in

Misdaadsyfers: Veediefstal inligting ernstig bevraagteken

Die vrystelling van misdaadstatistieke deur die SAPD op 3 Maart 2017 aan die Portefeuljekomitee, is met groot geesdrif afgewag, aangesien dit die eerste keer in jare is dat misdaadstatistieke op ‘n kwartaallikse grondslag beskikbaar gestel word.

Die grootste uitdaging verbonde aan hierdie statistieke is die feit dat slegs jaarlikse misdaadstatistieke vir jare voorsien is. Dit beteken dat die kwartaalsyfers met geen ander syfers vergelyk kan word met die oog daarop om afleidings te maak nie. Daarom gee die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum sy standpunt oor die saak.

In Figuur 1 kan die aantal veediefstalsake wat sedert 2011/2012 gerapporteer is gesien word. Dit is duidelik dat die aantal sake wat aangemeld is oor die jare geleidelik afgeneem het.

Figuur 1: Aantal veediefstalsake wat sedert 2011/2012 gerapporteer is

Die syfers wat op 3 Maart 2017 aan die Portefeuljekomitee aangebied is, dui op ‘n styging van 2% vir die afgelope trimester. Daar is toenames in veediefstal in die Oos-Kaap en die Vrystaat met ongekende stygings in Noordwes, Mpumalanga en Gauteng. Die aantal sake in die Oos-Kaap en die Vrystaat is baie hoër as in die ander drie provinsies, dus is die omvang baie groter. Verder is dit ‘n algemene verskynsel dat die provinsies met die meeste sake aangemeld, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal is. Die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum voel dat navorsing in hierdie verband nie langer uitgestel kan word nie.

Misdaadstatistieke kan nie in ‘n vakuum beskou word nie, aangesien daar baie ander veranderlikes is wat in ag geneem moet word.

Wanneer misdaadstatistieke en spesifiek eiendomsmisdaad beskou word, is dit noodsaaklik om ‘n vergelyking te tref met die Slagoffers van Misdaad-opname wat jaarliks deur Stats SA vrygestel word. Die Slagoffers van Misdaad-opname is toevallig op 14 Februarie 2017 vrygestel. Die verskynsel dat ‘n groot aantal eiendomsmisdade nooit by die owerhede in Suid-Afrika aangemeld word nie, kan duidelik in Tabel 1 gesien word.

Jaar% Nie-aanmelding
201136,3
201240,1
201464,4
201567,7
201670,7

Tabel 1: Nie-aanmelding van veediefstal

Bronne: (Stats SA  2011), (Stats SA 2012) (Stats SA 2016)

Volgens die inligting in Tabel 1 is die nie-aanmelding van veediefstalsake sedert 2011 aan die styg en is dit besig om onaanvaarbare vlakke te bereik. Die feit dat die misdade nie aangemeld word nie, is ‘n aanduiding van die feit dat die gemeenskap sy vertroue in die hele strafregstelsel verloor het.

Die huidige statistieke van die SAPD en Stats SA met ‘n styging van 3% in nie-aanmelding en ‘n 2% styging in veediefstal, onderstreep die argument van leuns, vervlakste leuns en statistieke. Die saak sal tydens die volgende vergadering van die Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum bespreek word en daar sal na moontlike oplossings gekyk word.

Bron: Nasionale Veediefstalvoorkomingsforum           

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

grappe

Dom Boer se lag vir die dag:

Agri SA

Agri SA reageer ook op plaasveiligheiddebat in die Parlement