in

Nuwe Honda Jazz Sport dra sportiewe baadjie

This post is also available in: Afrikaans

Deur Dirk Gallowitz van Ultimate Drive

Honda Motors SA het vroeg vandeesmaand die Jazz Sport plaaslik bekendgestel. Die Jazz is Honda se gewilde minibussie en het wȇreldwyd groot aanklank gevind by gesinne wie ‘n kompakte bussie verkies as gesinsvoertuig. Die Jazz Sport vergroot die modelreeks, spog met unieke sportiewe stilering  en vervang die Dynamic modelle om die topmodel in die reeks te word.

Die nuwe Sport kom toegerus met ‘n reeks bykomstighede wat die bussie van buite sportief laat vertoon. Aan die voorkant tref die lae voorste buffer met groot luginlate en chroom omlynde misligte die oog, terwyl die hoofligte  en dagry-ligte met LED liggies skyn.  ’n Rooi streep laag in die voorste en agterste lugskorte soos by die Type-R, asook  die fris drukvlerk op die agterste klap, onderstreep die sportiewe wakker-akker karaktertrekke van die Jazz Sport. Swart 16” Berlina sport allooiwiele met 185/50 R16 rubber en swart kantspieels bring visuele trefkrag, terwyl  kleurgepaste kantskorte die bussie  laer op die teer laat vertoon.

Binnekant kry die Jazz Sport rooi stikwerk asook sportiewe bykomstighede soos ondermeer rengerigte allooi pedale  wat deur die witwarm Type-R geїnspireer is.  Die nuweling kom ook toegerus met heelwat meer geriefstoerusting in ‘n kajuit wat modern vertoon, goed toegerus en slim uitgelê is. Die 7” kleur raakskerm bied intuїtiewe en gebruikersvriendelike toegang tot klank-, kommunikasie-, navigasie- en ritinligting met behulp van ‘n maklike spyskaart. Die afwerking is klasleidend met ‘n algehele gevoel van duursaamheid en gehalte.

Agter die leeroorgetrekte sport stuurwiel  pronk  ratspane waarmee die opgegradeerde palwisselkas (CVT) met’n “Step Shift” – funksie beheer kan word. Honda beskik oor van die beste palwisselkaste in hulle motors, maar ek sou steeds ‘n handratkas in die Jazz Sport verkies het. Verder is die nuwe Sport toegerus met sleutellose toegang asook aan/afskakeling met ‘n groot  rooi knop op die voorpaneel. Die Jazz Sport is egter steeds ‘n praktiese gesinsbussie en beskik steeds oor Honda se innoverende

“Magic Seat” – stelsel wat grootliks bydra tot die Jazz Sport se klasleidende beenruimte en verpakking. Die baggasie area bied 359 liter se ruimte wat tot 889 liter vergroot kan word met die agterste sitplekke platgevou.

Aandrywing na die teerpad geskied deur die voorwiele met behulp van ‘n geheel nuwe en lewendige 1,5-liter i-VTEC enjin wat optimale verrigting lewer danksy Honda se “Earth Dreams” tegnologie. Die 4-silinder dubbel nokasenjin met direkte inspuiting en slim aanpasbare klepreëling,  bied 97 kW maksimum krag wat teen 6000 toere gelewer word. Wringkrag piek by 155 Nm teen  maksimum 4600 rpm. Met die Jazz Sport wat slegs 1 066 kg weeg , is die krag-massa-verhouding  ‘n heel skaflike 91 kW/ton wat help dat die  0-100 kpu lopie in onder 10 sekondes afgedraf word.  Brandstofverbruik word amptelik aangegee as  5,6 liter per 100 km in ‘n gekombineerde siklus van ooppadry en stadpendel.

Honda het die Jazz Sport toegerus met omvattende passiewe en aktiewe veiligheidstelsels wat onder meer ses lugsakke, ABS remme, voertuigstabiliteithulp en heuwelwegtrekhulp insluit.

Die  nuweling verkoop teen  R310 000 wat gelykstaande is aan die prys van die uitgaande  Jazz Dynamic CVT wat dit vervang, maar moet erken dat die Sport egter veel meer waarde en toerusting bied.

Ingesluit by die prys  is ‘n omvattende 5 jaar of 200 000 km waarborg en ‘n 4 jaar of 60 000 km diensplan, asook 3 jaar AA padbystand.  Die Jazz Sport moet elke 15 000 km gediens word.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

Onkruid wat nie wil vergaan nie: landbou se groot kopseer