in ,

NUWE HONDA CR-V: Dis die SUV wat jy altyd wou hê

Honda

Deur Dirk Gallowitz

Eienaars van Honda motors sal altyd weer ‘n Honda aanskaf. Dis soos ‘n goeie paar skoene wat lekker dra – jy laat hulle moeilik gaan en dan word daar gesoek na iets wat jou soortgelyke tevredenheid gaan gee. Met die CR-V is dit ook so. Sedert Honda die mediumgrootte sportsnuts in 1995 in Suid-Afrika bekendgestel het, het die stoftrapper ‘n immergroeiende gevolg van getroue ondersteuners versamel. In werklikeid was die CR-V die pioneer van mediumgrootte SUV’s in Suid-Afrika.

Wêreldwyd het die uitgaande CR-V model sy gewildheid getoon met verkope van meer as 9 miljoen eenhede in 150 lande. Dit wil gedoen wees en maak die CR-V loshande die gewildste SUV in sy klas. Meer as twintig jaar gelede was die SUV-segment weliswaar meer op bosbreek en klipklim gefokus, maar die hedendaagse kopers van es-joe-wees wil hulle gesinne gerieflik in die week skool en werk toe karwei en dan naweke die toerismeaantreklikhede en eetplekke op wyn-en leefstylplase grondpadlangs gaan verken. Minder boendoebashing dus en meer “lifestyle cruising” .

Honda het daarom die nuwe CR-V, die vyfde generasie wat so pas plaaslik bekendgestel is, juis sodanig herontwerp en opgeknap om bestaande CR-V eienaars tevrede te hou maar teselfdertyd ‘n nuwe teikenmark te lok.

Volgens Honda is die vyfde generasie CR-V op ‘n geheel nuwe onderstel gebou. Die grootte, lengte, breedte en hoogte het egter grootliks dieselfde gebly, terwyl die asafstand effe gerek is. Wat interessant is, is dat Honda se witjasse dit reggekry het om die buite dimensies bykans onveranderd te laat, maar tog die binneruim vergroot het. So byvoorbeeld is skouerruimte effe beter en die kniespasie vir die agterste passasiers het 65 mm gerek. Honda, wat meesters is van verpakking, het die CR-V se laairuim vindingryk aangepas sodat as die tweede ry sitplekke platgevou is en die voorste sitplekke so vêr as moontlik vorentoe geskuif word, ‘n 1,8 meter lange persoon uitgestrek op die agterste vloer kan lê! Die baggasiegedeelte kan 522 liter sluk en slaan jy die 60/40 verdeelbare agtersitplekke plat, kan jy 1084 liter se bagasie laai.

honda CR-V

Buite het die voorkoms nie juis drasties verander nie en is die nuweling steeds onmiskenbaar CR-V. Die neus lyk forser met ‘n nuutontwerpte  voorbuffer en lugskort, maar dit is die nuwe hooflighulse met LED liggies (afhangend van watter model) wat treffend met die  sierrooster integreer om die vooraansig meer modern te  laat vertoon.Ook die misligte het nou LED lampe.

Groter wielboë, fris beskermingstroke wat die luginlaat voor, langsaan onder die deure en die agterkant se lugsnoer beklemtoon, bring ‘n meer sportiewe inslag na die CR-V se ontwerp. Dit is egter die herontwerpte agterkant en agterste lighulse wat die nuwe model buitekant die meeste van die vorige model onderskei.

Binnekant is die verandering mees opvallend. Die afwerking en materiale vertoon en voel deftiger. Alle instrumentasie is nou digitaal en kan die nuwe CRV tong in die kies seker as “out of this world” beskryf word! Die voorpaneel het ‘n klassieke Honda inslag  en word gedomineer met ‘n groot raakskerm bo in die middel wat afloop na die middelkonsole met die rathefboom hoog en sentraal daarin geplaas. Die groot volkleur raakskerm werk heerlik gemaklik en intuitief met groot “icons” wat duidelik leesbaar is. Alle instrumentasie is gemaklik binne bereik van die bestuurder geplaas. Die middelkonsole strek verder laag na agter tussen die voorste sitplekke met bekerhouers en ‘n innoverende 3-laag bêrekassie hier onder die bestuurder se linkerelmboog. Die kassie laat jou toe om met ‘n maklike verskuiwing van ‘n rakkie, verskeie grootte houers (eks oortuig dit kan selfs ‘n 2 liter plastiekbottel wegsteek) te kan bêre. Uiteraard is daar verskeie houers wat prakties en innoverend strategies reg deur die kajuit geplaas is.

