in

Nuwe droogteverdraagsame mielie binnekort in SA

ʼn Nuwe konvensionele droogteverdraagsame bastermielie, wat aan boere ʼn betekenisvolle groter oes tydens droogtesspanning kan gee, sal binnekort in Suid-Afrika beskikbaar wees. Dit sal bemark word onder die handelsnaam DroughtTEGOTM en is ontwikkel deur die WEMA-projek (Water Efficient Maize for Africa). Dit sal in September 2014 deur Suid-Afrikaanse saadmaatskappye op die mark geplaas word, sê dr Kingstone Mashingaidze, bestuurder, plantteelt- en biotegnologie by die Landbounavorsingsraad (LNR). 

Dr Mashingaidze sê die DroughtTEGO is ʼn nuwe, verbeterde konvensionele nie-GM witmielie. WEMA sal die eerste twee konvensionele basters vrystel en sal mik vir twee tot vyf nuwe vrystellings per jaar. Die eerste DroughtTEGO-baster is laat in 2013 in Kenia bekend gestel. Ná twee plantseisoene het dit nou ʼn treffer onder die kleinboere van Kenia geword. 

WEMA is ʼn openbare-private vennootskap wat daaraan toegewy is om aan die kleinboere van sub-Sahara Afrika droogteverdraagsame insekplaagbeskermde saad te voorsien. Die projek gebruik konvensionele merkersteun en genetiese modifisering om hoëkwaliteit saad te ontwikkel wat oeste kan verhoog en gevolglik ook die lewens van kleinboere in Suid-Afrika kan verbeter. 

WEMA word vanuit Kenia deur die AATF (African Agriculture Technology Foundation) gekoördineer, wat vyf nasionale landbounavorsinginstitute van Suid-Afrika, Oeganda, Kenia, Tanzanië en Mosambiek, asook CIMMYT en Monsanto, insluit. Die doel van die projek, wat gefinansier word deur die Bill en Melinda Gates-stigting, die Howard G Buffett-stigting en USAID (VSA se hulpprogram), is die verbetering van voedselsekerheid en die landelike lewensbestaan onder kleinboere in sub-Sahara Afrika. 

Al die vennote in die projek het van hulle kiemplasma en deskundigheid bygedra om te help om nuwe droogteverdraagsame bastermielies te ontwikkel. Volgens die AATF het die eerste aanplantings in 2013 van DroughtTEGO in Kenia (na ses jaar se proefnemings wat op 39 persele gekontroleer is) oeste opgelewer van 4,5 t/ha, ʼn toename van 2,7 t/ha bo die nasionale gemiddeld van 1,8 t/ha. 

Die beraming is dat, as die WEMA-projek sy beoogde mikpunte en oesstygings bereik, dit ʼn bykomende 2 miljoen ton mielies sal lewer om 14 – 21 miljoen mense te voed in die vyf sub-Sahara-lande wat by die proewe betrokke is. 

WEMA werk saam met private saadmaatskappye om binne die volgende vier jaar minstens 10 000 metrieke ton gesertifiseerde saad te lewer, geproduseer uit minstens 25 konvensionele droogteverdraagsame bastervariëteite. Tot op datum is 25 DroughtTEGO-basters vir kommersiële produksie in Kenia, Tanzanië en Oeganda goedgekeur. 

Vir  nadere besonderhede, skakel dr Kingstone Mashingaidze by 018-299-6356 of mnr Kiru Pilay by 011-790-8200.

Só vergelyk die droogtebestande mielie (regs) met ‘n konvensionele mielie (links) in die WEMA-proewe in Kenia.

 

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Los die Gazastrook se konflik en red ons boere

Realisme uit Afrika -by Vrystaat Landbou kongres.