in

Namponuus: Claas gee groot treë

Claas het ‘n indrukwekkende buiging met sy eie uitstalling in die nuwe uitgebreide deel van Nampo gemaak. Claas word nou deur die Kempston-groep versprei, maar boere kan gerus wees dat baie van die handelaars wat vroeër Claas-produkte versprei het, sal aanhou om dit te doen.

 

Dié bielie wat op Nampo bekend gestel is, die 305 kW Claas Axion 950-trekker, is die grootste wieltrekker op die mark wat nie ‘n knakker is nie. Daar is vier nuwe modelle beskikbaar, van die Axion 920 tot 950 en hulle kan bestel word met dubbel- of enkelwiele voor en agter.  

Gerhard Bezuidenhout, produkbestuurder van Claas, sê dit is die tegnologies gevorderste trekker in die land met ‘n CPS-monitorstelsel (dit staan vir Claas Power System) wat die enjin dophou en sorg dat die IVT-ratkas net genoeg krag kry vir die spesifieke werksbehoefte. IVT staan vir Infinitely Variable Transmission, wat in goeie Afrikaans beteken dat jy nie meer die beste van twee ratverhoudings weerskante van jou behoefte hoef te kies nie – presies die regte ratverhouding tussen enjinkrag, enjinomwentelinge en brandstofekonomie is beskikbaar vir elke taak. Met die fyn rekenaarbeheer is daar geen brandstofvermorsing nie.

Die kajuit is uiters gebruikersvriendelik met al die instrumente en beheerkontroles netjies byderhand waar dit vir die operateur die gerieflikste is. 

Vastrapstroper

 

Boere kon ook kennis maak met die Lexion 770-stroper met sy TerraTrac-rubberrusperbandstelsel. Die stelsel sorg vir beter stabiliteit, beter trekkrag en Gerhard sê as lande so nat is dat geen ander stroper wil loop nie, sal die Lexion steeds die werk doen.   

 

Die wielstelsel bly altyd parallel, want die rubbergrepe loop oor die modder sonder om dit op te stoot sodat die wielstelsel se hoek verander. Dit beteken gladder en egaliger stroopwerk. 

Die Lexion werk sagkens met delikate graan soos soja en sekere mielies, want die spoed van die kombinasiestroper se dorsdrom en 4,2 meter lange rotor kan afsonderlik verstel word. Dit verseker gelykmatige, volledige stroopwerk sonder dat bondels graan gegryp word. 

Net soos die trekkers, spog die stropers ook met Claas se unieke brandstofbeheermonitor vir die mees ekonomiese brandstofverbruik moontlik.  

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Namponuus: Laat biologie vir jou werk, sê Crop-Tech

Namponuus: Lindsay laat jou slim water gee