Honda

Die dik leeroorgetrekte stuurwiel bied lekker greep en is net reg – groot genoeg om prakties te wees en terselfdertyd klein genoeg om sportief te vertoon – met ‘n reeks skakelaars om die klankstelsel/telefoon/spoedbeheer se funksies te kan beheer. ‘n Slimontwerpte gly-area laat jou toe om die klankvolume met jou linkerduim te beheer deur bloot daaroor te vee. Koop jy die topmodel kry jy twee 12V sokke asook vier USB konneksiepunte. Twee voor en twee agter sodat pa,ma,boet en sus hulle se elektroniese katoeters kan koppel en herlaai sonder om die ander te pla.

Die nuwe CR-V is te koop met twee enjinopsies. ‘n 2.0 liter petrol viersilinder normaal geaspireerde kragbron en ‘n 1,5 turbo aangejaagde viersilinder petrolenjin. Geen dieselopsie is in die reeks beskikbaar nie. Aandrywing is via ‘n CVT outomatiese ratkas na die voorwiele of deur al vier wiele afhangend van watter model gekies word. Honda bied vier keuses van afwerkingsvlakke,  naamlik Comfort, Elegance, Executive of Exclusive. Eersgenoemde twee is slegs beskikbaar met voorwielaandrywing en kom toegerus met die 2.0 liter enjin, terwyl die Executive en Exclusive topmodelle met die 1,5 liter turbo-enjin en viertrek toegerus word. Die Exclusive weergawe word die beste toegerus en is gevolglik ook die duurste model van die reeks.

Die CVT outokas is soortgelyk aan die ratkas wat in die nuwe Honda Civic motor gebruik word en is een van, indien nie die beste ratkaste van sy soort tans in SA beskikbaar. Die “oorskakelings” voel soos jou tipiese outomatiese ratkas en kies jy die “Sport” – verstelling kan jy die toere amper “vashou” soos die van ‘n handrat!

Verrigting is verbasend lewendig en tydens ons bekendstellingsrit het ons in stormsterk wind deur twee Bolandse bergpasse gery met plek-plek skrikwekkende dwarswinde. Die CR-V se relatief groterige SUV lyf het nooit gevoel asof dit die enjins vashou nie, selfs nie die 2.0 liter model nie.

Die 1997cc viersilinder enjin lewer 113 kW en 189 Nm se piekkrag met ‘n amptelike verbruik van 7,3 liter per 100 km. Die 2.0 liter 4×2 Comfort verkoop teen R422 900 terwyl die 2.0 liter 4×2 in Elegance gewaad teen R477 900 verhandel.

Die 1.5 turbo enjin lewer 140 kW en 240 Nm met die amptelike petrolverbruik wat aangegee word as 7,0 liter per 100 km en is beskikbaar in twee afwerkingsvlakke, naamlik Executive en Exclusive- beide met AWD viertrek. Die Executive verkoop vir R584 900 en die vlagskip Exclusive sal jou R626 900 kos.

Honda Cr-V

Die vlagskip Exclusive model kom standaard met ondermeer spesiale 18” sierwiele, ‘n elektriese agterklap met programmeerbare hoogteverstelling asook ‘n banddruk monitor wat jou vroegtydig waarsku as daar skielik banddrukverlies is.

Die Exclusive kry ook standaard Honda se omvattende stel gevorderde bestuurderhulpstelsels (ADAS) wat aktief bydra om die bestuurder en insittendes veilig by hulle bestemming te kry. Dit stelsel sluit in “Honda Sensing” wat ondermeer inluit, “Collision Mitigation Braking (CMBS)” met “Forward Collision Warning (FCW)”, “Road Departure Mitigation (RDM)’ met “Lane Departure Warning (LDW)”,” Aanpasbare spoedbeheer (ACC) met Lae Spoed volgafstand (LSF) asook  “Lane Keeping Assist (LKAS)”.

Die nuwe Honda CR-V is ‘n heerlik luukse middelslag SUV wat alles bied om ‘n wenresep te wees en  gaan verseker voortbou op sy voorganger se wereldwye suksesverhaal. Die 2017 Honda CR-V reeks kom standaard met ‘n 5 jaar/200 000 km waarborg asook ‘n 5 jaar/90 000 km diensplan. Ook ingesluit is ‘n 3 jaar AA Padbystandspakket. Dienste word elke 15 000 km geskeduleer vir die 2.0-liter modelle, terwyl die 1,5T modelle elke 10 000 km gediens moet word.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

grappe

Dom Boer se lag vir die dag:

Dom Boer se lag vir die dag: