in

NAMPO-nuus: Van grond tot geld

In nog nuus oor NAMPO maak ons ‘n draai by Vitamech om kennis te maak met die Väderstad Carrier, ons vind uit hoe dit gaan met Pioneer se Weeg en wen-wedstryd en gesels met ABSA oor geldsake.

Vitamech

Die Väderstad Carrier 625, wat soos sy naam aandui 6,25 meter wyd is, bied aan die boer verskeie opsies vir grondbewerking. Vir die voorste ry bewerkings kan die boer kies tussen die Straw Harrow, wat alle materiaal op die land eweredig versprei sodat al die nuwe plantjies dieselfde groei-omstandighede ondervind, die CrossCutter Knife, wat die materiaal, stoppels of dekgewasse, teen ‘n hoek van 90 grade teen die rykoers sny, en die CrossBoard Heavy wat veral lekker werk in swaar grond en geploegde lande om kluite te breek en die saadbed gelyk te maak.

vitamech2

Agter die voorste ry volg die keëlvormige snyskottels van 51 of 61 cm in deursnit, gemaak van verharde Sweedse staal wat alles in hulle pad fynmaak. Die skottels is so gevorm dat dit nie kant toe trek nie sodat die masjien pylreguit agter die trekker loop. Die agterste ry werktuie is rollers wat ook na gelang van die grondtoestande gewissel kan word en wat sorg dat die materiaal goeie grondkontak het om vinniger af te breek.

vitamech1

Jurie Dreyer en Louis van der Merwe sê die Väderstad-reeks het baie nuwe oplossings in Vitamech se hande geplaas, maar boere kan gerus ook skakel om te hoor watter nuwe oplossings beskikbaar is vir die meganisasie van wingerdwerk. Vitamech verskaf ook ‘n volledige reeds onderdele vir verskeie soorte trekkers.

 

Pioneer

pioneer1Pioneer het sy inskrywingstyd vir deelnemers aan die nasionale Weeg en wen-opbrengswedstryd tot die laaste dag van Nampo gerek om die boere wat as gevolg van die droogte laat geplant het ook ‘n kans te gee om in te skryf. Nicola Wiehahn het met ProAgri se besoek aan Pioneer se uitstalling vertel dat ‘n hulle ‘n goeie klomp inskrywings uit die ooste gekry het, naamlik 86, waarvan 66 vir mielies en 20 vir soja is. 29 van die mielie-inskrywings is besproeiingslande en die res is alles droëland. Die doel is om te bepaal watter lande die hoogste opbrengs behaal het. Pryse ter waarde van R100 000 of R50 000 per kategorie is in die spel en natuurlik die eer om as een van Suid-Afrika se oeskonings bekroon te word.

ABSA

ABSA

Wessel Lemmer van ABSA het in ‘n gesprek met ProAgri gesê hulle verwag ‘n goeie landboujaar vanjaar, in teenstelling met die vorige seisoen se droogte-uitdagings. Goed kan egter ook sleg wees en boere sal nou vinnig pryse moet vasmaak vir hulle lewerings, want daar gaan beslis ‘n redelike sterk daling in die pryse wees sodra die strooptyd in alles erns begin.

Met gemiddelde witmieliepryse van by die R4 800 per ton verwag Wessel ook ‘n swaai na witmielie-aanplantings wat op sy beurt na ‘n vergrote aanbod volgende seisoen kan lei en dit beteken uiteraard laer pryse.

Hy waarsku ook dat verbruikers wat swaarkry hulle na ander graankos, soos rys, gaan wend, indien die mieliepryse te hoog bly. Rys se prys het baie meer stabiel gebly.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Dom Boer se lag vir die dag:

NAMPO-nuus: Elkeen in die SA veebedryf het ‘n plan om winsgewend te bly