in

NAMPO is propvol nuwe werktuie

Verlede week se milde reën in Bothaville is afgewissel met heerlike sonskyn en lekker weer tydens Nampo se eerste dag. Die menigte boere wat van vroegdag af deur die hekke gestroom het is ‘n bewys dat die gemoed net reg was.

Die 50ste Nampo het uiteindelik aangebreek en uitstallers kon nie wag om hulle nuwe produkte bekend te stel of om bestaande uithalerwerktuie af te stof om verder daarmee te spog nie.

Nic TrailersNic Sleepwaens verskuif deurlopend die grense van die landbousleepwaebedryf met vindingryke oplossings. Hulle jongste konsep is om wildkratte te bou wat soos massasakke op ‘n trok se platbaksleepwa gelaai kan word sodat multi-aflewerings makliker en goedkoper gedoen kan word. “Wanneer die wild wat op ‘n veiling gekoop is regoor die land afgelewer moet word, hoef die trok net op die hoofroetes te bly. Sodra die trok naby ‘n boer se plaas is, kan die boer sommer met sy bakkie en sleepwa die trok êrens ontmoet en sy krat of twee oplaai. Jy kan so tien aparte kratte met ‘n hyskraan optel en selfs buffels op die manier skuif,” sê Nic. Daar is al tussen 50 en 100 vervoerkontrakteurs wat wild op die manier vervoer. Nic Keyser, Pieter Keyser en Ronelda Coetzee staan by een van die ‘wonderkratte’.

 

ManitouManitou het die ‘grootste’ oplossing vir bosverdigting wat tans op die mark beskikbaar is. Hulle Gehl V400 glystuurtrekker het ‘n volle onbossingspakket met beskerming en versterkings waar dit nodig is. Dié reus met sy 74-perdekrag Cummins-enjin is die grootste in die wêreld en spog met twee hidrouliese stelsels. Die hoëvloeistelsel kan 155 liter per minuut pomp en die laevloeistelsel 120 liter.  Die AHWI M450-bosvreter vooraan is ‘n allemintige 2,2 meter breed, wat hom ook die breedste een in die mark maak. Braam Steenkamp is ‘n belangstellende boer; Johan van der Westhuizen is Manitou se handelaar in Vereeniging, Nico Steinberg is ‘n belangstellende boer; Marco Herzberg is produkbestuurder van Gehl en Lindsay Shankland is die besturende direkteur van Manitou.

 

KongskildeKongskilde stel hulle meerdoelige kuilvoersnykop (voorgrond) wat soos ‘n tolsnyer werk, op Nampo bekend. Buiten kuilvoermielies kan dit ook gras en lusern sny. Die snykop kan enige rywydte mielies baasraak en kan selfs vier rye wat 75 cm uitmekaar is kafdraf. Die kuilvoersnykop koppel vooraan die JF FCT 1060-kerwer (links agter) deur slegs vier penne uit te trek. ‘n Boer kan dan die grasopteller en kuilvoersnykop uitruil. Peet Saaiman, Pieter van Graan, Anoop Singh en Eduan Booyens is die manne van Kongskilde wat gereed staan om die boere meer te vertel.

 

LindsayJaco Nel wys hoe lyk Lindsay se hoekstelsel waarmee jy vierkantige of reghoekige land volledig sonder uitvalhoeke kan besproei. Die swaaibare arm waaronder hy staan vou in en uit soos die spilpunt na en van die hoek van die land beweeg. Wanneer die arm dan ‘n tweede keer oor dieselfde gedeelte loop, sorg die GPS-beheer dat daar nie dubbel bespuit word nie.

 

Bosch gesinDie Bosch-gesin van Brits is gereed vir Nampo se lang stap. Valrie en Rudi trek vir Ruvan en Handrè in hulle waentjies deur die skou sodat al vier dit tot aan die einde van die dag kan geniet.

 

Old MutualKoos Nel en Ronelle de Jager van Old Mutual Agri wys dat hulle vanjaar 171 jaar oud is. Vir Nampo het hulle 171 kolwyntjies gebak wat tydens ‘n onthaal by hulle stalletjie uitgedeel is. “Ons ontwikkel voortdurend nuwe produkte en veral met die afgelope droogte het ons aanpassings gemaak om boere tegemoet te kom as hulle sukkel om hulle premies by te bring,” sê Koos.

 

JupidexJupidex stel vanjaar jaar twee nuwe planters bekend. In die voorgrond is die ses meter breë U-drill-hoëspoedpresisiekoringplanter wat Isobus-gereed is. Dit werk veral lekker in besproeiingsgebiede. Die planter handhaaf met gemak ‘n spoed van tussen 18 en 20 km per uur.

Die TS EVO is ‘n ses meter breë fynsaadplanter met presisiemeeteenhede wat tussen 8,5 en 10 km per uur werk. Dit het 48 tande in vyf rye gespasieer wat elk 12,5 cm uitmekaar is om die saadbed lekker los te maak. Philip Schutte, Wikus Joubert, Carl Landman en Koot van der Merwe staan tussen die twee planters.

Rovic Leers Rovic Leers het gesien dat die pekaneutbedryf lekker regdeur die sentrale gedeelte van die land ontwikkel. Hulle haal die hande-arbeid uit die oesproses met die Flory-werktuie wat hulle uit die VSA invoer. Hierdie lang stroper tel die neute wat in windrye gevee en geblaas is op en verwyder die klippies, stokkies en blare. Stuart Layman van Flory het spesiaal uit die VSA gekom om die manne van Rovic Leers by te staan tydens Nampo. Willie Human van Rovic Leers staan langs hom.

 

InttracDirk de Koster, eienaar van Inttrac Trading, wys hoe lyk die mengskroewe van die nuwe Strauttman Verti Mix 2401-voermenger. Daar is nou trappies in die vinne gebuig, wat die mengtyd met 10% verkort en dus 10% brandstof bespaar. Wanneer die rande van die mengskroewe begin afwerk, gly die voer af in plaas van om op te beweeg. Daarom is die rande van die skroewe nou met vervangbare vlekvrystaalplate bedek, wat eers na baie jare se gebruik sal afslyt.

 

Van Zyl StaalwerkeMet Van Zyl Staalwerke se Omega 6 000 wat heeltemal in Suid-Afrika vervaardig is, hoef ‘n boer net een bewerking te doen. “Jy sny eers die mieliereste in en dan rip jy met ‘n Super 18. Daarna word die land met die drukwiele mooi gelyk gemaak en laastens maak die spesiale roller ‘n mooi saadbed – maak nie saak hoe vuil jou land is nie,” sê Bok Barnard. Die werktuig werk teen 10 tot 14 km per uur. Gawie van Zyl, en Meyer Grobbelaar staan weerskante van Bok.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Nasie in Gesprek – Suksesstories

50ste NAMPO Oesdag is sterk op dreef