in

‘n Kwart minder mielies geplant

Die amptelike skatting van aanplantings bevestig dat sowat 25% minder oppervlakte met mielies beplant is as gevolg van die droogte. Die Oesskattingskomitee sê die voorlopige oppervlakte- en voorlopige produksieskatting is hoofsaaklik gegrond op die resultate van ‘n nie-ewekansige opname onderneem deur die Direktoraat: Statistiek en Ekonomiese Analise van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye en weerspieël die situasie soos gedurende die derde week van Januarie 2016.

Die hersiene aangeplante oppervlakte en produksiesyfers sal op 25 Februarie vrygestel word en sal hoofsaaklik gebaseer wees op inligting verkry vanaf die “PICES”-opname vir die Noord-Kaap, Vrystaat, KwaZulu-Natal, Mpumalanga, Limpopo, Gauteng en Noordwes provinsies, en behoort gevolglik akkurater en omvattender te wees.

Die skatting lyk so:

Kommersiële mielies: Die voorlopige skatting van die oppervlakte onder mielies beloop 1,995 miljoen ha, wat 24,79% of 657 700 ha minder is as die 2,653 miljoen ha wat verlede seisoen aangeplant is, en ook 21,78% of 555 650 ha minder as die voornemens om te plant syfer van 2,551 miljoen ha soos vrygestel in Oktober 2015. Die voorlopige grootte van die kommersiële mielie-oes is 7,438 miljoen ton wat 25,18% of 2,503 miljoen ton minder is as die 9,942 miljoen ton van die vorige seisoen, met ‘n verwagte opbrengs van 3,73 t/ha.

Die voorlopige oppervlak onder witmielies is 1,033 miljoen ha, wat ‘n afname van 28,69% of 415 400 ha verteenwoordig vergeleke met die 1,448 miljoen ha die vorige seisoen. In die geval van geelmielies is die oppervlakteskatting 962 500 ha, wat ook 20,11% of 242 300 ha minder is as die 1,205 miljoen ha geplant die vorige seisoen. Die voorlopige produksieskatting van witmielies is 3,267 miljoen ton, 30,53% of 1,436 miljoen ton minder as die 4,703 miljoen ton van die vorige seisoen.  Die opbrengs van witmielies is 3,16 t/ha. 

In die geval van geelmielies is die produksieskatting 4,171 miljoen ton, wat 20,38% of 1,068 miljoen ton minder is as die 5,239 miljoen ton van die vorige seisoen. Die opbrengs van geelmielies is 4,33 t/ha.

Sonneblomsaad: Die voorlopige oppervlakteskatting vir sonneblomsaad is 617 000 ha, wat omtrent 7,12% of 41 000 ha meer is as die 576 000 ha aangeplant die vorige seisoen. Die voorlopige produksieskatting vir sonneblomsaad is 622 000 ton, wat 5,89% of 38 900 ton minder is as die 660 900 ton van die vorige seisoen.  Die verwagte opbrengs is 1,01 t/ha.

Ander gewasse: Die geskatte oppervlakte beplant met sojabone is 535 000 ha, wat ‘n afname van 22,16% of 152 300 ton verteenwoordig vergeleke met die 687 300 ha geplant die vorige seisoen. Die produksieskatting is 768 560 ton, wat 27,48% of 291 290 ton minder is as die 1,060 milj. ton van die vorige seisoen.  Die verwagte opbrengs is 1,44 t/ha.

Vir grondbone is die oppervlakteskatting 24 000 ha, wat 58,62% of 34 000 ha minder is as die 58 000 ha geplant vir die vorige seisoen.  Die verwagte grondbone-oes is 29 600 ton – 47,77% of 27 075 ton minder as die 56 675 ton van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,23 t/ha.

Die oppervlakteskatting vir sorghum het afgeneem met 11,35%, van 70 500 ha tot 62 500 ha teenoor die vorige seisoen.  Die produksieskatting van sorghum is 119 400 ton – 2,49% of 2 900 ton meer as die 116 500 ton van die vorige seisoen. Die verwagte opbrengs is 1,91 t/ha.

Vir droëbone is die geskatte oppervlakte beplant 25 500 ha, wat 60,16% of 38 500 ha minder is as die 64 000 ha geplant vir die vorige seisoen.  Die produksieskatting is 35 150 ton, wat 52,11% of 38 240 ton minder is as die 73 390 ton van die vorige seisoen.  Die verwagte opbrengs is 1,38 t/ha.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Organisasies bots oor leeujag

Dom Boer se lag vir die dag: