in ,

Monsanto se nuwe Bt-mielies stonk die nuwe pes

herfskommandowurm

“Produsente wat die huidige seisoen YieldGard®II Bt-mielies met Monsanto se MON89034-tegnologie geplant het, het nou die bykomende voordeel dat dit groot mate van beheer teen die aanslag van herfskommandowurm (Spodoptera frugiperda) bied,” sê Kobus Steenekamp, besturende direkteur van Monsanto SA.

Hy sê YieldGard®II-mielies, wat sedert 2010 kommersieel in Suid-Afrika beskikbaar is, bied beskerming teen Lepidoptera-spesies soos die mieliestronkboorders, Busseola fusca en chilo partellus. YieldGard®II-basters het egter ook bewys dat dit beskerming bied teen die herfskommandowurm in Suid-Afrika en ander lande soos die VSA en Brasilië. YieldGard®II-mieliebasters kan in kombinasie met ander beheermiddels en agronomiese praktyke ’n baie belangrike rol speel in geïntegreerde plaagbeheer teen die herfskommandowurm-uitbreking in Suid-Afrika.

Die beheer deur nuwe generasie Bt-mielies teen die herfskommandowurm is bevestig deur prof Johnnie van den Berg, entomoloog van die Noordwes-Universiteit. Hy is deel van ’n groep wetenskaplikes wat ondersoek instel na die voorkoms, indringing, skade en beheer van die herfskommandowurm. Die groep sal binnekort met proewe begin om vas te stel of dieselfde middels wat teen die Afrika-kommandowurm ingespan word, ook die herfskommandowurm bestry en hulle is tans besig om te bepaal of daar verskille in beheer is tussen die beskikbare Bt-tegnologieë.

Kobus sê: “Volgens terugvoer van ons kliënte en veldpersoneel, blyk dit dat die infestasies tans veral in die noordelike dele van die land voorkom. Dit is noodsaaklik dat boere hulle lande daaglikse moniteer en onmiddellik met hulle chemiese verteenwoordigers, of met Monsanto se verkoopspan of landboukundiges in verbinding tree indien vermoed word dat die herfskommandowurm in die lande teenwoordig is. Dit is veral noodsaaklik waar boere konvensionele of Roundup Ready®-mielies geplant het.”

Hoewel daar nie tans produkte geregistreer is vir die beheer van die herfskommandowurm nie, het CropLife SA met ondersteuning van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye aanbeveel dat produkte wat geregistreer is om ander Lepidoptera-spesies in mielies te beheer, ondertussen gebruik kan word. Dit is egter noodsaaklik om saam met chemiese verteenwoordigers te werk in die verband.

Chemiese beheer sal net help voordat die larwe die mieliekoppe bereik, daarom is dit belangrik om die wurms in die vroeë larwestadium te beheer. Sodra die larwe in die mieliekop is, sal dit te laat wees om chemiese middels te spuit.

“Ek gee die versekering dat ons by Monsanto alles in ons vermoë doen om meer inligting oor die plaag te bekom. Ons is in verbinding met ons kollegas in Suid- en Noord-Amerika waar die plaag ook voorkom en ons plaaslike span landboukundiges is tans besig met plaasbesoeke om boere te help met monitering en identifikasie van die herfskommandowurm,” sê Kobus.

Die motte kan oor groot afstande deur die wind versprei word, wat die vinnige verpreiding en uitbrekings verklaar. Die plaag rig sedert Desember ook groot skade aan mielies in Zambië, Zimbabwe en Malawi aan. Dit blyk ook dat die wurms nou in Namibië opgemerk is.

“Boere moet deurgaans let op die belangrikheid van die aanplant van toevlugsareas aangesien dit steeds die beste metode is om weerstand te voorkom,” sê Kobus.

Boere wat wurms opmerk, kan met Monsanto se naaste verkoopsverteenwoordiger of landboukundige in verbinding tree. Hulle kan ook vir Jan Hendrik Venter van die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye skakel by 012-319-6384 of 072-348-8431 of n e-pos na janhendrikv@daff.gov.za stuur. Dr Gerhard Verdoorn, bekende plaagkenner, kan ook gekontak word by 082-446-8946, of besoek Croplife SA se webwerf by  www.croplife.co.za of www.agri-intel.com. 

Hooffoto: Die herfskommandowurm is ’n larwe met ’n gladde vel. Enkele stekels kan soms voorkom. Die kleur kan wissel van ligte bronskleur tot donkergroen of swart. Daar is drie geel strepe en ’n donker streep aan elke kant. Die belangrikste uitkenningskenmerk van die HKW is die prominente wit omgekeerde Y-vorm wat tussen die twee oë voorkom.

herfskommandowurm
Die foto’s toon die verskil tussen die duidelike skade op DKC68-56R (regs) wat as toevlugsarea gebruik is en DKC68-58BR wat geen besmetting vertoon nie. Opnames het gewys dat tot agt wurms per plant voorkom op die toevlugsarea. 87% van die plante is besmet. Die YieldGardII -mielies toon geen besmetting nie.

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

herfskommandowurm

Herfskommandowurm: Gevaarlikste pes nóg

herfskommandowurm

SANSOR vra vrae oor herfskommandowurm en Bt-mielies