigheid van twee jaar, was die vroueprogram met mening terug by die Oesdag. Die nuwe ligging en formaat het vir ‘n uitstekende opkoms gesorg.

4×4-kleinboet staan sy man

Bywoning van vertonings by die nuwe hindernisbaan vir vierwielmotorfietse, motorfietse en side-by-side’s het van ‘n stadige begin op die eerste dag tot ‘n stewige bywoning vir die res van die week toegeneem.

Internasionale Jong Afslaerskompetisie

Die gewilde Jong Afslaerskompetisie het oor drie dae gestrek. Afslaers uit die VSA, Argentinië, Namibië en Suid-Afrika het mekaar die stryd aangesê. Graan SA wens graag vir Steven Mathews geluk wat Suid-Afrika se naam hoog gehou het deur as kompetisiewenner uit die stryd te tree. ‘n Korporatiewe uitdaging het vir vermaak gesorg toe uitstallers mekaar se afslaersvernuf op die proef gestel het.

Bulle/ramme en vroulike diere in aanvraag

Volgens die veegenootskappe wat uitgestal het, het die drastiese afname in die pryse van eksotiese wild en herstel ná die droogte gesorg vir ‘n stewige vraag na bulle/ramme en vroulike diere.

Graan SA Belewenissentrum

Lede van Graan SA kon in die nuwe Belewenissentrum ‘n oorsig kry van die organisasie se dienste en aktiwiteite. Die NAMPO-handelsmerkprodukte wat te koop aangebied is, was ‘n treffer en die eksklusiewe parkering en ledelokaal het weer eens ‘n positiewe ervaring vir opbetaalde lede van die organisasie gebied.

Aksie in die vee-arena

Die jeugskou, beesparade en perdevertonings het heelwat voete daagliks na die vee-arena gelok.

Aanloopbaan

Gedurende die vier dae het 343 vliegtuie en 82 helikopters van die aanloopbaan gebruik gemaak. Groepe besoekers wat van huurvlugte gebruik maak, word al meer hier gesien. ‘n Uitstaller wat lugvaart-instandhouding doen, was vir die eerste keer deel van die fasiliteit.

“Die ontwikkeling van die oostekant van die terrein is betyds vir NAMPO 2017 afgehandel. Die skaalgrootte van die Oesdag is tans op ‘n vlak waar sake soos verdere verbetering van infrastruktuur, mededingendheid van uitstallings en bykomende akkommodasie in die onmiddellike omgewing aandag sal geniet – eerder as om die skou groter te maak. Ons wil vir ‘n boer wys uitbreiding is soms vertikaal en nie noodwendig horisontaal nie. Die Oesdag bied dus iets vir elkeen in landbou: vanaf ‘n 1 ha-boer tot by ‘n megaprodusent, met die klem op innovasie, nuwe tegnologie, waardetoevoeging en volhoubaarheid,” het Cobus van Coller, Oesdagvoorsitter, gesê.

Die openbare padnetwerk na en van NAMPO Park buite Bothaville bly ‘n bekommernis vir Graan SA. Ten spyte van verskeie gesprekvoering met owerhede – en hoewel die geleentheid ‘n finansiële inspuiting vir die Vrystaat en omgewing is – is die swak toestand van die omgewing se paaie betreurenswaardig.

Volgende jaar se NAMPO Oesdag word beplan vir 15 tot 18 Mei. Besoek die webtuiste vir meer inligting by www.grainsa.co.za of www.nampo.co.za of vind ons op sosiale media.

Uitgereik deur: Graan SA Kommunikasie

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Fikile Mbalula

Minister swyg oor plaasmoorde

AFGRI

AFGRI wil tegnologie bevorder