in

Misdaadstatistieke nie weerspieëling van mense se gevoel

This post is also available in: Afrikaans

“Die pas aangekondigde misdaadstatistieke deur die minister van Polisie weerspieël nie die gevoel van onveiligheid wat onder die boerderygemeenskap heers nie. Die vlaag plaasaanvalle en -moorde en veral die onlangs moorde in die Vaalharts-omgewing asook die hoë vlakke van eindomsverwante misdaad het daartoe gelei dat gemoedere bykans breekpunt bereik het.

Dit raak al moeiliker om gemoedere te bestuur en daar moet daarvan kennis geneem word. Hierdie en ander gevalle van geweld in die landbou wat die boerderygemeenskap asook mede-Suid-Afrikaners daagliks raak, word ten sterkste veroordeel,” sê Tommie Esterhuyse voorsitter van Agri SA se Sentrum van Uitnemendheid Landelike Veiligheid.

Die minister van Polisie, Bheki Cele het vanoggend die jongste nasionale misdaadstatistiek bekend gemaak. Dit is kommerwekkend dat daar volgens die polisie, 49 plaasmoorde gedurende die 2019/2020 finansiële jaar voorgekom het.

Dit is 49 moorde teveel en het die land ontneem van strategiese kundigheid op boerderygebied en armer gelaat aan kundigheid wat nou nodig is om ‘n bydrae te maak tot ekonomiese groei en voedselsekerheid. Volgens die statistiek wat vanoggend vrygestel is, het moorde in die algemeen sedert 2011/2012 toegeneem met 37%. Die 2019/2020 finansiële jaar se moordsyfer was 1,4 % hoër as die vorige jaar en dit beteken dat moorde in Suid-Afrika nou reeds agt jaar lank aan die toeneem is.

Ander opvallende statistiek wat bekendgemaak is, is dat twee van die sogenaamde trio-misdade naamlik, besigheidsrowe en motorkapings die afgelope jaar verder toegeneem het, onderskeidelik met 3,3% en 13,3%. Huisroof het weliswaar met 5,8 % teenoor die vorige jaar afgeneem maar is nog steeds 26% meer as wat dit in 2011/2012 was. Dit is veral hierdie tipe misdade waaraan die boerderygemeenskap daagliks aan blootgestel is en wat ‘n inbreuk maak op hulle lewenskwaliteit.

Daar moet erkenning gegee word aan die Vaalharts-gemeenskap wat gister onder baie moeilike omstandighede in solidariteit na die hof verrigtinge van die beskuldigdes opgeruk het. Sonder om in gewelddadige optrede betrokke te raak het hulle die land gewys hoe daar vreedsaam opgetree kan word om steeds jou stem duidelik te laat hoor sonder om te brand en te plunder. Die optrede is voorwaar ‘n les vir mede-Suid-Afrikaners.

“Agri SA ondersteun wetsgehoorsame optrede soos die. Ons vertrou dat die beskuldigdes by skuldig bevinding die swaarste moontlike strawwe opgelê sal word. Die mense hoort nie in die samelewing nie!” sê Esterhuyse.

Die Agri Securitas Trustfonds se werk oor die jare om boerderygemeenskappe te beveilig, is prysenswaardig en lewer reeds uitstekende resultate. Die afgelope tyd is finansiële bydraes aan verskeie boereverenigings gemaak waardeur boere en plaaswerkers se veiligheid verbeter kan word. In ‘n wetsgehoorsame samelewing is hierdie tipe veiligheid ondersteuning nie nodig nie.

Agri SA het reeds ‘n versoek tot die minister van Polisie gerig om dié veiligheid van die landbougemeenskap te bespreek in ‘n poging om oplossings vir die geweldskultuur in die boerderygebiede te vind. Agri SA sal voortgaan om op die veiligheidsterrein sy ledebelang te verteenwoordig. “Ons vertrou dat so ‘n afspraak binnekort sal plaasvind” sê Esterhuyse ten slotte. Navrae: Tommie Esterhuyse

Bron: Agri SA

What do you think?

0 points
Upvote Downvote

Total votes: 0

Upvotes: 0

Upvotes percentage: 0.000000%

Downvotes: 0

Downvotes percentage: 0.000000%

Jongste beperkings op jag hou bedreiging in vir menselewens en bewaring

Minister Didiza condemns Northern Cape farm murder